Donderdag 01 Januarie 2026

Die Verlore Seun Hoofstuk 1



Die Verlore Seun – Rooi Mier

Hoofstuk 1

(Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis)

Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht.
Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag.
(Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.)

Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou.


Josáfat is keelvol vir die harde werk.

“Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef.

Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit.

Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sal sien nie.

As lid van ’n vername Joodse familie is ek veronderstel om binne my klas te beweeg. Daardie klomp pretensieuse meisiekinders val beslis nie in my smaak nie.

En dan is daar ook nog dié man met die naam Jesus. Wie dink hy is hy nou eintlik? Hy wil vir almal kom voorskryf hoe om te lewe. Hy is glo die Seun van God. Gmff. Dink hulle regtig ek moet dit glo? Sy ma was glo ’n maagd. Ek is mos al oud genoeg om te weet dis nie hoe dinge werk nie. Daardie Josef het die kat in die donker geknyp, en nou maak hulle stories op om Maria se eer te beskerm. Gaan speel soontoe.”

Hy sit en tob daar in die veld oor sy lot.

“Ek gaan vandag my pa sitmaak en my deel van die erfporsie vra. Markus is mos die witbroodjie van die huis. Hy wil altyd in Pa se goeie boekies wees. Dink hy regtig dis goed om altyd so te lewe?

Wat ’n vervelige bestaan. Nee, ouboet, jy kan maar hier bly—ek wil weg wees. Sodra Pa my gedeelte gegee het, vat ek die pad die wye wêreld in.”

Daardie aand, toe hy tuiskom, vra hy sy pa of hy hom later privaat kan spreek. Hy het iets belangriks om te vra.

Sy pa wonder wat dit kan wees. Hy bid al lank vir die kind, maar dit lyk nie of dit help nie. Die roede is al ingelê, maar Josáfat bly hardkoppig en lui. Hy glo nie daaraan dat ’n mens in die sweet van jou aangesig jou brood verdien nie.

As dit van hom afhang, sal die bediendes hom selfs was, die gat grawe en weer toegooi waar hy sy ding moet doen.

Daardie aand ontbied sy pa hom.

“Goeie naand, Pa.”

Hy bly staan, want sy pa moet eers toestemming gee voor hy kan sit.

“Naand, Josáfat. Jy het versoek om my te spreek. Sit.”

“Pa, dit is met ’n swaar hart dat ek vanaand hier sit. U weet hoe ek voel daaroor dat ek, as erfgenaam van ’n baie ryk man, so hard moet werk. Hier is mos slawe om alles te doen. Ek gaan tog nie eendag nodig hê om te weet hoe om koring te plant, skape te skeer, op te pas of te slag vir kos of offers nie. My slawe sal dit alles doen. Dis hoekom God hulle in ons sorg geplaas het. Ons moet bedien word—nie dien nie.”

“So, my kind, jy wil net eet en bedien word?”

“Ja, natuurlik, Pa. Wat help dit ’n mens is ryk, maar hy werk soos ’n slaaf?”

“Josáfat, solank jy op hierdie plaas bly, sal jy werk.”

“Sien Pa nou waarvan ek praat?

Pa wil ook nie met die tye vorentoe beweeg nie. Dis nou al 32 n.C., maar Pa hou nog vas aan tradisies van 200 v.C. Seuns van my ouderdom het al ’n wa en perde, maar ek moet nog voetslaan. Kyk hoe lyk my sandale. Ek weier om langer soos ’n staljoggie te lyk. En hou op om my te vertel hoe julle in die outyd gemaak het. Ons leef nou in moderne tye.”

“My plaas, my reëls. Kry jou eie plaas, dan praat ons weer. Ek skaam my dood vir wat julle moderne kinders deesdae wil aanvang en dan verwag ons moet dit goedkeur. Waar is die ordentlikheid as julle met meisies wil praat vóór julle getroud is? Ek het jou die ander dag gesien hoe jy en Oom Paulus se dogter vir mekaar loer. Ek het jou nie só grootgemaak nie.”

“Dan moet Pa my deel van die erfporsie wat my toekom vir my gee. Ek kan nie langer so lewe nie.”

“Kind, as ek my sonde nie ontsien nie—”

“Pa mag nie sondig nie, want Jesus sê mos so.”

“Gaan net hier uit. Verdwyn voor my oë.”

Josáfat staan stadig op.

“Vir nou sal ek gaan, Pa. Maar weet net—ek is ernstig oor die saak.”


Word vervolg


Lukas 15:11–12a
“Hy het ook gesê: ’n Man het twee seuns gehad.
En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.”

#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Voorwoord / Aptytwekker – Onder die Brug

Voorwoord / Aptytwekker – Onder die Brug Onder die Brug neem jou mee op ’n reis van pyn, hoop en onverwagte genesing. Hierdie Afrikaanse kor...