Slaan oor na hoofinhoud

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun

Skrywer: Rooi Mier

Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees.

Die Verlore Seun is so ’n verhaal.

Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom.

Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane.

Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie.

Dit gaan oor óns.

Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug nie.”
En dan fluister hierdie storie: Daar ís ’n pad. En daar ís arms wat nog oop is.

Hoofstuk 1 van Die Verlore Seun verskyn op 1 Januarie 2026 presies om middernag op my blog — as ’n nuwejaarsgeskenk vir elke hart wat hoop soek, elke siel wat rus soek, en elkeen wat weer wil glo dat genade groter is as skuld.

Kom lees saam.
Kom stap saam.
En miskien — kom vind jy ook weer huis.

🌿

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...