Onder die Brug Hoofstuk 2 – Die wagte van Ravensmead
deur Rooi Mier
Verwese, moeg en duidelik verhongerd stap hy met sy sak deur die voorhek. Sy klere is skoon, maar verkreukeld.
Ag, hopelik is ek nou by die regte mense, dink hy.
Hy klop aan die voordeur, maar niemand antwoord nie. Ná twee minute loop hy mismoedig na die hek toe. By die hek kyk hy terug en sien ’n gordyn beweeg – of het hy hom verbeel?
Net daar en dan besluit hy om weer te gaan klop. Niemand antwoord nie.
“Hallo, dit is John Daries hier. Bly die Daries-familie hier?” skree hy. Geen antwoord nie. Hy hou aan klop vir nog ’n minuut.
John besluit dat hy nêrens gaan nie – want hy hét nêrens om te gaan nie. Hy is honger en dors, maar moes leer dat Kapenaars niemand vertrou nie en ook nie maklik gee nie.
Dit is sy tweede dag dat hy in Ravensmead ronddwaal op soek na sy broer Paulus. Hy het sy laaste geld op ’n halwe brood en ’n koejawelsap uitgegee gisteraand en toe op Tygerbergstasie gaan sit en slaap.
Hy begin twyfel of hy die regte ding gedoen het deur met die bus van Upington af te kom om sy tweelingbroer te kom soek. Hulle het mekaar seker al amper dertig jaar laas gesien.
Nou, baie moeg, besluit hy om net daar te sit – totdat iemand oopmaak of daar aankom.
Na ’n rukkie begin sy kop knik, maar hy ruk wakker soos hy skrik.
Dit was sy vrou se stem wat smekend uit die brandende huis skree:
“John! Joooohn, help ons! Iemand, heeeeelp! Ons brand dood!”
“Ag Here, sal U my ewig laat ly? Sal ek ooit weer vrede vind?”
In een nag het hy sy vrou en drie kinders verloor. Daardie aand, voor alles gebeur het, het hy sy pragtige, grysgroenoog dogtertjie vir die laaste keer hoor fluister – net soos in die gedig Slaap – “Nag, Pappie.”
Skielik gaan die deur oop.
“En nou, meneer? Jy kan mos nie hier sit nie.”
Hy spring op en kyk na die deur. ’n Jong vrou praat met hom deur die traliehek.
“Bly Paulus Daries hier?”
“Wat soek jy?” vra die vrou ongeduldig. “Die vark is al twee jaar vrek. Jy sal maar, soos al die ander, sy skuld moet afskryf.”
“Ek is sy broer. Sy tweelingbroer.”
“Kom slegtigheid nou in pare? Ek sal jou nie inlaat nie.”
“Nou wie is jy, dame?”
“Dit is nie jou besigheid nie, maar ek is sy skoondogter. Wag maar daar buite tot my man kom.”
Die deur klap toe en John gaan sit weer teen die muur. Hy is so honger en moeg.
Skielik sien hy ’n paar nommer 10 swart skoene voor hom. Hy weet dit, want dit is sy skoengrootte.
Dit lyk of dit skemer is – hy moes aan die slaap geraak het.
Stadig lig hy sy kop op om te sien wie voor hom staan. Dit lyk soos ’n jonger Paul.
Die man voor hom bulder: “Wie is jy? Wat soek jy op my erf?”
John vra: “Is jy Paul se seun?”
“As ek is – wat daarvan?”
“Ek is jou pa se broer. Jo–”
“Oom John!” val hy John in die rede. “Waar val jy uit?”
Hy klink opreg verbaas.
“Wat maak jy hier? Hoe het jy hier gekom? Kom binne!”
Alles kom in een asem uit.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking