Die Verlore Seun – Hoofstuk 7
Rooi Mier
Leah het die hele nag gehuil. Waar is haar kind? Lewe hy nog? En as hy lewe, het hy darem iets om te eet? Sy weet dat al wat vir haar oorbly, gebed is. Deur haar trane het sy die vorige aand by God gesmeek om haar seun te bewaar.
Vanoggend is sy totaal uitgeput – só erg dat sy nie eens kon opstaan om kos vir haar man en Markus voor te sit nie. Alhoewel haar dienaresse dit kon doen, voel sy dat dit haar taak is as vrou en ma. Vandag is sy egter eenvoudig te moeg.
Sy vermoed dat Absalom net so uitgeput is. Hy het ook die hele nag rondgerol. Tog weet sy dat hy sal opstaan en veld toe gaan. Sy kan nie onthou dat haar man al ooit ’n dag se werk gemis het nie, behalwe vir die Sabbat of wanneer hulle Jerusalem toe gereis het. Maar hy raak oud, en dit maak haar bekommerd. Ouderdom haal ’n mens stil-stil in. Sy sien hoe hy deesdae ’n bietjie langer neem om sy take af te handel en meer rusperiodes nodig het. Sy span is betroubaar, maar Absalom glo daaraan om deur voorbeeld te lei.
Josáfat het die vorige aand by sy bestemming aangekom saam met sy “heer”. Hy dink neerhalend aan die term, maar eers nadat hy versadig was aan vleis, brood en druiwesap.
Op die plaas het hy selfversekerd na die hoofhuis gestap, asof dit vanselfsprekend is dat hulle hom daar sou huisves. Hoe wreed was die ontnugtering toe een van die ander knegte hom stop en na die knegtekwartiere verwys.
Al sy verduidelikings dat hy eintlik self ’n “heer” is, val op dowe ore. Die manne lag selfs vir hom. Vernedering spoel oor hom. Sy bed is allesbehalwe gemaklik; dit is net sy uiterste moegheid wat hom laat inslaap. As hy maar net na sy pa geluister het.
Die volgende oggend word hy nog voor dagbreek uit die bed geruk.
“Dink jy jy is in ’n herberg?” word hom toegesnou. Dit is nog stikdonker buite – ordentlike mense behoort nog te slaap.
“Waar gaan ek werk?” vra hy, so vriendelik moontlik.
Daar kom geen antwoord nie. ’n Diensmeisie druk ’n kospakkie en ’n fles water in sy hand. Hy is skaars gereed om te eet toe iemand hom aan die skouer ruk.
“Kom!”
Hy word na ’n perdekar gewys. Die drywer kry opdrag om hom by sy werksplek af te laai. Op pad probeer Josáfat gesels, maar die drywer fokus net op die pad. Die perde galop lustig voort – myl na myl. Uiteindelik maak Josáfat sy oë toe. Dit is steeds donker wanneer die perdekar stop.
“Dit is waar jy gaan werk. Jy moet hierdie diere oppas,” sê die drywer kortaf.
Josáfat merk stalle in die verte, maar is nie seker nie – dit is nog donker. ’n Vreemde reuk hang swaar in die lug.
“Onthou, jy mag nie die diere alleen laat nie. Ons sal van tyd tot tyd kos bring. Hier is komberse as jy wil slaap.”
Sonder ’n verdere woord ry die perdekar weg.
Josáfat staan verslae, bang. Hy was nog nooit in sulke omstandighede nie. Die reuk is intens – dit stink. ’n Snorkgeluid kom van die stalle af.
Hy sit sy beddegoed en kos neer en stap versigtig nader. Skielik trek sy maag saam. Hy braak.
Varke.
Net nie varke nie.
Die walging oorweldig hom. In sy kultuur is dit die vuilste dier denkbaar – iets wat ’n Jood nooit mag nader nie.
“Ek kan nie varke oppas nie.”
Hy draai om en begin hardloop, maar die perdekar is lankal weg. Later stap hy, uitgeput. Sy liggaam is swak; hy het dae lank nie ordentlik geëet nie. Vel en been gaan sit hy om te rus.
Rondom hom is net oop vlaktes. Hy besef hy het geen keuse nie. Hy sal moet teruggaan en wag tot hulle weer kos bring. Dan sal hy sê hy kan nie hier werk nie – hulle moet hom saam terugneem.
Die son kom op. Van ver af sien hy die varke. Om varke op te pas is die laagste van die laagstes vir ’n Jood. Selfs uitvaagsels onder hul volk word nie so verneder nie. Jode besit nie eens varke nie.
Is dit die prys van ongehoorsaamheid?
Hy, Josáfat – eens ’n ryk man met slawe tot sy beskikking – is nou ’n varkoppasser. Hoe laag kan ’n mens daal? Hy kan skaars na hulle kyk. Die walging sit diep.
Wanneer die honger hom beetpak, gaan sit hy ver van die stalle af om te eet. Die reuk is ondraaglik. Ná ete waag hy dit om nader te beweeg. Die reuk is steeds erg, maar minder walglik.
Dit raak namiddag. Niemand kom nie. Dit word donker. Hy is alleen met die varke. Omdat hy gedink het hulle sou hom kom haal, is sy kos op en sy water gebruik.
Hy rol sy beddegoed uit. Hopelik is daar nie slange nie.
Vrees pak hom toe hy besef: hy is myle ver van enige mens af, alleen in die veld, met varke wat sedert die middag aanhoudend gil. Die naggeluide maak dit erger – ’n hiëna se lag, ’n uil se hoehoe, en êrens naby ’n onbekende grom. Die nag is lank. Die maanlig laat hom voel of iets hom dophou.
Teen dagbreek is Josáfat gereed om te vertrek sodra die perdekar opdaag. Die varke is reeds wakker en maak ’n verskriklike lawaai. Almal neig na die noordekant van die stalle.
Teen dié tyd het hy effens gewoond geraak aan die reuk. Hy sien peule op die grond – waarskynlik die varke se kos. Hy stap versigtig nader.
Daar is ’n put en bakke – drinkbakke. Die bakke is leeg. Miskien is die diere dors. Hy besluit om water te skep. Die eerste emmer is modderig, maar die varke storm vorentoe en drink gretig.
Met elke emmer verloor hy ’n bietjie van sy vrees. Die varke word rustiger en begin eet.
Dit raak middag. Geen kos. Aand. Nog niemand.
Hy is honger en dors. Hier is net vuil water en geen kos nie. Môreoggend sal iemand sekerlik kom.
Hy slaap onrustig. Sy besluit is vas: as niemand môre vroeg opdaag nie, sal hy loop.
Die honger pyn. As niemand kom nie, sal hy van die peule móét eet – anders sal hy nie die krag hê om te vertrek nie.
Word vervolg
“En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet.”
Lukas 15:16
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking