Slaan oor na hoofinhoud

Onder die Brug Hoofstuk 3, Tussen Skuld en Genade

 ONDER DIE BRUG Hoofstuk 3, Tussen Skuld en Genade

deur Rooimier


“Jolene, hoekom het jy nie my oom laat inkom nie?”

“Vir wat? Ek ken nie die man nie, en vir al wat ek weet is hy ook ’n verkragter soos jou vark van ’n pa.”


Sy draai van John af. “Jou broer was ’n verkragter, maar die blêrrie man wil mos niks weet nie. Hy en sy God vergewe mos verkragters.”


“Ek is jammer, Oom John. Sit asseblief. Waar is my maniere? My naam is Elton. Ek het nou net hier aangekom. Was saam met my pastoor – een van ons gemeentelede het afgesterf. Gelukkig is ek met vakansie en kon saamgaan.”


Elton klink na iemand wat verskriklik baie kan praat – as jy hom nie in die rede val nie, kry jy nie ’n spreekbeurt nie. Nes sy pa, dink John.


“Ek is verskriklik dors. Kan ek water kry, asseblief?”

“Jammer, my oom. Jy is seker honger ook. Jolene, skep vir ons, asseblief, my vrou.”


Hy stap na haar toe en gee haar ’n soen op die wang. “Oom gaan mos hier slaap. Ek kry solank vir jou ’n slaapplek reg. Die badkamer is in die gang af, eerste deur links.”


John vat sy sak en gaan badkamer toe. Hy moet dringend daar uitkom – sy gesig was, en ten minste sy tande borsel. Sy asem stink seker al vreeslik. Na ete sal hy maar ordentlik bad – as dit reg is met die huismense.


Elton moet tog nou nie sy storie wil hoor nie, want hy voel ontuis. Hy wil ook nie emosioneel raak voor Jolene nie. Hy verbeel hom hy hoor ’n gestryery.



---


Dit is stil en gespanne aan tafel. Elton eet nie eintlik nie en Jolene sit net en kyk hom sonder ’n woord.

“As Oom klaar geëet het, kan jy gaan slaap. Ons kan môre praat,” sê Elton. Hy klink teleurgesteld.


John bedank hulle, gaan badkamer toe om te stort, en gaan slaap. Voordat hy aan die slaap raak, hoor hy Jolene se driftige stem.



---


Vroeg die volgende oggend word John wakker. Dit is doodstil in die huis – almal slaap seker nog.

Hy onthou nou dat die egpaar gestry het, en besluit dus om maar te lê totdat hy hoor hulle is op.


Hy onthou skielik hoe hy en sy vrou altyd vasgesit het oor sy drinkery – volgens haar: suipery. Dan het hy altyd gedink sy praat van skei wanneer sy gesê het hy gaan eendag sy familie verloor.

Nooit het hy geweet dat dit die dood sou wees wat hulle skei nie.


Soos soveel kere tevore moes sy ’n kers brand omdat hy met sy hele salaris smokkelhuis toe was. Hy het nie kosgeld gelos of elektrisiteit gekoop nie. Sy dranklus was sterker as sy liefde vir sy gesin.


Gelukkig het hy darem ’n paar minute met sy kinders spandeer voordat hy uitgeglip het. Hy onthou in besonder sy dogtertjie se “nag, Pappie” – so asof sy geweet het sy sien hom nooit weer nie.


Meteens bars hy in rou snikke uit.

Hy hoor duidelik sy vrou se geroep om hulp. Hy onthou dat daardie geroep hom laat besef het die huis brand. Hy moes dit tog gesien het toe hy aangestap gekom het. Die vlamme was al hoog en ander mense was besig om te probeer blus.


Hy onthou dat dit die laaste keer was dat sy geroep het. Haar stem was stil. Vir altyd.



---


“Oom John, huil jy?” hoor hy in die gang voor die deur. Die deur gaan oop. Voordat John egter iets kan sê, gaan die voordeur oop en Elton gaan kyk wie dit is.


Nog voordat Elton iets kon vra, hoor hy: “Is daai man nog steeds hier?”

Dit was meer geskree as gevra.

“Ek het jou gesê ek slaap nie onder dieselfde dak as ’n verkragter se vark-broer nie. Ek gaan by my ma intrek!”


“Jolene, nou gaan jy te ver. Jy slaap uit die huis en kom met beledigings terug. Het jy nie ’n hart nie? Moenie my struikelblok wees om die Here te dien nie!


Verlang jy terug na die dae toe ek ’n dwelmverslaafde was? En as jy vandag by daai deur uitstap, gaan ek jou nie weer haal nie.”


’n Deur klap toe. Elton verskyn weer in die deur. Hy lyk nog ontsteld, maar sê:

“Jammer, my oom. Kan ek vir jou koffie maak?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie en verdwyn kombuis toe.



---


John, geskok en met rooigehuilde oë, staan op uit die bed, maar weet nie wat om te doen nie. Hy loop doelloos op en af in die kamer.

Was my broer regtig ’n verkragter? Dis laag. Kon hy dit regtig gedoen het? So ’n sagte mens...


Dan weer – hyself was ’n goeie kind genoem. Vandag noem hulle hom ’n dronkgat.


Hy stap badkamer toe. Terwyl hy daar is, hoor hy weer die kamerdeur oopgaan.

“Ek kom die res van my goed later haal.”


Sekondes later klap die voordeur weer.


Nadat hy klaar is, gaan hy kamer toe en begin aantrek. Elton roep hom kombuis toe.

“Sal wors en eiers reg wees?”

“Enigiets, Elton.”


Daar heers ’n ongemaklike stilte terwyl die ontbyt voorberei word. Aan tafel spreek Elton die seën uit oor die kos en vra ook dat God hom sal vergewe vir sy optrede vroeër.


“Elton, ek gaan maar weer weg. Ek wil nie die oorsaak wees van die opbreek van jou huwelik nie.”


“Nee, my oom. Ons huwelik kom nou al jare so aan. Dis seker al die tiende keer dat sy uittrek. Ek glo God sal haar weer terugbring.”



---


John dink aan hoeveel kanse sy huwelik gehad het. Sy vrou het altyd gesê dat, as sy nie die Here gedien het nie, het sy hom lankal verlaat. Dan het sy altyd gesê: “Die dood sal ons seker maar eendag moet skei.”


Elton stuur die gesprek in ’n ander rigting:

“Hoe gaan dit met die familie? Ons het vir jare geen kontak met julle gehad nie.”


“Jou ouma is al drie jaar oorlede, en my vrou en kinders meer as ’n jaar.”


Hy begin vertel hoe dit gebeur het – en dat hy homself nog nie kon vergewe nie.


Na die begrafnis – al die oorblyfsels van sy vrou en drie kinders in een kis – het hy nog meer begin drink om die skuldgevoelens te probeer afskud. Hy het sy werk verloor, en sy skoonfamilie wou niks met hom te doen hê nie.


Hulle blameer hom vir die verlies van hul dogter en kleinkinders.

Hy het gehoop dat hy sy broer sou kon opspoor hier in die Kaap nadat hy besluit het hy kan nie meer so aangaan nie.


“Ek is so jammer, my oom. Kom, ek bid vir jou.”


Nadat hy klaar gebid het, bel Elton sy pastoor en vra of die pastoor sonder hom sal kan klaarkom vir die dag.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...