Slaan oor na hoofinhoud

Al Wiekker, Al Wakker

Al Wiekker, Al Wakker – Rooi Mier

(Nie ’n storie nie, nog minder ’n gedig; net gedagtes wat neergepen moes word.)
Onthou jy nog die aande –
die aande van samesyn,
die aande van ’n mamma en pappa,
en ook die aande van ’n boetie en sussie;
die vol magies boontjiesop,
toe botter weggesmelt het in warm, tuisgebakte brood.
Die aande van ’n kole-stoof se hitte,
die tyd toe sussie nog op pappa se skoot gesit het,
en boetie plat op die vloer, met sy kop op mamma se skoot.
Die aande van kopkrap oor hier kiep-kiep,
die vraagtekens oor daar kiep-kiep,
dan: woerts! in die hoekie,
toe “al wiekker, al wakker” nog ’n raaisel was;
die tyd toe nagtelike kloppe nie vrees ingeboesem het nie.
Daar kom toe die eenoogmonster –
hy breek familietyd op,
almal vasgevang in ’n fiktiewe wêreld van geweld en sedeloosheid.
Boetie en sussie loer deur hul vingers
na dit wat mamma sê hulle mag nie kyk nie.
Pappa vergeet die huisgodsdiens.
Hoekom is die sepies nou in mamma se gebedstyd?
Al wiekker, al wakker, dwars oor die akker —
die geboorte van klein monstertjies:
dit WhatsApp hier, dit Facebook daar.
Die wêreld het ’n woonbuurt geword;
van Joburg tot die Kaap kuier in my kamer hier in Putsonderwater.
Pappa sit op ’n rugbyveld in Nieu-Seeland,
reg in sy voorhuis.
Mamma lewer kommentaar op elke denkbare WhatsApp-groep.
Nou is ons toegekap agter tralies.
Ons is tronkvoëls, en die boewe is vry.
Verlaat jou huis en jy’s vermoor, verkrag, beroof.
Verlaat nie jou huis nie en jy word vermoor, verkrag en beroof —
sommer hier agter jou tralies en alarms.
Die samesyn is daarmee heen.
Ons ken mekaar net by die naam.
Al wiekker, al wakker, dwars oor die akker —
die dooie maak die lewendige wakker

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...