Die Verlore Seun
Hoofstuk 3 – Rooi Mier
Die volgende paar dae is daar ’n gewerskaf soos min. Skape word getel volgens geslag en ouderdom. Alles word volgens ’n bepaalde verhouding verdeel sodat Absalom, Markus en Josáfat elk kry wat hulle toekom. Die erfporsie wat die seuns ontvang, is dieselfde as wat hulle sou kry indien hulle sou trou.
Dit is die eerste keer dat Josáfat regtig hard werk—nie uit ywer nie, maar om seker te maak dat hy nie dalk ingeloop word nie.
Sy kwota slawe werk net so hard om al sy besittings gereed te kry vir die trek. Dié slawe is egter nie gelukkig dat hulle aan hom toegeken is nie. Hulle weet dat hulle geen waardigheid van hom sal ontvang nie, en ook geen regverdigheid nie. Lyfstraf sal mildelik toegedien word. Hulle kan egter nie kla nie. Slawe kla nie—dit kan hulle straf op die hals haal.
Dit neem omtrent ’n maand om alles gereed te kry. Markus sorg dat hy in die veld is toe Josáfat vertrek.
Leah omhels Josáfat.
“My kind, belowe jy sal mooi na jouself kyk. Wanneer jy hoor van handelaars wat ons rigting kom, stuur ’n boodskap. Maak ook gebruik van die poskoets. Ek is lief vir jou, my seun.”
Josáfat is glad nie meer so braaf soos wat hy voorgegee het nie. Hy weier egter om dit te wys.
“Ek gaan oraait wees, Moeder. Hou net op huil. Ek gaan mos nie dood nie. Julle gaan my net nooit weer sien nie.
Totsiens, Pa. Jou oudste seun het dit nie eers goedgedink om my te kom groet nie. Dit wys jou net wat hy eintlik van my dink.”
Hy draai om en klim op sy perdewa. Daar is nog ’n paar waens, deur osse getrek, met die res van sy besittings en die slavinne wat aan hom toegeken is. Die mans sorg dat die vee aankom.
Absalom en Leah kyk totdat daar net stof in die verte oorbly. Hy neem sy vrou die huis in, en saam vra hulle God om hom veilig te hou.
Markus kyk van waar hy in die veld is. Hy het gemengde gevoelens. Hy en sy broer het nooit ’n goeie verhouding gehad nie, en hy het hom altyd vermy. Tog kruip bloed waar dit nie kan loop nie.
Toe hy uiteindelik omdraai, sien hy al die werkers staan en kyk die trek agterna. Van die manne het familie wat saamtrek, maar hulle is mos maar net slawe. Wie gee om oor hulle gevoelens? Hulle is besittings wat asemhaal en kan werk. Hulle het nie werklik ’n stem nie—want dit maak tog nie saak nie.
Hulle begin een vir een weer werk.
Sal ons ons familie ooit weer sien?
Soos Josáfat verder trek en die omgewing al hoe onbekender raak, word hy al hoe onsekerder oor sy besluit. Hy begin agterkom dat dit glad nie maklik is om in bevel van ’n groep mense te wees nie, al doen hulle alles wat hy sê.
Hy besef nie dat hulle eintlik te bang is om inisiatief te neem nie, uit vrees dat hulle blameer sal word as iets skeefloop. Alle besluite word dus aan hom oorgelaat—en dit is glad nie pret nie.
Josáfat het reeds sy gesag laat afdwing deur lyfstraf. Dit bring egter vertragings in die trek, want die werkslas word groter vir dié wat fisies in staat is om voort te trek. Hierdie strategie gaan dus nie op die lang duur werk nie.
Hoe kry sy pa en broer dit reg dat die slawe self beheer kan neem wanneer hulle nie teenwoordig is nie? Hy troos homself dat alles beter sal gaan sodra hulle hul eindbestemming bereik. Hy weet self nie waar daardie eindbestemming is nie. Vir nou trek hy maar net vorentoe.
Hy het rykdom—dus het hy mag. Hy sal beslis sy geluk kan koop.
Vorentoe. Vir nou gaan ek net vorentoe.
Hy merk nie eens op dat twee van sy slawe een aand verdwyn het nie.
Josáfat gaan oor die grens. Die mense se kultuur en taal verander. Hulle is ook glad nie so vriendelik teenoor hom en sy trekgeselskap nie.
Van sy vee begin verdwyn—meestal saans wanneer almal uitgeput is. Alhoewel hy meestal op sy perdewa sit, voel hy snags net so moeg.
Die wagte is ook uitgeput. Deur die dag trek hulle, en saans raak hulle aan die slaap.
Een van die jong slavinne wat hy snags by hom laat slaap het, verdwyn ook. Hy besluit om van die manne van dié land te huur as wagte totdat hulle iewers permanent laer kan trek.
Hy het nou vir wolf skaapwagter gemaak, en boonop is hulle glad nie goedkoop nie. Hulle het hom duidelik laat verstaan dat hulle nie sy slawe is nie.
Van sy eie slawe begin ook opstandig raak. Hulle sê vir hom dat hulle net soveel in ’n dag kan doen. Josáfat glo steeds alles sal regkom sodra hy sy eie plek het. Hy is van plan om dit sommer te koop as hy die regte stuk veld kry—nie te ver van die stad af nie.
Hy wil mos sy lewe geniet. Dit is ’n bekende feit dat die meisies hier nie so kuis is soos in sy tuisdorp nie. Die wyn het ook ’n skop—dit laat jou lekker kuier.
Die mense hier het al van Jesus gehoor, maar omdat Hy in Joodse streke rondtrek, het hulle Hom nog nie gesien nie. Hoekom sou hulle in elk geval na ’n Jood luister?
Die vooruitsig van sy nuwe vryheid dryf hom vorentoe.
Altyd vorentoe.
Word vervolg
Lukas 15:13a
En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land.
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking