ONDER DIE BRUG Hoofstuk 3, Tussen Skuld en Genade
deur Rooimier
“Jolene, hoekom het jy nie my oom laat inkom nie?”
“Vir wat? Ek ken nie die man nie, en vir al wat ek weet is hy ook ’n verkragter soos jou vark van ’n pa.”
Sy draai van John af. “Jou broer was ’n verkragter, maar die blêrrie man wil mos niks weet nie. Hy en sy God vergewe mos verkragters.”
“Ek is jammer, Oom John. Sit asseblief. Waar is my maniere? My naam is Elton. Ek het nou net hier aangekom. Was saam met my pastoor – een van ons gemeentelede het afgesterf. Gelukkig is ek met vakansie en kon saamgaan.”
Elton klink na iemand wat verskriklik baie kan praat – as jy hom nie in die rede val nie, kry jy nie ’n spreekbeurt nie. Nes sy pa, dink John.
“Ek is verskriklik dors. Kan ek water kry, asseblief?”
“Jammer, my oom. Jy is seker honger ook. Jolene, skep vir ons, asseblief, my vrou.”
Hy stap na haar toe en gee haar ’n soen op die wang. “Oom gaan mos hier slaap. Ek kry solank vir jou ’n slaapplek reg. Die badkamer is in die gang af, eerste deur links.”
John vat sy sak en gaan badkamer toe. Hy moet dringend daar uitkom – sy gesig was, en ten minste sy tande borsel. Sy asem stink seker al vreeslik. Na ete sal hy maar ordentlik bad – as dit reg is met die huismense.
Elton moet tog nou nie sy storie wil hoor nie, want hy voel ontuis. Hy wil ook nie emosioneel raak voor Jolene nie. Hy verbeel hom hy hoor ’n gestryery.
---
Dit is stil en gespanne aan tafel. Elton eet nie eintlik nie en Jolene sit net en kyk hom sonder ’n woord.
“As Oom klaar geëet het, kan jy gaan slaap. Ons kan môre praat,” sê Elton. Hy klink teleurgesteld.
John bedank hulle, gaan badkamer toe om te stort, en gaan slaap. Voordat hy aan die slaap raak, hoor hy Jolene se driftige stem.
---
Vroeg die volgende oggend word John wakker. Dit is doodstil in die huis – almal slaap seker nog.
Hy onthou nou dat die egpaar gestry het, en besluit dus om maar te lê totdat hy hoor hulle is op.
Hy onthou skielik hoe hy en sy vrou altyd vasgesit het oor sy drinkery – volgens haar: suipery. Dan het hy altyd gedink sy praat van skei wanneer sy gesê het hy gaan eendag sy familie verloor.
Nooit het hy geweet dat dit die dood sou wees wat hulle skei nie.
Soos soveel kere tevore moes sy ’n kers brand omdat hy met sy hele salaris smokkelhuis toe was. Hy het nie kosgeld gelos of elektrisiteit gekoop nie. Sy dranklus was sterker as sy liefde vir sy gesin.
Gelukkig het hy darem ’n paar minute met sy kinders spandeer voordat hy uitgeglip het. Hy onthou in besonder sy dogtertjie se “nag, Pappie” – so asof sy geweet het sy sien hom nooit weer nie.
Meteens bars hy in rou snikke uit.
Hy hoor duidelik sy vrou se geroep om hulp. Hy onthou dat daardie geroep hom laat besef het die huis brand. Hy moes dit tog gesien het toe hy aangestap gekom het. Die vlamme was al hoog en ander mense was besig om te probeer blus.
Hy onthou dat dit die laaste keer was dat sy geroep het. Haar stem was stil. Vir altyd.
---
“Oom John, huil jy?” hoor hy in die gang voor die deur. Die deur gaan oop. Voordat John egter iets kan sê, gaan die voordeur oop en Elton gaan kyk wie dit is.
Nog voordat Elton iets kon vra, hoor hy: “Is daai man nog steeds hier?”
Dit was meer geskree as gevra.
“Ek het jou gesê ek slaap nie onder dieselfde dak as ’n verkragter se vark-broer nie. Ek gaan by my ma intrek!”
“Jolene, nou gaan jy te ver. Jy slaap uit die huis en kom met beledigings terug. Het jy nie ’n hart nie? Moenie my struikelblok wees om die Here te dien nie!
Verlang jy terug na die dae toe ek ’n dwelmverslaafde was? En as jy vandag by daai deur uitstap, gaan ek jou nie weer haal nie.”
’n Deur klap toe. Elton verskyn weer in die deur. Hy lyk nog ontsteld, maar sê:
“Jammer, my oom. Kan ek vir jou koffie maak?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie en verdwyn kombuis toe.
---
John, geskok en met rooigehuilde oë, staan op uit die bed, maar weet nie wat om te doen nie. Hy loop doelloos op en af in die kamer.
Was my broer regtig ’n verkragter? Dis laag. Kon hy dit regtig gedoen het? So ’n sagte mens...
Dan weer – hyself was ’n goeie kind genoem. Vandag noem hulle hom ’n dronkgat.
Hy stap badkamer toe. Terwyl hy daar is, hoor hy weer die kamerdeur oopgaan.
“Ek kom die res van my goed later haal.”
Sekondes later klap die voordeur weer.
Nadat hy klaar is, gaan hy kamer toe en begin aantrek. Elton roep hom kombuis toe.
“Sal wors en eiers reg wees?”
“Enigiets, Elton.”
Daar heers ’n ongemaklike stilte terwyl die ontbyt voorberei word. Aan tafel spreek Elton die seën uit oor die kos en vra ook dat God hom sal vergewe vir sy optrede vroeër.
“Elton, ek gaan maar weer weg. Ek wil nie die oorsaak wees van die opbreek van jou huwelik nie.”
“Nee, my oom. Ons huwelik kom nou al jare so aan. Dis seker al die tiende keer dat sy uittrek. Ek glo God sal haar weer terugbring.”
---
John dink aan hoeveel kanse sy huwelik gehad het. Sy vrou het altyd gesê dat, as sy nie die Here gedien het nie, het sy hom lankal verlaat. Dan het sy altyd gesê: “Die dood sal ons seker maar eendag moet skei.”
Elton stuur die gesprek in ’n ander rigting:
“Hoe gaan dit met die familie? Ons het vir jare geen kontak met julle gehad nie.”
“Jou ouma is al drie jaar oorlede, en my vrou en kinders meer as ’n jaar.”
Hy begin vertel hoe dit gebeur het – en dat hy homself nog nie kon vergewe nie.
Na die begrafnis – al die oorblyfsels van sy vrou en drie kinders in een kis – het hy nog meer begin drink om die skuldgevoelens te probeer afskud. Hy het sy werk verloor, en sy skoonfamilie wou niks met hom te doen hê nie.
Hulle blameer hom vir die verlies van hul dogter en kleinkinders.
Hy het gehoop dat hy sy broer sou kon opspoor hier in die Kaap nadat hy besluit het hy kan nie meer so aangaan nie.
“Ek is so jammer, my oom. Kom, ek bid vir jou.”
Nadat hy klaar gebid het, bel Elton sy pastoor en vra of die pastoor sonder hom sal kan klaarkom vir die dag.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking