Slaan oor na hoofinhoud

#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 2 – Rooi Mier

#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 2 – Rooi Mier

Die Maandagoggend is hy vroeg op pad skool toe. Sy naweek was glad nie lekker nie. Hy het ook tot ’n besef gekom dat hy nie net Juffrou Muller bewonder nie; hy het diep gevoelens vir haar.
Al die leerders beweeg na die saal toe die klok lui. Dit is die Maandagoggendbyeenkoms.
Na skriflesing en gebed deur Mnr Jacobs, gaan staan Mnr Solomons, die skoolhoof, agter die mikrofoon. Nadat hy die gewone gesê het oor samewerking tussen onderwysers en leerders, kondig hy aan dat Juffrou Muller nie die week by die skool gaan wees nie. Haar ma het skielik Vrydag afgesterf. Die begrafnis sal Donderdag wees, maar net ’n onderwyser of twee gaan dit bywoon ter ondersteuning. Die Mullers wil dit klein hou. ’n Hulponderwyser gaan haar klasse waarneem.
Dit was die langste week in Lawrence se skoolloopbaan. Hy deel nie sy ontdekking van liefde met sy beste vriend, Anton, nie, want hy weet wat hy gaan sê:
“Chill L, jy is nog jonk, buddy. Los daai vir die adults.”
Die volgende Maandag is Juffrou Muller terug by die skool. Sy is stil en effens teruggetrokke.
Lawrence is ook stil. Hy gaan haar respekteer, want haar seer is sekerlik nog vlak en tweedens weet hy nie hoe om sy nuutgevonde gevoelens te hanteer nie. Teen Woensdag besluit hy om dit met Anton te deel.
Gedurende pouse sit hulle teen die heining naby die rugbyveld.
“Buds, daar is iets wat ek vir jou moet sê.”
“Daai moet iets groots wees, L, want jy issie jouself nie.”
“Ek is lief vir Sahara.”
“Ag man, nie weer nie. Ek weet mos jy het ’n crush op haar.”
“Anton, my buddy, ek is lief vir haar, hoor jy — lief vir haar.”
“L, jy is toggie ernstig nie.” Anton kyk na Lawrence en sien dat hy ernstig lyk.
“Dit kan nie wees nie, L, of is dit? Chill man, jy is nog hopeloos te jonk. Jou lewe lê nog voor en daar is nog hope tyd voor jy ernstig moet raak. Los die adult-goed af.”
“Ek kan nie, Anton.”
“Man, miskien moet jy vir Larisa bietjie uitneem. Jy weet hoe sy oor jou voel.”
“Sy is oraait, maar nie vir my nie.”
Twee weke later.
“Klas, ek gaan vanmiddag bietjie vroeër weg. Daar is dringende sake wat ek moet afhandel. Moenie dit moeilik maak vir Janice nie. Respekteer haar as julle klasprefek.”
Sy kyk na Lawrence.
“Volg Lawrence se voorbeeld. Hy is deesdae stil en konsentreer net op sy skoolwerk.”
Die klas giggel; almal behalwe Anton. Lawrence kyk uitdrukkingloos na haar en almal is verbaas dat hy niks sê nie.
Sahara weet nie wat om te dink nie, want dit is nie dié Lawrence wat sy ken nie. Sy tel haar handsak op, sê:
“Sien julle môre,” en stap uit.
Op pad huistoe stop sy by ’n winkel en koop ’n pakkie beskuitjies en groente. Sy en haar ma het altyd ’n pakkie opgeëet — ten minste een keer per week. Skielik wel daar trane op in haar oë.
“Here, hoe kon U so iets aan my doen? Ek het my ma nog só nodig.”
Daar staan ’n seuntjie by die uitgang van die winkel se parkeerarea. Sy gee die pakkie beskuitjies en ’n R20 vir hom deur haar motorvenster.
Toe sy in Bellvue in haar straat, Loodstraat, afdraai, stop sy eers en vee haar trane af voordat sy by haar oprit inry. Dit voel vreemd om op die ouderdom van 22 die eienaar van ’n huis te wees. Dit is ’n lekker plek in ’n stil doodloopstraat. Wat meer soek ’n mens? Wanneer die boedel vanmiddag afgehandel word, sal sy moet besluit oor haar toekoms sonder ouers. Haar pa is ook oorlede en sy was ’n enigste kind.
By die voordeur steek sy vas. Dit staan oop en sy hoor haar tannie, wat tydelik by haar woon, se stem.
“Ai, Sandra, ek weet nie wat die arme kind gaan doen as sy moet uitvind haar pa was nie haar biologiese pa nie.”
Sahara weet nie van wie sy praat nie, maar bly tog staan.
“Regtig? Wat vertel jy my nou?” Dit is duidelik dat daar geskinder word.
Sy glimlag, want sy dink aan haar ma se woorde:
“Sandra is ons nuustak. As jy iets oor die buurt wil weet, vra haar.”
Sy sal dan onmiddellik daarna sê:
“Here, vergewe my, want ek skinder nou van Sandra.”
Sandra en haar tannie Jenny kom goed oor die weg. Dit is duidelik hoekom.
Sahara wil net verder ingaan toe haar tannie sê:
“Maria moes nooit so ’n groot geheim van haar weerhou het nie.”
Maria was Sahara se ma.
“Ek dink tog jy moet dit maar op jou neem om Sahara te vertel, Jenny,” sê Sandra.
Sy sien skielik Sahara se weerkaatsing in die spieël.
“Ek moet gaan, Jenny,” raak sy haastig. Sy vlug sommer by die sydeur uit.
“Middag, tannie Jenny. Wat moet u my vertel?”
“Middag, Sahara. Het jy ons afgeluister?” Sy wag nie vir ’n antwoord nie.
“Ons moet onmiddellik ry, anders is ons laat.”
Op pad na die prokureur toe is dit doodstil in die kar. Sy hoor maar ook nie wat die prokureur te sê het nie; net soos sy wil hoor — maar ook nie — wat haar tannie haar gaan vertel.
© Rooi Mier – 13.07.2022

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sal ...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?” ...