Onder die Brug Hoofstuk 5, Die Dag Toe Alles Stil Geword Het
deur RooiMier
Martin Adriaanse groet sy vrou, klim in sy Mercedes, sit die radio aan en ry werk toe. Sy vriend het die vorige aand die motor huis toe bestuur, daarom is hy nie verbaas toe hy hoor dis ingestel op 'n Christelike radiostasie nie. Hy en 'n vennoot het Johannesburg toe gevlieg en met die vennoot se motor lughawe toe gery. Gisteraand het dié hom huis toe gebring.
Die lied wat speel het Martin al dikwels gehoor. Sonder om regtig aan dit te dink, neurie hy saam: “I know the Lord will make a way, for me.”
Hy is gelukkig. Sy bankbalans is gesond. Hy het 'n liefdevolle gesin. Wat meer kan 'n man vra?
Sy persoonlike assistent is gewoonlik voor hom by die kantoor, maar vandag stap sy saam met hom in. Sy bied aan om koffie te maak voordat hulle die dag bespreek. Martin vra dat sy sy namiddagafsprake moet kanselleer — hy wil tyd saam met sy gesin deurbring. Die kinders sal dit waardeer; hy het immers die afgelope paar weke skaars by die huis gekom. Boonop is dit skoolvakansie.
Om 13:45 kom hy by die huis aan. Hy wil graag sy gesin Houtbaai toe neem vir vis en chips. Hy glo dat kinders die eenvoudige dinge in die lewe moet leer waardeer. Hoewel hulle in Welgemoed woon, kuier sy kinders gereeld by hul neefs en niggies in Kleinvlei, Forest Heights en Macassar. Hy ry wel 'n Mercedes, woon in 'n dubbelverdiepinghuis en besit 'n suksesvolle verspreidingsmaatskappy, maar hy leer sy kinders dat ware geluk nie in besittings lê nie, maar in verhoudinge.
Toe hy die huis binnekom, is almal opgewonde oor die gesinsuitstappie. Sy dogter, Sandra, is sestien. Die seuns, Leo en Craig, is onderskeidelik veertien en dertien. Soos met meeste tieners, irriteer die seuns hul suster soms, maar die band tussen hulle is sterk — amper ondeurbreekbaar.
Estelle, sy vrou, is 'n stil mens, maar diep gelowig. Sy vertrou volkome op die Here vir alles. Martin verwonder hom gereeld aan haar geloof. Hy beskou homself ook as 'n Christen, maar sy verhouding met God voel oppervlakkiger. Estelle glo alles wat hulle het, kom van God af. Martin glo dis sy eie harde werk wat hulle voorspoed gebring het.
Toe hulle van die huis af wegry, is dit Estelle wat hulle stilmaak en die Here se beskerming oor hulle vra vir die uitstappie.
Die weer is fantasties. Hulle geniet vis en chips vir middagete, stap 'n bietjie rond by die hawe, en dan stel Sandra voor dat hulle Long Beach toe gaan. Hulle ry oor Chapman's Peak. Die see is blougroen, glad — pragtig.
Martin ontdek toe dat hulle vooraf beplan het om op die strand uit te kom. Skielik het almal swembroeke en strandhandoeke — selfs vir hom is voorsiening gemaak. Wat 'n heerlike verrassing. Almal kan swem, en gou is hulle in die water.
Later lê Martin en Estelle saam op die sand. Hy vertel haar hoe lief hy haar het. So nou en dan steel hy 'n soentjie. Maar hulle is versigtig — die kinders sal dalk sê ou mense moet nie in die openbaar vry nie!
Teen 16:30 vertrek hulle huis toe. Uitgeput maar gelukkig. Leo gee sy pa 'n ligte klap op die rug: “Dankie vir die lekker middag, Pa.” Craig is meer aan die drukkie-kant — hy gee sy pa en ma elkeen 'n stewige drukkie. Sandra, altyd 'n bietjie meer privaat, sal haar drukkie maar by die huis gee. Asseblief tog nie in die openbaar nie!
Toe hulle Chapman's Peak bereik, sing hulle saam: “This little light of mine...” Die volgende oomblik pyl 'n Ferrari teen 'n hoë spoed reg op hulle af.
Martin skrik en ruk die stuurwiel na links. Die Ferrari tref die Mercedes hard teen die sy. Estelle gil, “Here, help!”
Skielik voel dit of hulle vlieg. Die laaste wat hy hoor is hoe die kinders gil. Toe — stilte.
Martin maak sy oë oop. Hy sien 'n lig bokant hom. Wat gaan aan? Waar is hy? Wie is hy?
Hy hoor 'n vrouestem skree: “Dokter, hy is wakker!”
Sy oë sak weer toe.
Die laaste woorde wat hy hoor is: “Dis al drie maande...”
Toe — duisternis.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking