Een dag na ses dae.
Rooi Mier
Versigtig loer die son oor die berg. Daar heers 'n opgewondenheid want dit is lente en die blomme pronk in hul helder kleed oor 'n landskap wat eens dor was en verlate gevoel het. Die son glimlag en steek sy vingers uit om die reenboogkleurige veld te streel. Sy goue aanraking laat die doudruppels glinster soos diamante.
Die lied van die voëls vul die fris lentelug; melodiëus, tog eie aan elke verskillende spesie. Sommige baljaar omdat hulle hul daaglikse brood gevind het terwyl sommige mannetjies liefdesliedjies fluister. Die miere vind hul weg in militêre orde oor klippe en blare en sand en alles wat die natuur in hul pad neerlê. Elkeen gaan getrou en onverstoord aan met die taak voor hande.
Die wind blaas saggies en speels oor die blare. Op hul beurt wals die blare op die maat van 'n onhoorbare blaasorkes. 'n Meerkat staan op wag op 'n rots terwyl sy familie skarrel oor die veld; soekend na hul daaglikse brood. Die son se glimlag is breed terwyl hy nou openlik agter die berg in die ooste uitkom en goedkeurend wes kyk oor die wye velde en heuwels. In die verte bad 'n trop olifante in die modder, 'n leeumannetjie kondig sy koningskap aan, 'n hiëna lag net omdat dit lekker is om te lag, 'n seekoei kies koers na sy watergat toe en 'n krokodil skuif luiweg uit sy pad. Bye drink soete nektaar.
Dit is die sesde dag. Vandag gaan God die kroon van Sy skepping maak. Hierdie Adam gaan in beheer wees. Die wêreld was vir hom voorberei; alles is in plek. Dit is asof die hele natuur sy asem ophou terwyl God se hande die klei vorm. Sy hande weef selletjies en aartjies, dna en bloed, longe en niere, 'n hart wat nooit stilstaan en breinweefsel, arms en bene, o ja, die ribbes word sorgvuldig gevorm want daaruit moet 'n maat gevorm word. Hierdie Adam was na Sy beeld geskape; na die beeld van God is hulle geskape; man en vrou, Adam en Eva.
God seën hulle en salf hulle as heersers oor Sy skepping. Al wat nou oorbly is om te rus. Die sewende dag breek aan. God seën hierdie dag. God heilig die dag. Hy rig díe dag op as 'n gedenksteken; 'n herdenking van Sy skepping.
Hoekom glimlag daar 'n slang in die paradys? Mens, die dag is vir jou gemaak, nie jy vir die dag nie. Wat God gemaak het is ewig vas. Hy verander nie. Hy is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking