Een Vir My, Een Vir Jou
Onbekend
Koos en sy pêl het ’n sak vol lemoene by die bure gesteel. Hulle hardloop toe na die naaste begraafplaas om die buit te gaan verdeel. Net toe hulle by die hek inhardloop, val twee lemoene uit die sak. In hul gejaag laat hulle dit net daar lê.
’n Dronkie wat op pad huis toe van die kroeg is, stap daar verby. Skielik hoor hy stemme uit die begraafplaas:
“Een vir my en een vir jou, een vir my en een vir jou…”
Hy skrik hom behoorlik nugter en hardloop paniekerig na die dominee toe.
“Dominee! Dominee! Kom saam my asseblief! Kom hoor hoe deel God en die Satan lyke tussen hulle daar in die begraafplaas!”
Hulle hardloop saam begraafplaas toe. Die stemme gaan steeds voort:
“Een vir my en een vir jou, een vir my en een vir jou…”
Skielik sê die een stem:
“En wat van die twee by die hek?”
“Wag vir my, Dominee…”
Die dominee het toe die vinnigste gehardloop. 🏃♂️🏃♂️🏃♂️🏃♂️🏃♂️
Opmerkings
Plaas 'n opmerking