Slaan oor na hoofinhoud

Onder die Brug Hoofstuk 8, Die Skaduwee van Verraad

Onder die Brug Hoofstuk 8, Die Skaduwee van Verraad

deur Rooi Mier
Na maande se getroue diensbywoning het John besluit om sy lewe heeltemal te verander. Hy dien nou die Here met oorgawe. Intussen het hy ’n goeie verhouding met Elton sowel as met die pastoor opgebou. Weens sy ouderdom kry hy slegs tydelike werk, wat hom genoeg tyd gee om saam met die pastoor deur te bring. Dit het daartoe gelei dat sy verhouding met God standvastig en diep gewortel geraak het.
Hy was juis op pad na die pastoor se huis toe. By sy aankoms hoor hy stemme van agter die huis af. Nadat hy geklop het en niemand oopgemaak het nie, besluit hy om om te stap na waar hy die stemme hoor. Terwyl hy langs die huis afstap, hoor hy Jolene se naam en gaan staan stil om te luister.
“Jy sê daai ding, boeta Drew — jy het Jolene verkrag. Ek dink tog jy en Elton was soos broers.”
“Dis so, ja, maar ek het haar nog al die tyd begeer. Wat hy nie weet nie, is dat sy die hele tyd ook met ’n ander vriend geslaap het terwyl hy en my broer weg was met kerksake.
“Daardie dag het ons almal by haar huis gedrink en dronk geraak — behalwe ek. Haar skoonpa was ook daar, maar ek het gesorg dat hy behoorlik drink. Jolene was toe al baie dronk. Ek het die ander ouens huis toe gery en daarna teruggegaan. Toe ek daar aankom, was sy uit soos ’n kers. Haar skoonpa het op die bank geslaap. Ek het haar kamer toe gedra en haar verkrag. Ná die tyd het ek gedink sy sou dalk agterkom wat gebeur het, toe dra ek die ouman kamer toe, trek hom uit en lê hom langs haar neer.”
John draai geskok om en beweeg in die rigting van die hek. Die pastoor se broer!
Voordat hy die hek bereik, hoor hy:
“Boeta John, soek jy my broer?”
John kan nie antwoord nie — te ontsteld.
“Daai ou tree vreemd op, boeta Drew. Lyk my hy het gehoor wat ons praat.”
John stap vinnig verder sonder om om te kyk.
By die huis gaan hy reguit kamer toe sonder om Jolene te groet. Sy gee ook nie juis om nie. Die volgende paar dae vind hy dit moeilik om Elton in die oë te kyk en hy hou hom eenkant. Die pastoor wou hom een oggend kom haal om saam uit te gaan, maar hy het gesê hy voel nie goed nie.
Hy wil vir Elton vertel dat sy pa nie ’n verkragter was nie, maar besluit om eers in die kerk daaroor te bid.
Daardie Saterdagoggend kon hy skaars na die Woord luister. Ná die diens praat Elton met die pastoor terwyl John kar toe stap. Drew kom van die straat se kant af ingestap en dreig hom:
“As jy vir Elton vertel, gaan hy saam met my tronk toe. Toe hy nog dwelms gebruik het, het ons iemand per ongeluk doodgery en weggejaag. Later het ons teruggegaan, die liggaam gekry en dit gaan wegsteek in ’n gebied ver van hier af.”
Elton en die pastoor stap nader. Drew groet John “vriendelik” met die hand en sê hardop:
“Ons praat weer, boeta John.”
Hy waai vir sy broer en stap by die kerkgrond se hek uit.
Op pad huis toe is John baie stil. Elton probeer gesels oor die boodskap van vroeër, maar John antwoord skaars.
“Oom moet praat as daar probleme is. Is dit weer Jolene?”
John sê nee en kyk by die venster uit. By die huis gaan hy reguit kamer toe.
Hy val op sy knieë en bid:
“Here, hoe nou gemaak?”
Dit is vir hom belangrik dat Elton van sy pa se onskuld moet weet — maar hoe? Gaan hy die oorsaak wees dat sy broerskind in die tronk beland? Toe onthou hy dat Elton eendag gesê het dat hy tydens sy dwelmmisbruik by iets vreesliks betrokke was. As Christen sou hy dit een of ander tyd van sy skouers moes afkry.
Hy onthou ook Elton se gunsteling Bybelvers — Romeine 8:28:
“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Dit het ook sy eie gunstelingvers geword.
Daardie aand besluit John om vir Elton alles te vertel.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...