My Stompies Gaan Lank Wees
’n Ware verhaal vertel deur ’n pastoor
Elkeen het nou ’n plek — party sit voor, ander agter, en twee het selfs ’n plekkie op die vloer gekry. Uiteindelik is almal op die bus sodat ek die register kan nagaan.
“Daar kom Wynand, hy’s alweer laat!” roep iemand, maar ek sien daar is nog tien minute voor vertrektyd.
“Nou het julle vyf minute om toilet toe te gaan — almal moet gaan!” Vir die kinders is dit groot pret, maar om ’n toilet tussen niks en nêrens in die Noord-Kaap te kry, is geen grap nie. Toe slaan die uur: nege-uur — vertrektyd!
Almal vat hande en ons vra die Liewe Vader se beskerming en seën. Net ’n minuut word toegelaat om te groet. ’n Minuut is egter lank vir kinders — ouers staan verstom: geen trane nie, geen hartseer nie, net opgewondenheid om weg te kom. En toe is ons op pad… Sommige ouers ry selfs tot dertig kilometer saam, buite Kimberley!
Dit is net na twee-uur die oggend en Klaasvakie het die toergroep na die Burgerstrandhuis in Kaapstad nog nie besoek nie. Die opgewondenheid in die bus is groot — só groot dat iemand nie eens besef hy het sy sonbril nog op nie. Vir party graad 7-leerders is dit die eerste keer dat hulle die see gaan sien.
Toe sien ek Deonette, wat tussen die banke op haar boudjies aangeseil kom. Weens ’n seldsame siekte is albei haar beentjies onder die knieë geamputeer, en drie vingers aan elke hand ook. Haar ouers het haar verwerp en sy is in ’n tehuis geplaas.
Sy kom sit langs my met ’n kussing in haar mond.
“Kan ek maar by Mnr. sit?” vra sy.
Ek gee haar my weermagjas om haar warm te hou. Sy voel in die sakke en haal my Gideons-Bybeltjie uit — en ek getuig vir haar hoe Jesus my wedergebore gemaak het.
Ek laat haar luister na Danie Botha se lied: Honestly Jesus, You Can Strip Me to the Core. Skielik begin sy sag huil.
“Mnr., Liewe Jesus het my klaar gestrip.”
Sy trek die jas styf om haar Stompies en hou dit vas met haar verwronge handjies. Ek trek haar styf teen my vas en begin met my Vader redeneer: haar toekoms, haar drome, haar pyn… En tog lag sy steeds so lekker saam met haar maats.
Ek bid dat die Here haar trane in reënboë en kristalle sal verander.
Toe kom die antwoord helder:
Joh. 13:7 – Wat nou met jou gebeur, sal jy later verstaan.
Sag. 2:8 – Jy is My oogappel.
Jes. 43:1–5 – Jy is kostelik in My oë.
Ek vertel haar van die verheerlikte liggame in die Hemel.
En toe — trane van blydskap:
“Mnr., my Stompies gaan lank wees in die Hemel.”
Sy slaan haar arms om my nek. Ons huil saam en sê dankie vir Jesus. Sy sit die walkman weer op en begin hardop sing:
“… die Here maak my voete soos dié van ’n ribbok …”
In die Gees sien ek iets wat ek nooit sal vergeet nie — voetjies aan die Stompies.
Deonette, ons sien mekaar by Jesus.
Past. Leon Terblanche
Mag ander Jesus in jou sien as hulle na jou kyk.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking