Die Verlore Seun
Hoofstuk 6 – Rooi Mier
Markus is vroeg op, soos gewoonlik. Hy sal harder moet werk. Absalom, sy pa, het juis gisteraand begin skimp dat hulle ’n huis vir sy bruid sal moet begin bou. Markus weet sy pa begin dink dat dit binnekort tyd is dat hy sy bruid moet gaan haal.
Terwyl hy in die landerye werk, dink hy aan hul tradisies. Baie van die jongmanne in die streek wil hê dat die tradisies – of ten minste sekere gedeeltes daarvan – afgeskaf moet word, maar vir hom is dit perfek. Hy sal altyd aan sy tradisies wil vashou.
Sy gedagtes gaan terug na die dag van die onderhandelinge, nou al drie jaar gelede. Die moeilikste oomblik vir hom was toe hy ’n glasie wyn — wat eintlik net vars uitgedrukte druiwesap was — aan sy bruid aangebied het. As sy die glasie sou weier, sou dit beteken dat sy nie met hom wou trou nie. Dit was ’n senutergende oomblik. Groot was sy verligting toe sy dit neem en drink. Op daardie oomblik het sy werklik sy bruid geword.
Met hulle terugreis het hy geweet hy wil vir ewig saam met haar wees, al was dit hul eerste ontmoeting. Dit was ook die laaste keer dat hy haar gesien het. Nou is hy besig met die volgende fase: voorbereiding. ’n Groot deel daarvan is om vir haar ’n plek voor te berei — onder andere ’n huis — voordat hy haar kan gaan haal.
Wanneer hy haar mag gaan haal, hang egter van sy pa af. Absalom het die laaste sê. Intussen moet sy getrou bly en wag, want sy wil nie onverhoeds betrap word nie. Hoe lief het hy nie sy bruid nie.
Sy gedagtes dwaal na sy jonger broer. Hy mis hom, maar eintlik wil hy hom nie terug by die huis hê nie. Tog, toe hy stof in die verte sien opslaan uit ’n naderende trek — uit die rigting waarvandaan Josáfat moes kom — voel hy vir ’n oomblik ’n sweempie opgewondenheid. Hy weet egter sy pa sal hom waarskynlik vergewe, en daardie gedagte kan hy nie verdra nie.
Leah sit op die stoep met haar naaldwerk. Sy maak klere vir haar man. Sy is die bobaas-naaldwerkster in die kontrei, en ander vroue bewonder haar handewerk. Haar man staan altyd uit tussen die ander wanneer hulle ’n sosiale geleentheid bywoon. Mense dink onwillekeurig aan die skrifwoord in Spreuke:
“Haar man is bekend in die poorte, as hy saam met die oudstes van die land sit.”
Vanoggend is haar kop egter op ’n ander plek. Wat maak Josáfat? Waar bevind hy hom? As sy tog maar net nuus kan kry dat iemand hom iewers gesien het. Tog twyfel sy nie daaraan dat hy nog lewe nie — haar moederhart sou weet as dit anders was.
Sy kyk op en sien stof aankom. Dit is nie stof wat waai nie, maar stof wat opslaan uit ’n trek. Haar hart begin vinniger klop.
Absalom is vanoggend by een van die krale waar Markus se skape is. Hy doen ’n opname; dit is belangrik dat sy seun se bruid nie gebrek ly nie. Hy is besig om die laaste paar lammers te tel toe hy die stof in die verte sien. Opgewondenheid roer in hom. Is dit dalk Josáfat wat tot sy sinne gekom het?
Die stof kom nader. Markus het opgehou werk. Die huis is tussen hom en die naderende trek. Hy beweeg nader, maar neem hom voor om buite sig te bly. As dit Josáfat is, wil hy nie betrap word dat hy dalk as besorgd geïnterpreteer word nie.
Leah het ook opgehou met haar naaldwerk. Is dit Josáfat, of gaan sy weer teleurgestel word soos soveel ander kere? Tog bly sy hoopvol — die stof kom uit die rigting waarheen haar seun verdwyn het. Skielik besef sy dat die uitrusting wat sy vir haar man gemaak het, eintlik vir Josáfat sou pas soos hy gelyk het die dag toe hy weg is. Onbewustelik het sy klere vir haar jongste gemaak.
Absalom het ook opgehou werk. Die trek is nader aan hom as aan die ander twee, maar hy besluit om eerder by die huis te gaan wag. Hy wil nie trane stort voor Josáfat se gevolg — as dit hy is — nie. Hy weet hy sal huil. In sy samelewing word mans wat huil as swakkelinge beskou. Dit sal waarskynlik nog tussen drie-kwartier en ’n uur neem voordat die trek by die huis aankom. Hy sal dit saam met Leah afwag.
Na veertig minute is die trek naby genoeg om te identifiseer — as daar net minder stof was. ’n Minuut of twee later gaan sit Leah.
“Dit is handelaars, Leah,” sê Absalom. Die teleurstelling is duidelik in sy stem.
“Ja, ek sien so, my man.”
Sy roep haar diensmeisies om van die kledingstukke wat sy wil verkoop uit die stoor te gaan haal. Sy probeer haar teleurstelling wegsteek. Sy vra vir Absalom of sy eers haar items kan afhandel voordat hy sy velle en graan probeer verkoop. Daarna kan sy iets te ete voorberei vir die handelaars.
Nadat die transaksies afgehandel is, laat sy die diensmeisies die handelaars bedien terwyl sy naby staan. Absalom sit saam met die manne en begin hulle uitvra oor die streke waarvandaan hulle kom. Hulle vertel dat hulle veel langer as gewoonlik moes trek omdat hulle ’n groot draai moes maak om ’n streek met ’n erge droogte te vermy. Ander handelaars wat daardie gebied binnegegaan het, is glo van al hul besittings beroof.
Een van die handelaars vertel van ’n jong man wat glo voorheen ’n slaaf was. Hy het ontsnap omdat sy heer hom en sy pa wreed behandel het. Sy pa het gesterf weens beserings, en hy het alleen oorgebly. Sy heer het glo drie jaar gelede sy pa se woning verlaat en is nou in die gebied wat deur droogte geteister word. Dit gaan sleg met hom; hy het alles verloor.
Die jong man was bereid om homself weer as slaaf te laat verkoop, maar toe hy hoor dat die handelaars in hierdie rigting trek, het sy houding verander. Een oggend het hulle ontdek dat hy weg is — hy moes in die nag gevlug het.
Leah weet onmiddellik dat hulle van Josáfat praat. Haar bekommernis word swaarder. Hoe oorleef hy as hy alles verloor het? Waarom kom hy nie net huis toe nie? Sy weet sy sal vanaand nie ’n oog toemaak nie.
Josáfat is honger en dors. Hy het te voet van sy laer — of liewer wat daarvan oor is — na die stad gestap. As hy net êrens iets kan kry om te eet.
“Josáfat, jou pa sal jou tog nie verwerp nie. Gaan huis toe!” fluister ’n stemmetjie in hom.
Maar hy weier om te luister. Dinge sal beter word. Hy sal bo uitkom. Hoe kan hy nou aan Markus erken dat hy misluk het in sy poging om ’n lewe in die vreemde te bou?
“Nee, stemmetjie. Ek bly hier.”
Sy pa sou gesê het dit is die Heilige Gees. Josáfat glo egter nie aan geeste nie. Hoekom praat God dan nie self met hom nie? Dan sou hy ten minste weet dat die Almagtige, soos hulle Hom noem, vir hom omgee. Waarom laat Hy mense so ly? Is Hy nie kamstig ’n God van liefde nie?
Josáfat dwaal doelloos deur die stad. Die mense het net genoeg vir hulself. Sy sogenaamde vriende is nie een bereid om hom te help nie. Hy stap maar aan.
Verder af in die straat sien hy ’n perdekar — deesdae ’n rare verskynsel. Dit moet goed gaan met iemand wat nog perde kan onderhou. Dalk ’n ryk boer met genoeg water op sy plaas.
Hy stap na die wa toe. ’n Man kom uit ’n huis in die rigting van die perdekar. Josáfat haas hom om die man te bereik.
“Meneer, het u dalk iets vir my om te eet? Ek is baie honger.”
“Dink jy ek kan elke Jan Rap en sy maat voed wat bedel? Julle moet leer dat niks verniet is nie. Ek het hard gewerk vir wat ek het, en jy wil net kom eet?”
Josáfat het nog nooit werklik geglo daaraan om te werk vir wat hy wil hê nie. Selfs by sy ouerhuis het hy teen daardie beginsel gerebelleer. Soms het hy botweg geweier om te werk en tog gekry wat hy wou hê.
Maar nou besef hy hy het geen keuse nie.
“Het u nie dalk iets vir my om te doen nie?”
“Spring agter op die wa met die osse. Sê vir die mense daar ek het jou gestuur.
En nog iets — ek is nie jou meneer nie. Spreek my aan as My Heer.
Jy kan varke gaan oppas.”
Word vervolg
Lukas 15:15
“Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg, en dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas.”
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking