SABBAT 1 - Steven Dubee
Die Sabbat is “n doring in die vlees vir die kerk. Vra die vraag; “Watter dag is die sabbat?’ Die antwoord van die oorgrote meerderheid is; “Saterdag.” Vraag: “Nou hoekom aanbid jy op ‘n Sondag?”
Antwoord 1: “Dit maak nie saak nie, mens kan God enige dag aanbid.”
Antwoord 2: “Na Jesus opgevaar het na die hemel, het die apostels op die eerste dag aanbid.” Antwoord 3: “Ons kom al die jare met Sondag aan.” Maak dit dan nou werklik saak watter dag ons God aanbid? God het mos elke dag gemaak.
Kom ons poog om antwoorde te kry op hierdie vrae. Die eerste ding sal seker wees om sonder twyfel vas te stel of die Sabbat regtig op wat ons ken as “Saterdag” is.
Watter dag is die Sabbat?
Voordat ons kan kyk of Die Bybel wel vir ons kan sê watter dag die Sabbat is; kom ons kyk eers hoe ‘n Bybelse dag werk. In Gen 1 lees ons herhaaldelik die volgende: “dit was aand en dit was môre”.
Dit is presies hoe ‘n Bybelse dag werk.
Die nuwe dag breek aan wanneer die son ondergaan. Hier is ‘n paar verse: Gen 1:5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
Gen 1:8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Het Die Bybel ‘n antwoord op die vraag oor watter dag die Sabbat is? Kom ons kyk:
Ou Vertaling Mar 15:42 En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat Nuwe Vertaling Mar 15:42 Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. Ou V: Luk 23:54 En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. Nuwe V: Luk 23:54 Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek. Uit die skrifte sien ons duidelik dat Jesus op die Sesde Dag, of Vrydag gekruisig was. Die volgende dag was die Sabbat; wat eintlik toe dit begin aand word aangebreek het; “en die sabbat wou aanbreek”.
Jesus het opgestaan op die Eerste Dag, oftewel, Sondag. Ou V: Mar 16:1-2 En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf.
Nuwe V: Mar 16:1-2 Toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die ma van Jakobus, en Salóme reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom.
Nadat ons hierdie verse gelees het is dit baie duidelik dat die Sewende dag waarvan gepraat word tydens die skepping in Genesis, definitief die Sabbat is.
Die Eerste Dag (Sondag)
Die eerste dag van die week (Sondag) word 8 keer in die Nuwe Testament genoem.
Was dit omdat die dag van aanbidding geskuif was na die eerste dag? Kom ons kyk na die konteks.
1. Mat 28:1 En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk. Die vers benadruk die feit dat die Sabbat die vorige dag was. Niks hiervan sê dat die dag verskuif is nie.
2. Mar 16:1-2 En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf. Weereens word beklemtoon dat die Sabbat die vorige dag was.
3. Mar 16:9 En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het. Jesus verskyn aan Maria Magdaléna op die eerste dag. Was daar ‘n byeenkoms? Nee.
Word die Sabbat hier verskuif na die eerste dag as jy na die teks kyk? Nee! 4. Luk 24:1 En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.
Behalwe dat dit, soos in Matthéüs en Markus voortbou op dieselfde tema, word dit ook duidelik dat hulle gekom het om te werk; iets wat hulle vermy het om te doen op die Sabbat.
Luk 23:56 Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.
5. Joh 20:1 En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Dieselfde as die vorige 4 verse.
6. Joh 20:19 En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! Hier gebeur nou iets anders, die dissipels het hier bymekaar gekom. Was dit omdat hulle ‘n Sabbatsdiens gehou het? Die vers vertel ons duidelik dat hulle in die sinagoge geskuil het; hulle was bevrees.
Hoekom? Jesus se liggaam het uit die graf verdwyn, die Jode het gedink dat hulle die liggaam verwyder het sodat dit moet voorkom asof Hy (Jesus), regtig die Messias is volgens die profesie. Onthou ook dat Jesus vir 3½ jaar saam met hulle was. In die tyd het hulle op verskillende dae vergader.
Die feit dat Hy hulle op die eerste dag in die sinagoge ontmoet, waar hulle baie duidelik geskuil het, verklaar nie dat die sabbat verskuif het omdat Hy gekruisig en opgestaan het nie. Ook was dit hul gewoonte om in die bo-vertrek bymekaar te kom.
Han 1:13 En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bo-vertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, ….. Laastens; hulle het nie bymekaar gekom om Jesus se opstanding te vier nie; want hulle het nie geglo dat Hy opgestaan het nie. Mar 16:14 Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. (Lees ook Luk 24:37, 39, 41). 7. Han 20:7 En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.
Uiteindelik vind ons ‘n vers wat onomwonde praat van ‘n diens. Was dit ‘n gewone Sabbatdiens? Eerstens; dit was die laaste dag waarop Paulus hulle kon toespreek voordat hy sou vertrek. Tweedens, dit was die aand. Daar was baie lampe, so dit was nie ‘n gewone Sabbatsdiens nie.
Derdens, volgens Bybelse daguitleg, was dit nie soos ons dit ken Sondagaand nie, maar liewer Saterdagaand. Vierdens, vir Paulus en sy metgeselle was dit ‘n gewone werksdag. Terwyl die res van die geselskap op ‘n boot geseil het, het Paulus die oggend omtrent 19 myl gestap. (vers 13)
8. 1 Kor 16:1-2 Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.
Paulus skryf dat die Korinte, net soos die Galasiërs, op die eerste dag van die week die insameling van offers, wat vir die medegelowiges van Jerusalem (vers 3), moet doen. Hy wil sodra hy daar aankom, mense stuur om die gawe na Jerusalem te stuur.Die mense het voedsel benodig omdat daar droogte in Jerusalem was. Om die insameling te doen, moes hulle werk; wat hulle nie op die Sabbat sal doen nie. Hy het dieselfde opdrag ook aan ander gemeentes gegee.
Rom 15:25-26 Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Dit is dus baie duidelik dat dit nie die Tiendes is wat op die eerste dag versamel moes word, soos baie mense glo nie.
Dus was die Sabbat nie verskuif na die Eerste Dag toe nie. Daar is geen bewyse dat die Sabbat verskuif het na “Sondag” nie.
Tradisie om Sondag diens te hou. Sommige mense sê dat dit hul gewoonte is, van kleins af, om Sondae te aanbid.
Wat sê Die Bybel oor menslike tradisie?
Daar is tekste wat tradisie ondersteun, maar ook tekste daarteen. 2 The 2:15 So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is òf deur ‘n woord òf deur ‘n brief van ons. 1 Kor 11:2 En ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.
2 The 3:6 Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Hierdie tekse het almal iets in gemeen; hulle praat almal tradisie goed.
Dit is egter alles te doen met die onderhouding van Christelike waardes.
Indien tradisie ons verhouding met God versterk, deur gehoorsaamheid aan Hom, is dit presies waaraan ons moet vashou. M.a.w, indien God se Woord dit voorskryf, is ons verplig om dit na te volg.
Kol 2:8 Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Mat 15:6 So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.
1 Tim 4:7 Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. Jer 10:2-3 So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ‘n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ‘n ambagsman met die byl. Nou het ons weer ‘n paar tekse wat teen tradisie praat. Nee, Die Bybel weerspreek nie homself nie. Die verse het almal te doen met menslike tradisies; wat jou weerhou om aan God gehoorsaam te wees.
Daar is dus tradisies wat jou help om gehoorsaam aan God te wees, en dan is daar tradisies wat jou weerhou van gehoorsaamheid aan God. Mar 7:1-9 En die Fariseërs en sommige van die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het by Hom saamgekom; en toe hulle sommige van sy dissipels met onrein, dit is met ongewaste, hande sien brood eet, het hulle dit afgekeur. Want die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense.
En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde. Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag:
Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande? En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is:
Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.
En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. Jesus spreek die Fariseërs en Skrifgeleerdes hard aan en noem hulle geveinds.
Hy noem dat hulle meer maak van die onderhoud van mensgemaakte wette as van God se Wet.
Baie van die Christene aanbid Sondae omdat hulle dit so kom kry het, almal dit doen of bekommerd is oor wat ander mense sal sê. Nêrens in Die Bybel word Sondagaanbidding onderskryf nie. Mat 15:3 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?
Gaan ons dan liewer aanhou om God se gebod te verontagsaam ter wille van
oorlewering?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking