Slaan oor na hoofinhoud

My Stompies Gaan Lank Wees

 My Stompies Gaan Lank Wees

’n Ware verhaal vertel deur ’n pastoor

Elkeen het nou ’n plek — party sit voor, ander agter, en twee het selfs ’n plekkie op die vloer gekry. Uiteindelik is almal op die bus sodat ek die register kan nagaan.

“Daar kom Wynand, hy’s alweer laat!” roep iemand, maar ek sien daar is nog tien minute voor vertrektyd.

“Nou het julle vyf minute om toilet toe te gaan — almal moet gaan!” Vir die kinders is dit groot pret, maar om ’n toilet tussen niks en nêrens in die Noord-Kaap te kry, is geen grap nie. Toe slaan die uur: nege-uur — vertrektyd!

Almal vat hande en ons vra die Liewe Vader se beskerming en seën. Net ’n minuut word toegelaat om te groet. ’n Minuut is egter lank vir kinders — ouers staan verstom: geen trane nie, geen hartseer nie, net opgewondenheid om weg te kom. En toe is ons op pad… Sommige ouers ry selfs tot dertig kilometer saam, buite Kimberley!

Dit is net na twee-uur die oggend en Klaasvakie het die toergroep na die Burgerstrandhuis in Kaapstad nog nie besoek nie. Die opgewondenheid in die bus is groot — só groot dat iemand nie eens besef hy het sy sonbril nog op nie. Vir party graad 7-leerders is dit die eerste keer dat hulle die see gaan sien.

Toe sien ek Deonette, wat tussen die banke op haar boudjies aangeseil kom. Weens ’n seldsame siekte is albei haar beentjies onder die knieë geamputeer, en drie vingers aan elke hand ook. Haar ouers het haar verwerp en sy is in ’n tehuis geplaas.

Sy kom sit langs my met ’n kussing in haar mond.

“Kan ek maar by Mnr. sit?” vra sy.

Ek gee haar my weermagjas om haar warm te hou. Sy voel in die sakke en haal my Gideons-Bybeltjie uit — en ek getuig vir haar hoe Jesus my wedergebore gemaak het.

Ek laat haar luister na Danie Botha se lied: Honestly Jesus, You Can Strip Me to the Core. Skielik begin sy sag huil.

“Mnr., Liewe Jesus het my klaar gestrip.”

Sy trek die jas styf om haar Stompies en hou dit vas met haar verwronge handjies. Ek trek haar styf teen my vas en begin met my Vader redeneer: haar toekoms, haar drome, haar pyn… En tog lag sy steeds so lekker saam met haar maats.

Ek bid dat die Here haar trane in reënboë en kristalle sal verander.

Toe kom die antwoord helder:

Joh. 13:7 – Wat nou met jou gebeur, sal jy later verstaan.

Sag. 2:8 – Jy is My oogappel.

Jes. 43:1–5 – Jy is kostelik in My oë.

Ek vertel haar van die verheerlikte liggame in die Hemel.

En toe — trane van blydskap:

“Mnr., my Stompies gaan lank wees in die Hemel.”

Sy slaan haar arms om my nek. Ons huil saam en sê dankie vir Jesus. Sy sit die walkman weer op en begin hardop sing:

“… die Here maak my voete soos dié van ’n ribbok …”

In die Gees sien ek iets wat ek nooit sal vergeet nie — voetjies aan die Stompies.

Deonette, ons sien mekaar by Jesus.

Past. Leon Terblanche

Mag ander Jesus in jou sien as hulle na jou kyk.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...