Slaan oor na hoofinhoud

Onder die Brug Hoofstuk 9, Wanneer die Waarheid Skeur

Onder die Brug Hoofstuk 9, Wanneer die Waarheid Skeur

deur RooiMier 


Elton sit doodstil. Nie ’n woord kom uit nie. Twee dinge moet hy verwerk: die verligting dat sy pa nie ’n verkragter was nie, en die verraad — dat sy vrou al jare lank met een van sy vriende geslaap het.


John besluit om hom ook in te lig oor Drew se dreigement. Maar voordat hy iets kan sê, hoor hulle ‘n geluid by die deur. Jolene staan daar — bleek, geskok. Sy sê niks. Sy draai net om en verdwyn gang-af. Elton staan op en stap kamer toe. John laat hom gaan. Hy kyk by die deur uit, maar Jolene is nêrens te sien nie. Hy sluit die deur. As sy nie ‘n sleutel het nie, sal sy sekerlik klop.


Hy gaan sit. Was dit die regte ding om te doen? Hy kyk na bo.


"Here, U moet maar onderneem."


Hy begin bid — ‘n lang, eerlike gebed. Tydens sy gebed hoor hy snikke. Later ‘n sagte stem:


“Dankie vir U genade, Here. Here, ek is stukkend… en tog ook verlig. Dankie vir die waarheid. Gee my krag om te vergewe.”


Dan raak dit stil.


John voel ’n mate van verligting, maar tog knaag die bekommernis. Wat gaan Drew doen? Was dit net leë dreigemente? Met daardie vrae in sy kop raak hy aan die slaap.



---


Die volgende oggend hoor hy vroeg die voordeur oopgaan. Jolene se voetstappe in die gang. Hy kies om eerder nog ’n rukkie te lê. Elton is ook nog nie op nie.


Teen negeuur staan hy op. In die kombuis hoor hy Jolene se driftige stem. Elton se antwoord is kalm. John wonder: Hoe gaan hierdie Sondag verloop?


Later kom Elton by hom in.


“Dankie, Oom,” is al wat hy sê.

“Ek gaan uit, en Jolene gaan na haar ma toe. Hier is geld — koop vir jou iets vir middagete. Ek sien jou later.”


Hy stap by die deur uit. Jolene volg kort daarna sonder ’n woord. Sy klim by hom in die kar. John vermoed hy gaan haar iewers aflaai.



---


Die volgende oggend verlaat Elton weer die huis — om homself aan te gee.



---


Twee maande later.


Die huis voel swaar. Stil. Ongemaklik.


Elton wag op sy verhoor. Jolene is bitter — sy voel hy moes nooit homself oorgegee het nie. En dan boonop het hy sy werk verloor.


Drew se familie versprei stories. Hulle sê vir almal John het hulle lewens verwoes. Hulle dreig die pastoor, sê hy moet kant kies. Maar die pastoor antwoord net:


“Ek staan aan die kant van geregtigheid en regverdigheid.”


Jolene maak dit ondraaglik vir John in die huis. Sy blameer hom vir alles. Hoewel dit lyk of Elton haar vergewe het, is daar steeds spanning. Dinge is… hak en tak.


John weet dis tyd om te gaan.


“Waar gaan Oom bly?” vra Elton een oggend.


John antwoord eenvoudig: “Ek sal ’n plan maak.”


Daardie oggend, voor sonop, pak hy sy sak. By die voordeur bedank hy Elton en Jolene. Elton druk geld in sy hand.


“Bel my as jy kan,” sê hy.


“Ek sal,” belowe John.


Verbeel hy hom... of lyk Jolene verlig?


Hy stap tot in Voortrekkerweg, en besluit om die eerste taxi Kaap toe te vat.


Wat hy daar gaan doen, weet hy nie.


Maar hy sal besluit as hy daar kom.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...