Onder die Brug Hoofstuk 4, Wanneer die Waarheid Breek
deur RooiMier
Die dag het ‘n week geword. Die week het ‘n maand geword. Elton is intussen terug by die werk. Hy vertrek elke oggend om agtuur en kom teen omtrent 17:40 weer tuis.
John het intussen uitgevind dat Elton nie kinders kan verwek nie, as gevolg van ‘n ongeluk toe hy nog ‘n kind was. Jolene het nog nie teruggekom nie, maar Elton glo steeds dat God haar sal terugbring.
John probeer steeds meer uitvind oor die verkragting, maar elke keer slaan Elton toe soos ‘n boek. Hy het wel laat blyk dat hy nog nie gereed is om daaroor te praat nie.
Daardie aand sit hulle saam voor die TV toe iemand aan die deur klop.
“Dis Jolene,” sê Elton kalm. “Vandag het ek net geweet sy gaan huis toe kom, nadat ek by die werk gebid het.”
Hy maak die deur oop. “Hallo my liefde,” groet hy. Sy stap sonder ‘n woord verby hom en reguit kamer toe.
John staan op. “Ek gaan maar kamer toe sodat julle kan praat.”
Die volgende oggend slaap hy laat. Elton was reeds werk toe. Ná ‘n stort en aantrek, stap hy huiwerig na die sitkamer toe, waar hy iemand hoor woel.
“Goeie môre, Jolene.”
“More,” kom haar kortaf antwoord.
Sy stap verby hom kombuis toe en keer terug met ‘n bord kos. Sy sit dit en ‘n mes en vurk op die tafel neer.
“Hier,” sê sy sonder om hom aan te kyk.
Hy eet aan die koue, hardgebakte eiers en spek. Daar is geen sny brood, sap of koffie nie. Hy kon vir homself gaan maak het, maar besluit om dit liewer te los. Ná ete was hy die bord en mes af en vee die werkoppervlak skoon, voordat hy teruggaan kamer toe.
Twee uur later, ná hy ‘n hoofstuk uit ‘n boek en een uit Jesaja gelees het — waarvan hy niks kon onthou nie, behalwe die opskrif “Geen verlossing sonder bekering nie” — besluit hy om te gaan stap.
“Jolene, ek gaan bietjie stap,” sê hy. Geen reaksie.
Hy stap sommer net ‘n rigting in en beland later by Tygerbergstasie. Sanlamsentrum is nie ver nie. Hy was al daar saam met Elton. Hy besluit om liewer daarheen te gaan as om die koue stilte by die huis te trotseer. Die Kapenaars se aksente en maniere bly vir hom vreemd, maar interessant.
Later sit hy buite die sentrum tot dit al laat is, voordat hy huiswaarts keer. Jolene maak net die deur oop en gaan sit voor die TV.
Terwyl hy aanstap kamer toe, hoor hy Elton se motor. Hy besluit om eerder in die sitkamer te gaan sit en voor te gee dat hy ook TV kyk — anders gaan Elton dalk iets vermoed.
Tydens ete, nadat Jolene opgeskep het, sê sy sy gaan kamer toe omdat sy glo ‘n hoofpyn het.
Terwyl hulle eet, vra Elton of John saam met hom kerk toe wil gaan daardie Saterdag. John stem huiwerig in — net om nie weer alleen saam met Jolene te wees nie.
Hy wonder tog hoekom Elton op Saterdae, en nie op Sondae, kerk toe gaan nie.
Saterdagoggend is John vroeg op. Hy het nie ‘n pak nie, maar trek netjies aan. Ná ontbyt vertrek hulle. Die diens begin om tienuur.
John hoop Elton gaan hom nie aan almal voorstel nie. By die kerk loop hy reguit na die derde ry van agter en gaan sit. Hy hoor nog hoe Elton sy naam noem toe hy al gesit het.
Tydens die diens loer hy kort-kort onderlangs na Elton.
Die pastoor begin praat oor Jesus wat aan die kruis van Golgota gesterf het. Hy verduidelik hoe Jesus die sondes van die wêreld op Hom geneem het. Skrifgedeeltes word voorgelees as bevestiging. Hy beklemtoon dat vergifnis altyd beskikbaar is — ons hoef dit net te vra, want die prys is reeds betaal.
Op pad huis toe vra Elton of John die diens geniet het. John antwoord bevestigend, maar vermy verdere gesprek. Hy draai die onderwerp:
“Dink jy nie dis nou tyd dat ek die volle storie hoor nie? Dis my broer waarvan ons praat, Elton.”
Elton antwoord nie dadelik nie. Hy draai af by ‘n parkie, klim uit en gaan sit op ‘n bankie. Hy wink vir John om saam te kom sit.
“Daar was eendag ‘n vrou met wie my pa ‘n verhouding gehad het,” begin hy stadig. “Sy het hom aangekla van verkragting. Die saak het in die hof beland, maar hy is vrygespreek. Dit was sy woord teen hare. Hy het volgehou hulle was saam op ‘n afgeleë plek, maar toe nog iemand opdaag, wou sy skielik huis toe gaan.”
John begin hoopvol voel. Dalk het hy sy broer verkeerd beoordeel.
“Ek het hom geglo,” gaan Elton aan. “Totdat ek eendag met ‘n vrou gepraat het — sy het gesê sy is Cheryl se skoonsuster. Sy het hulle daardie dag saam gesien. Toe sy vir Cheryl sê sy gaan dit aan haar broer vertel, het Cheryl besluit om ‘n klag in te dien. Paul het glo nooit geweet sy is getroud nie.”
John voel skuldig dat hy Paul so vinnig veroordeel het. Maar net toe die skuldgevoel intree, sê Elton:
“Maar dit was nie al nie.”
John se hart sak. Elton kyk reguit voor hom uit.
“‘n Paar maande later kom ek een aand by die huis en kry Jolene in ‘n vreeslike toestand. Sy het beweer dat my pa haar verkrag het. Sy’t saam met haar vriende gekuier en na jare weer ‘n drankie of twee geneem. Sy’t gesê sy’t haarself later kaal in ‘n bed gekry — my pa kaal langs haar. Sy het glo iets gedrink wat sy self nie kon onthou nie, en hy het saamgedrink... uit vrees dat hy haar anders sou verraai.”
John sit stil. Hy voel hoe sy keel begin trek.
“Elke verdediging wat hy gehad het was: ‘Ek kan niks onthou nie.’ Maar dit was nie genoeg nie. Ek het hom daar en dan uitgeskop. Ek wou nooit weer met hom te doen hê nie.”
Elton se stem begin bewe. “‘n Paar dae later hoor ek hy’s dood – motorongeluk. Volgens die bestuurder het hy voor die voertuig ingeloop.”
Daar is stilte. Elton se skouers ruk.
“Ek weet nie of dit selfdood was nie. Ek weet net… Ek voel skuldig. Het ek hom doodgemaak deur hom weg te jaag? En tog... hoe kan ek jammer wees vir iemand wat my vrou verkrag het?”
John sien hoe Elton huil. Versigtig plaas hy sy arm om sy skouer. Hy sê niks. Sy eie hart is stukkend. Hy voel skaam om Paul se broer te wees.
Nou verstaan hy Jolene se woede. Hoe kon hy dit nie vroeër raaksien nie? In haar oë is hy net nog ‘n Paul.
Toe Elton kalmer raak, gaan haal John ‘n bottel water uit die kar en gee dit vir hom. Elton was sy gesig en hulle ry in stilte huis toe.
Naby die huis sê Elton sag: “Jammer dat ek so ‘n tjankbalie was.”
John druk sy skouer, maar sê niks.
Daardie aand neem John hom voor om Maandag werk te gaan soek. Hy wil nie meer bedags onder Jolene se afkeurende blik wees nie.
Elton lig Jolene in oor John se plan.
“Dankie tog,” antwoord sy bitsig. “Dan kan hy sommer kyk vir ander blyplek ook as hy geld verdien.”
Opmerkings
Plaas 'n opmerking