Die Verlore Seun – Rooi Mier
Hoofstuk 2
Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie.
Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop.
“Leah, ons het ’n probleem.”
“Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.”
“Nee, vrou. Dit is Josáfat.”
“Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?”
“Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.”
“Wat is sy probleem dié keer?”
“Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.”
“Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.”
“Nou wat gaan jy maak, my man?”
“Ek is nie seker nie, Leah. Wat sê jy?”
“Jy is die man, Absalom. Maak jy die besluit. As iemand hoor ek het dit gemaak, is jy môre ’n niks in hulle oë. Jy weet mos, ons vroue het nie ’n sê in die gemeenskap nie.”
“Dis nie so nie, my vrou. Die Skrifte leer dat die man die hoof van die huis is, maar dit beteken nie ek moet oor jou loop nie. Jy het ook ’n stem. Sonder jou raad sou ek al baie verkeerde besluite geneem het. Jy maan my altyd tot versigtigheid wanneer groot besluite gemaak moet word.
Abraham het ook na Sara geluister. Ek is die hoof, maar sonder my raadgewer kan ek nie lei nie.”
“Die vraag is: hoe lank sal hy sonder ons kan klaarkom? Hy is te gewoond daaraan om sy sin te kry. Daar buite sal hy sy eie pot moet krap. Miskien moet hy dié les leer.”
“Dit gaan egter oor meer as dit. Hy wil sy erfdeel hê. Ons albei weet hy is nie verantwoordelik nie.”
“My man, tot dusver het God ons nog nooit gefaal nie, en ek glo Hy sal ons ook dié keer nie faal nie. Ons moet bid vir leiding.”
“Reg so, my vrou. Kom ons doen dit sommer nou.”
Na die gebed raak hulle aan die slaap. Absalom is moeg. Al het hy slawe, verkies hy steeds om self betrokke te wees by die plaaswerk.
Josáfat hoor hulle bid.
Hulle dink seker hulle gaan my afskrik deur te sê God sê ek mag nie gaan nie, dink hy. Daar wag ’n verrassing vir hulle. Ek gaan.
In sy bed hoor Markus ook die gebed.
Wat wil Josáfat nou weer hê? dink hy. Hy bly ’n moeilikheidmaker.
Die volgende oggend is Josáfat vroeg op sy pa se spoor.
“Wat sê die Here, Pa? Kan ek gaan?” vra hy sarkasties.
“Jy sal maar moet wag tot Hy antwoord,” sê Absalom. “Moet jy nie al in die veld wees nie?”
“Pa het mos genoeg geld betaal vir die slawe. Hulle moet mos werk.”
“Here, gee my krag asseblief,” fluister Absalom. “Die kind gaan my laat sondig.”
Hy stap by die deur uit.
Markus is reeds in die veld.
“Shalom, Pa. Wat het Josáfat nou weer aangevang dat Pa so lyk?”
Absalom groet, maar antwoord nie.
Soos die dag vorder, sien Markus hoe bekommerd sy pa is. Met middagete bring een van die slawe sy ma se kos veld toe. Sy ouers stap weg en praat buite hoorafstand.
Markus raak onrustig. Wat het Josáfat gedoen om só ’n spanning te veroorsaak?
Ek wens soms hy was nie my broer nie, dink Markus. ’n Arrogante nikswerd wat dink die wêreld skuld hom iets. As ek Pa was, het ek hom lankal reggehelp. Hy sou teen dié tyd dood gewees het—hy kan niks self doen nie.
Na middagete kom Absalom na hom toe.
“Ek wil jou en Josáfat ná aandete sien.”
“Waar is hy vandag?”
“Wees jy maar net daar.”
Markus weet wanneer om stil te bly—en nou is dit daardie tyd.
By aandete heers daar ’n ongemaklike stilte. Gewoonlik word die dag bespreek en stories vertel, maar vanaand sê niemand ’n woord nie.
Na ete doen hulle hul Skriflesing en aandgebed. Almal behalwe Josáfat, wat daar sit asof hy nie deel van die gesin is nie.
“My familie,” begin Absalom, “ons staan vanaand by ’n kruispad. Ons gesin sal nooit weer dieselfde wees nie.
Markus, jy is nog in die duister. Josáfat, lig jou broer in. Praat, kind.”
Josáfat skuif selfversekerd reg.
“Ouboet, ek is nie van plan om my hele lewe soos joune te leef nie.”
“En hoe is my lewe?” vra Markus. “Respekvol? Fluks? Regverdig teenoor ons slawe?”
Josáfat val hom in die rede.
“Vervelig. Eenvoudig. Armsalig. Ek het vir Pa gesê ek wil weg. Ek wil die wêreld verken.”
Leah huil geluidloos. Net die trane verraai haar hart.
“Ma,” sê Josáfat sagter, “ek sal nou en dan kom inloer. Ek is net nie gemaak vir die plaaslewe nie. Laat my gaan. Moenie my hartseer maak nie. My besluit is geneem.”
“Pa kan jou sommer môre laat loop,” sê Markus. “Jy tree lankal op asof jy nie deel van die familie is nie.”
“Nie so vinnig nie, ouboet,” spot Josáfat. “Pa moet eers my erfdeel gee. Dink jy ek los dit vir jou?”
“Ek wil net nie hê jy moet Pa se geld gaan uitmors nie,” sê Markus. “Jy was nog nooit verantwoordelik nie.”
Josáfat lag sarkasties.
“Mans praat jy van? Is jy ’n man? Het jy al ooit ’n meisie gesoen? Nee, jy moet mos eers ’n huis kan bou. Pa het jou gekies—die witbroodjie.”
“Josáfat!” roep Absalom streng. “Jy praat nie so met jou broer nie. Het jy geen respek vir ons tradisies of vir ons as jou ouers nie? As jy ons nie respekteer nie, twyfel ek of jy eerbied het vir ons Vader in die hemel.”
Hy haal diep asem.
“Jou ma en ek het besluit: ons sal jou laat gaan. Ons sal aan albei van julle jul erfdele gee volgens die eersgeborenereg. Markus s’n sal groter wees.”
“Sien! Julle tradisies is onregverdig,” snou Josáfat.
“Bly stil,” waarsku Absalom. “Nog ’n woord en jy loop met leë hande hier uit.
Môre begin ons jou deel uitwerk. Jou vee word afgesonder. Jou graanveld kan jy verkoop—aan my of aan Markus teen markwaarde. Jou geld kry jy die dag wat jy vertrek. Ek sal slawe aan jou toeken, ’n wa, osse en dalk ’n perd of twee.
Dit sal tyd vat, maar daarna is die wêreld joune. Jy sal regverdig behandel word.”
“Pa,” sê Markus onseker, “is u seker? Hy gaan alles opmors.”
“My seun,” antwoord Absalom sag, “dit sal syne wees om op te mors. Ek het klaar gepraat. Kom, Leah. Kom ons gaan slaap.”
Word vervolg
Lukas 15:12b
En hy het die goed tussen hulle verdeel.
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking