Eendag!! – Rooimier
Eendag lank gelede was daar ’n Man.
Hy was genoem die Woord.
Die Woord deur wie die aarde se woestheid en leegheid tot orde geroep is.
“Laat daar lig wees.”
Die Woord deur wie die hemelruim gevul is met son en maan.
Die Woord deur wie plant en dier tot stand gekom het.
Op die sesde dag het hierdie Woord egter stil geraak.
Hy het afgebuk en my gevorm met Sy hande —
vir my, vir wie Hy vyf dae lank ’n plek om te leef voorberei het.
Hy het my aangestel as heerser oor Sy skepping.
Dankie, Skepper van hemel en aarde en alles wat daarop leef.
Dankie, Formeerder van liggaam en Lewegewende Asem.
U het my ’n lewende siel gemaak — ’n mens.
Eendag lank gelede was daar ’n Man gewees.
Hy was Verlosser genoem.
Hierdie Man het gesien hoe ek eet van die verbode vrug.
Om my te beskerm, moes Hy my uit die tuin verban.
As ek daar gebly het, sou die slang my ook van die boom van die lewe laat eet het.
Sou ek, sondaar, dan vir ewig gelewe het —
ewig met sonde op sonde?
Hy moes onder die mens kom woon om my sonde op Hom te neem.
Sy bloed het teen ’n kruis afgevloei sodat ek nie die loon van die sonde hoef te ontvang nie.
Hy het my Verlosser geword.
Ek is vry — vry; Christus maak my vry.
Ek is verlos deur die bloed van die Lam.
Nou wag ek saam met die kerk van God.
Was ek nie hartseer toe Hy my moes agterlaat op hierdie gebroke aarde nie —
hierdie wrede wêreld waar ek gedurig moet veg teen die owerhede en magte in die lug?
Die bose wat ek nie met swaard en spies kan doodmaak nie,
want hulle is geeste — bose geeste.
Ek voel soms moeg, maar die wedloop moet aangaan.
Eendag sal daar ’n Man wees.
Hy sal kom om my te kom haal,
as ek volhard tot die einde.
Hoe groot sal die herontmoeting wees.
Ek troos my elke dag daaraan dat Hy my nie alleen agtergelaat het nie.
Is my oorblywende wedloop ’n halfmarathon of ’n Comrades?
Dankie, Vertrooster, vir die saam hardloop,
vir die verversings en water by die punte.
Soms wil ek opgee, maar U laat dit nie toe nie.
U herinner my deurentyd daaraan:
Eendag sal daar ’n Man wees wat my sal kom haal.
Soms wens ek die wag was klaar, maar ek probeer om nie selfsugtig te wees nie.
Daar is nog verlore skape wat moet kraal toe kom.
Vertroos my met die woorde:
Eendag sal daar ’n Man wees wat my sal kom haal.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking