Die Verlore Seun
Hoofstuk 4 – Rooi Mier
Josáfat kom by ’n streek uit wat naby ’n stad geleë is. Dit sal vir hom die perfekte eindbestemming wees. Dit is nie ver om stad toe te gaan nie, en hier kan hy sy vee laat wei. Hy merk op dat die vee wat die mense hier aanhou, verskil van dié waar hy vandaan kom. Die mense hier rond hou ook varke aan. As ’n Jood is dit vir hom ’n gruwel. Sy tradisie laat hom nie toe om naby daardie goed te kom nie.
Josáfat slaan laer op. Hy gaan net hier bly totdat die eienaar van die grond opdaag. Dan sal hy aanbied om die stuk grond te koop. Hy kan dit bekostig om ’n goeie prys te bied.
Intussen kan hy lekker uitrus sodat hy môre ’n bietjie die stad kan gaan verken. Hy het al gesien, soos hy getrek het, dat die mense hier rond nie so eng is nie. Hulle lewe. Dit is die soort lewe wat hy wil voer.
Sal dit dan nou so ’n groot sonde wees as hy ’n bietjie dronk word?
Hy lag kliphard toe hy aan sy ouboet Markus dink.
“Hy gaan sekerlik ’n oorval kry as hy hoor watter planne ek het. Hier is pragtige, gewillige meisies, en die manne hier rond is nie skaam om ’n dop of twee te vat nie.”
Josáfat weet self hy is nie aan dié soort lewe gewoond nie, maar hy gaan voorgee. Hy kan mos nie toelaat dat die ouens sien hy is aan niks gewoond nie.
Daardie aand is hy opgewonde oor die nuwe lewe wat voorlê. Hy gaan die aand vier met ’n slavin. Hy laat een na hom toe kom om hom deur die aand te vermaak.
Leah is baie bekommerd. Dit is nou al maande sedert Josáfat hier weg is. Elke keer as handelaars aankom, vra sy of hulle hom nie dalk iewers raakgeloop het nie. Elke keer as die poskoets kom, wag sy opgewonde—net om teleurgestel te word. Niks. Daar is absoluut geen nuus oor haar jongste nie.
Een ding waarvan sy egter seker is, is dat hy leef. Sy voel dit in haar hart. ’n Moederhart sal weet as daardie verbinding deur die dood verbreek word.
Wat haar wel pla, is dat dit haar verhouding met haar man skade aandoen. Sy verwyt hom soms dat hy toegelaat het dat Josáfat weggaan. Kon hy nie net sy voet neergesit het nie? Sy vergeet gerieflikheidshalwe dat sy self deel van dié besluit was. Sy huil byna elke dag oor haar seun.
“Ek wens net hy kan laat weet hy is nog oraait. Nog beter—dat hy besluit om maar liewer huistoe te kom.”
Sy weet hy moet uiteindelik tog die huis verlaat, maar dit sou wees om sy lewe saam met sy bruid te begin. Dan sou sy ten minste weet waar hy hom bevind, en sy sou haar kleinkinders kon besoek.
Josáfat dink sy rykdom gaan vir ewig hou. Omdat hy nog nooit verantwoordelikheid vir sy eie lewe geneem het terwyl hy by ryk Pappa gewoon het nie, besef hy nie dat geld nie net uitgegee word nie, maar ook aangevul moet word. Erfgeld is nou swerfgeld.
Ai, dit is so lekker om jou nie oor môre te bekommer nie. Môre het klaar vir homself gesorg.
Oral waar hy tot dusver kamp opgeslaan het, het hy nuwe vriende gemaak. Hierdie vriende het dit geniet om verniet te eet en drink. Daar was ook die dames van die nag wat altyd beskikbaar was.
Daar is selfs van sy sogenaamde vriende en ’n paar dames wat saam met hom begin trek het.
Sy slawe is uitgeput. Almal word goed behandel—behalwe hulle. Die ekstra vriende en vroue plaas al hoe meer druk op hulle.
Absalom staan elke dag en kyk uit oor die horison. Elke stofwolkie maak hom opgewonde. Dalk is dit nou my seun wat daar aankom. Sy teleurstelling is egter groot elke keer as hy besef dit is maar net ’n buurman wat kom kuier of sy vee verskuif na ander weivelde.
Saans is hy op sy knieë vir dié ongehoorsame kind van hom. Besef hy nie wat hy aan sy ouers doen nie? Wanneer hy alleen is, stort hy selfs ’n traantjie of twee.
In die teenwoordigheid van sy vrou en ander seun tree hy egter anders op. Dan is hy die harde, ongenaakbare man wat verklaar dat Josáfat sy bed opgemaak het en daarop moet slaap.
Heimlik wonder hy of die kind darem nog ’n rusplek vir sy kop kry saans.
Josáfat wag egter verniet vir ’n slavin. Wat hy nie weet nie, is dat die ander vroue wat saamtrek die twee oorblywende slavinne verbied het om na hom toe te gaan. Hulle gaan self vir die vermaak sorg—teen ’n prys.
Daardie aand, nadat dié twee slavinne weereens deur sy sogenaamde vriende verkrag is, neem die vader ’n besluit dat hy dit nie langer gaan verdra nie. Terwyl almal hul roes af slaap, neem hy sy dogter en die oorblywende slavin en hulle glip weg. Hy weet almal slaap vas ná die gekuier. Teen daardie tyd sal hulle reeds in die stad verdwyn het. Al wat oorbly, is om hulself te vermom—dan is hulle vry.
Dié stad het baie bevryde slawe.
Word vervolg
Lukas 15:13b
En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking