Slaan oor na hoofinhoud

Nat Broek

Nat Broek 

Rooi Mier


Pssssssht! Die deure van die waens van die trein gaan oop toe die trein op Faure-stasie tot stilstand kom. Verskeie mense staan op en beweeg na die deure. Soos hulle uitklim, is ander reeds besig om in te klim.

Dit is Woensdagoggend om 07:15. Die trein is oppad van Strand-stasie na Kaapstad-stasie. Dit is ‘n langerige rit wat oor verskeie stasies strek en omtrent 1 uur en 40 minute kan duur. Soos gewoonlik is die trein redelik vol, maar daar is nog genoeg sitplek tot by Eersterivier-stasie, waarna dit baie vol gaan word, met meer mense wat gaan inklim as uit.

‘n Vrou merk dat die man wat oorkant haar gesit het, sy sak op die bagasierak vergeet het toe hy uitklim op Faure.

“Ek sal dit maar by die Metropersoneel op Eersterivier-stasie inhandig as hy uitklim. Die trein is alreeds weer oppad, en die deure sluit. Almal wat verder as Eersterivier reis, maak seker dat hulle sitplekke het, want daarna gaan sommige sekerlik moet staan.”

“Goeie môre almal! Ek groet u in die Naam van ons Here Jesus Christus,” klink ‘n vrouestem.

Die trein beweeg nou onder die Baden Powell-pad.

Die vrou met die vergete sak verbeel haar dat die sak beweeg. Sy kyk stadig, maar alles lyk stil terwyl die vrou wat preek, voor haar verby beweeg.

Sy vererg haar. “Ons gaan kerk toe Sondae, dan word daar genoeg gepreek!” sê sy hardop.

Die jongman wat oorkant haar gesit het, stel sy selfoon se volume harder.

Die preekster laat haar nie van stryk bring nie en gaan voort: “Vanoggend wil ek teruggaan na die begin van sonde; die dag toe Adam en Eva deur ‘n slang verlei is.”

Skielik klink daar ‘n harde gil. Die vrou wat teen die preek protesteer, spring regop en beduie, maar kan nie ‘n woord uitkry nie. Sy wys net na die bagasierak oorkant.

Al die passasiers raak skielik stil, selfs die preekster.

Skielik beweeg die vergete sak en tuimel aarde toe, vlak voor die jongman se voete. Daar kom ‘n kop uit die sak – ‘n kop met ‘n flikkerende tong: ‘n slangkop.

Die jongman se selfoon vlieg eenkant toe en skielik staan hy op sy sitplek.

Chaos breek uit. Daar gil en skree almal. Daar klink selfs ‘n gillende manstem.

Skielik begin almal beweeg. Daar is harde, plofbare geluide wat verskriklik stink, maar niemand hoor of ruik dit nie. Almal beweeg weg na teenoorgestelde rigtings. Die jongman huil uit: “Here, help my! Ek wil nie nou doodgaan nie. Vergewe my asseblief.”

Dit lyk nie of hy kan beweeg waar hy op sy sitplek staan nie. Sy broek lyk nat.

Die vrou wat teen die preek protesteer, staan vasgenael op een plek.

“Onse Vader, wat in die hemel is …” kom uit haar mond.

Die slang, wat alles bekyk het met sy kop uit die sak, kruip verder uit. Dit lyk of hy ‘n besluit moet neem: links of regs. Orals lê daar sakke en selfs een of twee selfone.

Die slang gaan regs. Mense aan die regterkant val oor mekaar terwyl hulle probeer wegkom na die ander waens.

‘n Stem klink op: “Volgende stasie is Eersterivier. Staan weg van die deure tot die trein tot stilstand kom.”

Die trein kom tot stilstand. Pssssssht. Die deure gaan oop.

Mense hardloop gillend uit. Diegene wat wou inklim, draai om en hardloop saam, alhoewel hulle nie weet hoekom nie.

Die jongman met die nat broek staan nog op sy sitplek, terwyl die protesterende vrou met lambene haarself neerplak. Sy vergeet dat sy uit moet klim. Die preekster herhaal: “Die slang, die slang.”

Dit is die slang se beurt. Hy seil by die deure uit, kyk rond en vlug tussen die platform en trein af.

Iemand skree: “Dit is maar net ‘n onskuldige molslang, geensins gevaarlik nie!”

Pssssssht. Die deure gaan toe. Daar is geen teken van die slang nie.

©Rooi Mier 15.02.2026

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...