Al Wiekker, Al Wakker – Rooi Mier
Onthou jy nog die aande –
die aande van samesyn,
die aande van ’n mamma en pappa,
en ook die aande van ’n boetie en sussie;
die vol magies boontjiesop,
toe botter weggesmelt het in warm, tuisgebakte brood.
Die aande van ’n kole-stoof se hitte,
die tyd toe sussie nog op pappa se skoot gesit het,
en boetie plat op die vloer, met sy kop op mamma se skoot.
Die aande van kopkrap oor hier kiep-kiep,
die vraagtekens oor daar kiep-kiep,
dan: woerts! in die hoekie,
toe “al wiekker, al wakker” nog ’n raaisel was;
die tyd toe nagtelike kloppe nie vrees ingeboesem het nie.
Daar kom toe die eenoogmonster –
hy breek familietyd op,
almal vasgevang in ’n fiktiewe wêreld van geweld en sedeloosheid.
Boetie en sussie loer deur hul vingers
na dit wat mamma sê hulle mag nie kyk nie.
Pappa vergeet die huisgodsdiens.
Hoekom is die sepies nou in mamma se gebedstyd?
Al wiekker, al wakker, dwars oor die akker —
die geboorte van klein monstertjies:
dit WhatsApp hier, dit Facebook daar.
Die wêreld het ’n woonbuurt geword;
van Joburg tot die Kaap kuier in my kamer hier in Putsonderwater.
Pappa sit op ’n rugbyveld in Nieu-Seeland,
reg in sy voorhuis.
Mamma lewer kommentaar op elke denkbare WhatsApp-groep.
Nou is ons toegekap agter tralies.
Ons is tronkvoëls, en die boewe is vry.
Verlaat jou huis en jy’s vermoor, verkrag, beroof.
Verlaat nie jou huis nie en jy word vermoor, verkrag en beroof —
sommer hier agter jou tralies en alarms.
Die samesyn is daarmee heen.
Ons ken mekaar net by die naam.
Al wiekker, al wakker, dwars oor die akker —
die dooie maak die lewendige wakker
Opmerkings
Plaas 'n opmerking