Die Verlore Seun – Hoofstuk 12
Rooi Mier
Josáfat voel steeds dat hy nie werd is om deel van die familie te wees nie. Skamerig stap hy by die deur uit.
Wat dink die mense regtig van my?
Dis maklik om te sê: “Moenie jou aan ander steur nie,” maar dis nie maklik om te doen nie.
Om te hoor dat sy omstandighede verander het, sê ook nie veel. Ja, hy hoef nie meer te swerf nie — maar hy is ook nie amptelik weer deel van die familie nie.
Hy is nie juis lus vir mense nie, maar hy moet sy vader gehoorsaam. Jona was ook nie lus om gehoorsaam te wees nie — die opdragte van ’n Vader is nie altyd na jou sin nie.
Hy staan ’n oomblik in die deuropening. Sy oë ontmoet dié van sy suster. Daar is trots in haar blik. Sy knik goedkeurend.
Absalom roep hom nader.
“Kom staan hier langs my, Josáfat.
Kom hier, Benjamin.”
Hy fluister in Benjamin se oor. Benjamin verdwyn die huis in. Almal wag in spanning.
Na ’n rukkie kom Benjamin terug met iets wat in ’n doek toegedraai is.
Absalom haal hul familieseëlring uit.
“Josáfat, ek wil hê jy moet hierdie ring met trots dra. Deur hierdie ring aan jou vinger te plaas, word jy weer amptelik deel van hierdie familie. Jy is bloed van my bloed — Josáfat, seun van Absalom.”
Trane rol oor Josáfat se wange. Dit is die grootste eer wat sy pa aan hom kan bewys — voor almal word hy weer as seun erken.
Leah is self in trane. Sy het gehoop — en nou gebeur dit.
Josáfat buig soos ’n kneg, maar sy pa lig hom op.
“Benjamin, wat dink jy kort my seun nog?”
“Skoene, Meneer.”
“Bring dit, Benjamin.”
Benjamin bring ’n paar nuutgemaakte skoene. Hy het dit self gemaak — die vorige nag, met die beste leer, tot teen dagbreek.
“Bring iets om op te sit, asseblief.”
’n Stoel word gebring.
“Sit, Josáfat.”
“Wag eers,” sê Leah sag. “Magdalena, bring asseblief ’n skottel water.”
Met die aankoms van die feesgangers is daar steeds skoon water vir die gebruik van voetewas. Leah meng olyfolie by.
Sy kniel om Josáfat se voete te was, maar Absalom keer haar.
“Laat my toe, my vrou.”
“Dit is die werk van die knegte,” fluister sy.
“Jy wou dit self doen,” antwoord hy sag. “Hoekom dink jy wil ek dit doen?”
“Omdat jy dit nie as vernedering sien nie, maar as liefde.”
“Presies. Niks wat julle doen of gedoen het, kan my liefde verminder nie.”
Absalom was Josáfat se vuil voete — en trek toe die nuwe skoene vir hom aan.
Josáfat, grootgemaak in die Joodse kultuur, besef die betekenis van hierdie daad onmiddellik:
Dit is ’n vader se bindende belofte dat hy altyd daar sal wees.
Word vervolg…
Skrif-insetsel
Lukas 15:22c — “…en gee ’n ring vir sy hand.”
In die Nuwe Testamentiese tyd het families seëlringe gedra wat hul familiewapen vertoon het. Dit het gesag verleen om namens die familie op te tree. Dokumente is met warm was verseël en met die ring gestempel — net ’n gemagtigde persoon kon die seël breek.
Openbaring 5:1–2
Lukas 15:22d — “…en skoene vir sy voete.”
Die gee van skoene het ’n kontrak bekragtig.
Rut 4:7–8
Hier sluit Absalom ’n verbond met Josáfat — ’n belofte om hom nooit weer te verwerp nie.
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking