Die Verlore Seun
Hoofstuk 9– Rooi Mier
Dit is glad nie 'n maklike reis nie. Josáfat het vir twee volle dae niks gehad om te eet nie en die water wat hy moes drink was vuil.
Nou is hy op reis met geen voedsel en 'n kruikie vuil water.
"Here, as dit U wil is, help my om veilig tuis te kom."
Hy visualiseer sy eindbestemming. Dit dryf hom voort. Aan die einde van die dag het hy geen idee van hoe ver hy gereis het, hoe ver hy nog moes reis en of hy nog op koers is nie. Soos met die Isrealiete van ouds, kom daar twyfel in sy hart.
"Moes ek nie maar by die varkkraal gebly het nie? Was dit nie 'n veiliger opsie nie?"
Hy beur egter voort maar die wilskrag is nie meer dieselfde nie.
Terwyl hy so loop kom daar 'n gedagte by hom op.
"As hy gereeld sy kos en skoon water gekry het by die varkkraal, sou sy trots hom toelaat het om te erken dat hy fouteer het?"
Hy kom tot die slotsom dat dit hom dalk langer sou neem maar hy weet lankal dat hy verkeerd en selfsugtig gehandel het.
Sy pa het altyd gesê dat elke mens weet wanneer hy verkeerde besluite gemaak het maar dit kan nie reggestel word voordat jy dit nie openlik aan jouself bely nie. Eers dan kan jy erken dat jy hulp nodig het.
Hy besef dat die keerpunt gisteraand was toe die hongerpyne so knaag. Hy kan net homself blameer. Alles wat hy deurgemaak het was as gevolg van een verkeerde besluit.
Dit het ook nie die dag toe hy besluit het om sy erfenis te vra nie maar lank terug toe hy besluit het hy verdien beter.
Daarna het die een verkeerde besluit op die ander gevolg. Van hoe hy die huurlinge behandel het nog voordat hy besluit om weg te trek tot sy sedelose lewe wat daartoe gelei het dat hy alles verloor.
"Hoekom bly pa hoop dat daai jong terug gaan kom? Hy het dit tog duidelik gemaak dat hy nie hier hoort nie. Vergeet nou van hom, hy het sy bed opgemaak nou is dit slapenstyd vir hom.
Pa gaan agteruit en verouder by die dag van bekommernis oor hom.
Moenie eers praat van ma nie. Sy sit amper elke dag op dieselfde plek met naaldwerk wat nooit klaarkry nie. Met elke stofwolkie spring sy op om te kyk.
Ek is hier! Ek kyk na pa en ma."
"Markus my kind, jy sal dit nooit verstaan voordat jy nie 'n ouer is nie. Al het jou ook die grootste sonde begaan hoop jy maar altyd dat daar 'n positiewe uitkoms gaan wees.
Ek gaan bly kyk totdat ek hoor hy is nie meer met ons nie of totdat ek self sterf."
Absalom kyk nog 'n laaste keer vir 'n stofwolkie voordat hy die gesprek in 'n ander rigting stuur.
"Dit is nie meer lank nie dan is ons voorbereiding klaar. Dan kan jy jou bruid gaan haal."
"Ek is al ongeduldig pa. Het pa nie 'n datum vir my nie."
"Nee, my seun. Ek sal jou stuur die dag dat ek weet alles is gereed. Wees jy maar net gereed."
Absalom, wat nie meer die krag het om heeldag in die veld op sy landerye te wees nie los vir Markus om aan te gaan met sy werk en stap huistoe.
Hy sien vir Leah op die stoep sit met naaldwerk in die hand. Sy werk egter nie een steek nie. Haar kop is gedraai in die rigting waarheen Josáfat destyds verdwyn het. Hy kry sy vrou so jammer.
"Ek kry so swaar, hoeveel te meer my vrou? Sy het immers ons seun vir nege maande onder haar hart gedra."
Soms sien hy hoe sy geluidloos huil. Net 'n traan wat oor haar wange loop.
Alhoewel ons bediendes het, het sy altyd gesorg dat sy self aandete vir haar man voorberei en dat sy klere netjies is.
Deesdae moet die bediendes dit al hoe meer doen.
Absalom besluit om nie by die huis aan te gaan nie. Hy stap verby en gaan sit onder 'n boom 'n entjie van die huis af.
"Here, waar Josáfat hom ook al bevind, wil U hom bewaar en hom veilig hou? Ag Vader, wil U hom nie maar huistoe bring nie asseblief?"
Hoeveel keer het hy al hier gesit en uitkyk of sy seun nie dalk berou gekry het en terugkom huistoe nie.
Hy merk 'n beweging in die vêrte. Dit was maar seker sy verbeelding want daar is nou niks nie.
Josáfat voel vandag sterker maar nogtans uitgeput en kan net vir kort entjies loop.
Gister het hy gedink hy gaan sterf. Hy was verskriklik dors en honger en het onder 'n boom gelê.
"Ja Here, as dit my lot is dat ek moet sterf asgevolg van my sonde, aanvaar ek dit nou."
Na vele dae op pad, (Josáfat weet nie meer hoeveel nie), het hy ook sy vrees dat hy dalk 'n prooi van 'n wilde dier kon word verloor.
Die afgelope paar dae was daar konstant 'n aasvoël naby. Dié wag seker vir hom om om te kom van honger of dors.
Hy moes aan die slaap geval het want toe hy wakker geword het, het hy in 'n paar bruin oë vasgekyk wat ondersoekend na hom gekyk het.
"Dankie tog dat jy nog lewe. Ek was nie seker nie en wou dit nie waag om aan jou te vat nie. Dit sou beteken dat ek vir sewe dae onrein sou wees. (Num 31:19) Hoekom lê jy hier?"
"Ek is honger en dors. Het jy nie iets vir my om te eet nie asseblief."
Die vreemdeling het in sy sak gekrap en brood en vleis uitgehaal.
"Jy kan ook dié fles met water kry. Ek het nog een en my reis is net bietjie meer as 'n halfdag ver."
Die vreemdeling het gekyk hoe Josáfat 'n groot sluk water drink.
"Stadig, jy moet klein slukkies op 'n slag neem. Jy het my nog nie vertel waarheen jy op pad is nie."
Josáfat was besig om 'n aan 'n stukkie vleis te kou. Vleis het nog nooit só lekker geproe nie. Sy oë was toe terwyl hy kou. Nadat hy die eerste happie afgesluk het, het hy begin om sy verhaal aan die vreemdeling vertel.
Nou sit hy weer onder 'n ander boom. Sy klere is vuil, stukkend en hopeloos te groot vir sy maer liggaam. Hy kyk na sy kaal voete; dit is vuil en skurf.
"Dit is seker 'n bonus dat ek nou al so gewoond geword het aan my eie stink reuk dat dit my nie meer pla nie."
Hy is dankbaar dat die vreemdeling hom gister gevind het. Nie net het die vreemdeling hom van kos en water voorsien nie, maar hy was ook die eerste persoon uit sy land en streek wat hy na maande sien.
Hy kon ook vir hom daarop wys dat sy meer wes moes reis. Nou sit hy onder 'n boom wat vir hom bekend lyk. Hy kyk op en sien 'n opstal in die verte.
Skielik staan hy so vinnig op as wat hy kan. Dit lyk nie net bekend nie, dit is sy huis. Hy vergeet van die kos en water wat langs hom op die grond was en begin huiswaarts te strompel.
In sy haas strompel hy oor 'n boomstomp en val.
Absalom wil net omdraai en huistoe stap toe hy weer 'n beweging sien. Dit lyk soos iemand wat opstaan van die grond af maar dit is nog ver.
Die persoon is uiteindelik regop en begin in sy rigting te strompel.
Absalom bly staan en kyk. Daar is iets bekend aan die figuur.
Hy kyk en vryf sy oë om seker te maak hy sien reg.
"Is dit regtig waar? Bedrieg my oë my?"
Sy hart begin vinniger te klop en nou gallop dit.
"Josáfat, my seun Josáfat. Dit is regtig jy!"
Hy begin eers stadig en dan al vinniger te stap.
"Ek moet my seun tegemoet gaan."
Absalom sien hoe hy sy seun weer struikel. Hy begin hardloop om hom tegemoet te gaan.
Josáfat sukkel weer regop. Absalom se hart ruk toe hy besef in watter toestand sy kind is. Hy gaan staan 'n oomblik.
Trane begin oor sy wange te vloei.
Hy stap die laaste tree tot by hom. Val hom om die hals en omhels hom styf terwyl hy hom oral op sy gesig soen.
Word Vervolg
***
Luk 15:20b En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en *gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.
Soos hierdie Vader wag ons Hemelse Vader ook op ons wanneer ons afgedwaal het.
Wanneer ons verniel uiteindelik ontsnap uit satan se hande wag Hy ons in met ope arms en hope medelye.
[Die Joodse huwelike van ouds herinner mens aan Jesus wat eers moes opvaar na die hemel om vir Sy bruid 'n plek te gaan voorberei. Hy self weet ook nie die datum wanneer Sy Vader hom gaan stuur om Sy bruid te kom haal nie.
(Joh 14: 2, 3; Mat 24:36)
Dit vereis dat ons altyd gereed moet wees en nie soos die onverstandige maagde onverhoeds betrap word nie.]
#VerloreSeun
©Rooi Mier 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking