Die Verlore Seun
Hoofstuk 5 – Rooi Mier
Markus is vroeg op, soos gewoonlik. Nadat hy sy span aan die werk gesit het, staan en dink hy aan sy naderende troudag. Die probleem is net: hy weet nie wanneer hy sy bruid moet gaan haal nie. Volgens hulle kultuur moet sy onder andere besluit wanneer hy moet gaan. Intussen moet hy maar aanhou werk en voorberei vir die onbekende dag.
Hy dink ook aan Josáfat. Wat maak hy?
Sy onverantwoordelikheid gaan Markus se verstand te bowe. Vir hom is dit verregaande dat ’n mens so ongehoorsaam aan jou vader kan wees, en dat daardie einste vader steeds daagliks oor die horison kyk of hy hom nie dalk sien aankom nie.
Pappa Absalom gee hopeloos te veel genade. Hoekom skryf hy nie net die kind af en kry klaar nie? Dit is immers duidelik vir almal dat Josáfat nie gaan terugkom nie—ten minste nie terwyl hy nog enigiets oor het nie.
Soms wens Markus dat hulle albei weer klein was. Alhoewel Josáfat reeds toe tekens van selfsug gewys het en duidelik nie baie erg gehad het aan hulle godsdienstige en kulturele leringe nie, was dit tog lekker om ’n kleiner boetie te hê om mee te speel.
“Luiaard, gaan na die mier en word wys.”
Markus praat met homself. Hy is glad nie lus vir werk vanoggend nie, maar hy sal nooit, ooit slap lê nie. Die dag wat hy nie sy kant bring nie, moet jy weet hy is ernstig siek. Die enigste rusdag wat hy ken, is die Sabbat. Van Sondagoggende tot Vrydagnamiddae is hy besig.
“Werk, Markus, werk—en berei voor vir die dag wanneer jy jou bruid gaan haal.”
Josáfat raak wakker. Die son staan al hoog. Hy kyk rond en sien die twee vroue wat by hom in die bed lê. Hulle slaap nog. Vir ’n oomblik flits daar ’n skuldgevoel deur hom. Is dit regtig wie ek is?
Hy trek hom aan en maak die vroue wakker. Vanoggend walg hulle hom. Hy betaal hulle en vra hulle om te gaan.
Skielik verlang hy na ’n eenvoudiger lewe.
“Josáfat, wil jy nou regtig so ’n vervelige lewe lei? Jy is mos gemaak om ’n bietjie wild te wees. Hoe gaan dit in elk geval lyk as jy druipstert by die huis aankom? Hulle gaan vir jou lag.”
Hy kyk rond, want hy dink regtig hy hoor ’n stem. Daar is niemand nie. Hy slaak ’n sug van verligting. Hier is niemand anders nie. Miskien moet hy maar ontbyt bestel.
Hy roep na die slavinne, maar niemand antwoord nie. Vandag is die dag wat hy hulle die les van hulle lewe gaan leer. Hy roep weer—steeds geen reaksie nie.
“As ek vandag weer my slavinne by daardie spul wat saam met my trek vir my geld se tent kry, is daar moeilikheid. Ek gaan hulle die ergste straf moontlik laat toedien.”
Hy besluit om self te gaan kyk. Die manne slaap nog hulle roes af, maar daar is geen teken van die slavinne nie. Hy oorweeg dit om die manne weg te jaag, maar dan gaan sy lewe maar eensaam wees.
Dit moet sy finale staanplek wees—die perfekte plaas vir hom, sy gevolg en sy vee. Hy roep na Isak, die ou man wat ook die hoof van die slawe is. Niemand kom nader nie. Wat gaan vanoggend aan? Is almal dan by die vee? Hier is nie eens iemand om sy perd op te saal nie. Hy sal dit maar self moet doen.
Josáfat is briesend. Hoekom moet almal by die vee wees? Die twee manne wat daarvoor verantwoordelik is, is mos genoeg.
Hy saal die perd op en ry die veld in. Hy kry die twee herders, maar hulle is alleen. Die res van die slawe is nie daar nie.
Na ’n vreeslike vloekery hoor hy dat die manne vermoed die ander is ook weg. Hy het met vyftien begin; nou is daar slegs twee oor. Hoekom vlug hulle van hom af? Behalwe vir die twee wat gesterf het weens die erge straf wat hy toegedien het toe vee weggeraak het, is daar nou elf weg.
Josáfat glo regtig hulle sal nog terugkom. Dan sal hy hulle eers behoorlik straf voordat hy hulle weer in diens neem. Hulle sal dankbaar wees—waar anders gaan hulle slaapplek en kos kry?
Hy merk dat die vee baie minder lyk as wat hy onthou, maar hy is te kwaad om navraag te doen. Die res is seker in ’n ander kamp. Hy beveel een van die manne om diens by sy tent oor te neem.
Nadat hy gewas en aangetrek het, gaan hy stad toe. Miskien kan hy mense huur om tydelik die werk van die slawe oor te neem.
Met sy vertrek is al sy sogenaamde vriende daar—op perde en perdekarre. Hulle gaan saam stad toe. Skielik het almal inkopielyste. Hy ken die dril: niemand het geld nie, en hy sal maar moet uithaal en wys.
Hoe gaan hy van hulle ontslae raak sonder om hulle “vriendskap” te verloor?
Terwyl hulle ry, merk hy hoe droog die veld lyk. Volgens die plaaslikes het dit min gereën, maar die reënseisoen is om die draai. Binnekort sal alles weer groen wees. Hy moet net ’n paar bale lusern koop. Dit behoort binne ’n week of twee te begin reën.
Die volgende oggend wag daar nóg ’n verrassing. Die laaste twee slawe is weg. Nou moet hy dringend arbeid aanskaf. Dit het nie die vorige dag gebeur nie—hy het te lekker gekuier. Nou is dit net hy en sy bloedsuier-vriende.
Josáfat verval in ’n roetine van kuier en verkwisting. Hy betaal vir die drank, die kos, en selfs vir die gunsies wat sy vriende by die vroue van die nag ontvang.
Hy besef nie dat sy vee begin vrek in hulle kampe nie—dié wat nie reeds gesteel of geslag is nie.
Die reën bly weg. Sy geld raak minder. Die reën bly weg. Die grond verpoeier tot stof—en steeds bly die reën weg.
Op ’n dag ry hy die veld in om te kyk of daar nog vee is om te red.
Hy vind net karkasse. Aasvoëls en jakkalse vreet aan die laaste stukkies vrot vleis. Die lug bly blou—want die reën bly weg.
Hy het niemand meer om sy kamp te bewaak nie. Sy trekosse sterf. Die laaste perd val neer nadat hy weer uit die stad teruggekeer het. Die volgende dag kon dit nie weer opstaan nie.
As hy maar net, soos ’n Elia van ouds, ’n handgrote wolkie op die horison kon sien—dan sou hy weet daar is nog hoop. Maar die hoop beskaam hom. Die reën bly weg.
Die streek beleef sy ergste droogte ooit.
Josáfat begin wonder of God Sy rug op die mense van die streek gedraai het. Is dit dalk as gevolg van sy teenwoordigheid?
Dan gebeur die ergste. Een oggend storm ’n klompie mense sy kamp—of wat daarvan oor is. Hulle vat alles wat nog enige waarde het, insluitend die bietjie meel en olie wat oorgebly het. Sy laaste stukkies gedroogde vleis is reeds gister opgeëet.
Hulle trek die laaste water uit die enigste put wat nog ’n bietjie gehad het.
Josáfat is kwaad—vir God, en vir sy ouers wat toegelaat het dat hy wegtrek.
Soos ’n Job van ouds skeur hy sy klere en gaan sit op ’n hopie. Wat nou? Al sy besittings is weg. Hy het niks meer nie—behalwe die klere aan sy lyf.
Sy mooiweersvriende is saam met die stropers weg. Die vroue van die nag het verdwyn. Daar is nie meer geld nie.
Hoe verlang hy nou na sy ma se kos. Selfs sy pa se bevele sou nou welkom wees.
Die honger begin knaag. Gelukkig het hy nog ’n klein vat water wat die stropers gemis het.
Hy begin krap tussen die gemors. Hier is nog ’n stukkie gedroogde vleis. Hy wil daaraan byt, maar besef hy sal baie water moet drink—dit is bitter sout. Die sout het gehelp om die vleis te bewaar.
Hy moet wegkom hiervandaan.
Miskien is daar nog hoop—in die stad.
Word vervolg
Lukas 15:14
En toe hy alles deurgebring het, kom daar ’n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly.
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking