Nat Broek
Rooi Mier
Pssssssht! Die deure van die waens van die trein gaan oop toe die trein op Faure-stasie tot stilstand kom. Verskeie mense staan op en beweeg na die deure. Soos hulle uitklim, is ander reeds besig om in te klim.
Dit is Woensdagoggend om 07:15. Die trein is oppad van Strand-stasie na Kaapstad-stasie. Dit is ‘n langerige rit wat oor verskeie stasies strek en omtrent 1 uur en 40 minute kan duur. Soos gewoonlik is die trein redelik vol, maar daar is nog genoeg sitplek tot by Eersterivier-stasie, waarna dit baie vol gaan word, met meer mense wat gaan inklim as uit.
‘n Vrou merk dat die man wat oorkant haar gesit het, sy sak op die bagasierak vergeet het toe hy uitklim op Faure.
“Ek sal dit maar by die Metropersoneel op Eersterivier-stasie inhandig as hy uitklim. Die trein is alreeds weer oppad, en die deure sluit. Almal wat verder as Eersterivier reis, maak seker dat hulle sitplekke het, want daarna gaan sommige sekerlik moet staan.”
“Goeie môre almal! Ek groet u in die Naam van ons Here Jesus Christus,” klink ‘n vrouestem.
Die trein beweeg nou onder die Baden Powell-pad.
Die vrou met die vergete sak verbeel haar dat die sak beweeg. Sy kyk stadig, maar alles lyk stil terwyl die vrou wat preek, voor haar verby beweeg.
Sy vererg haar. “Ons gaan kerk toe Sondae, dan word daar genoeg gepreek!” sê sy hardop.
Die jongman wat oorkant haar gesit het, stel sy selfoon se volume harder.
Die preekster laat haar nie van stryk bring nie en gaan voort: “Vanoggend wil ek teruggaan na die begin van sonde; die dag toe Adam en Eva deur ‘n slang verlei is.”
Skielik klink daar ‘n harde gil. Die vrou wat teen die preek protesteer, spring regop en beduie, maar kan nie ‘n woord uitkry nie. Sy wys net na die bagasierak oorkant.
Al die passasiers raak skielik stil, selfs die preekster.
Skielik beweeg die vergete sak en tuimel aarde toe, vlak voor die jongman se voete. Daar kom ‘n kop uit die sak – ‘n kop met ‘n flikkerende tong: ‘n slangkop.
Die jongman se selfoon vlieg eenkant toe en skielik staan hy op sy sitplek.
Chaos breek uit. Daar gil en skree almal. Daar klink selfs ‘n gillende manstem.
Skielik begin almal beweeg. Daar is harde, plofbare geluide wat verskriklik stink, maar niemand hoor of ruik dit nie. Almal beweeg weg na teenoorgestelde rigtings. Die jongman huil uit: “Here, help my! Ek wil nie nou doodgaan nie. Vergewe my asseblief.”
Dit lyk nie of hy kan beweeg waar hy op sy sitplek staan nie. Sy broek lyk nat.
Die vrou wat teen die preek protesteer, staan vasgenael op een plek.
“Onse Vader, wat in die hemel is …” kom uit haar mond.
Die slang, wat alles bekyk het met sy kop uit die sak, kruip verder uit. Dit lyk of hy ‘n besluit moet neem: links of regs. Orals lê daar sakke en selfs een of twee selfone.
Die slang gaan regs. Mense aan die regterkant val oor mekaar terwyl hulle probeer wegkom na die ander waens.
‘n Stem klink op: “Volgende stasie is Eersterivier. Staan weg van die deure tot die trein tot stilstand kom.”
Die trein kom tot stilstand. Pssssssht. Die deure gaan oop.
Mense hardloop gillend uit. Diegene wat wou inklim, draai om en hardloop saam, alhoewel hulle nie weet hoekom nie.
Die jongman met die nat broek staan nog op sy sitplek, terwyl die protesterende vrou met lambene haarself neerplak. Sy vergeet dat sy uit moet klim. Die preekster herhaal: “Die slang, die slang.”
Dit is die slang se beurt. Hy seil by die deure uit, kyk rond en vlug tussen die platform en trein af.
Iemand skree: “Dit is maar net ‘n onskuldige molslang, geensins gevaarlik nie!”
Pssssssht. Die deure gaan toe. Daar is geen teken van die slang nie.
©Rooi Mier 15.02.2026
Opmerkings
Plaas 'n opmerking