Onder die Brug Hoofstuk 6, Wanneer Herinneringe Stilraak
deur RooiMier
Vaagweg hoor Martin stemme. Hulle kom al hoe nader. Alles voel soos ‘n droom.
’n Vrouestem sê:
“Vandag sal ons hom moet wakker maak. Die medikasie wat hom onder verdowing gehou het, behoort al uit sy sisteem te wees.”
’n Man antwoord:
“Hy was vir drie maande onder sedasie. Sy kopbesering het goed herstel. Nou hoop ons maar sy brein funksioneer normaal.”
Die vrou praat weer:
“Sodra hy sy bewussyn herwin het en ons vasgestel het of hy weet wat gebeur het, moet ons die kapelaan kry om hom te vertel dat sy gesin dood is. Ek weet egter nie wat ’n kapelaan vir hom kan doen nie. Ek glo nie in mites nie — wetenskap is al wat bestaan.”
“Ja, Helen,” antwoord die man, “ons is nie almal ateïste nie. Daar is genoegsame bewyse dat daar iets — of Iemand — groter is as net die wetenskap.”
“Nie ‘iets’ of ‘iemand’ nie, Dokter. Daar is ‘n Skepper-God. Sonder Hom het niks ontstaan nie,” kom ’n tweede vrouestem in.
“Haai, Helen, jy’t vergeet ons het verpleegster-prediker Elsa hier,” sê die dokter met ’n glimlag in sy stem.
Helen antwoord bitsig:
“’n Snaakse God wat julle dien — een wat toelaat dat mense sterf.”
“Ons lewe op ’n vervloekte aarde as gevolg van die mens se sonde. Moet asseblief nie vir God blameer nie,” sê Elsa.
“Chris, dit lyk of die pasiënt self bykom. Los vir dominee Elsa nou uit — ons moet toetse doen.”
Hulle kom nader en begin vrae aan Martin stel. Hy probeer fokus, maar daar is net een vraag wat in sy gedagtes eggo: Waar is ek? Hy weet nie. Hy weet ook nie eens wat sy naam is nie.
Hulle stel hom gerus — hy is veilig. Sy verwarring is normaal na so ’n lang koma. Hy was in ’n ongeluk, verduidelik hulle. Intussen neem die verpleegster sy polsslag en bloeddruk. Helen, die dokter, trek bloed.
Die volgende dag kom Dokter Chris weer saam met die verpleegster ingestap. Hy glimlag vriendelik.
“Jy is besig om goed aan te sterk, Martin. Al jou toetse lyk normaal, gegewe die omstandighede. Jy ervaar net ‘n mate van geheueverlies, maar dis nie iets waaroor jy jou moet bekommer nie.”
Kort daarna word hy uit intensiewe sorg verskuif.
---
Martin bly verward. Wie is hy, werklik? Hulle noem hom Martin Adriaanse, maar dit beteken niks vir hom nie. Hy weet nog steeds nie wat met hom gebeur het nie. Wanneer hy vrae vra, sê hulle vir hom die kapelaan sal later met hom praat.
Daardie middag om 16:00 kom daar ’n man ingestap wat homself voorstel as Kapelaan Van Wyk.
“Mag ek eers vir jou bid voor ons gesels?” vra hy.
Martin knik liggies. Na die gebed begin die kapelaan stadig gesels.
“Martin, jy het ’n vrou en twee kinders gehad. Estelle was jou vrou. Sandra en Craig, jou dogter en seun.”
Martin kyk hom vreemd aan.
“Gehad? En was, Kapelaan? Waar is hulle nou?”
Die kapelaan sug.
“Ongelukkig het ek slegte nuus... Hulle is almal op slag dood in die ongeluk.”
Martin staar voor hom uit. Hy weet nie wat om te sê nie. Hy ken dié mense nie — hulle name beteken niks vir hom nie.
Die kapelaan vertel hom van die ongeluk. Die besonderhede maak geen indruk nie — dis asof hy na iemand anders se storie luister.
“Is daar iets wat ek vir jou kan doen?” vra die kapelaan.
Martin skud sy kop.
“Nee dankie.”
Die kapelaan bid weer vir hom. Martin staar na die plafon, sy hart leeg. Hy wonder hoe hulle gelyk het. Hoe hulle verhouding was. Was hulle gelukkig?
Met ’n belofte om weer te kom, verlaat die kapelaan die kamer.
---
Twee weke later.
Martin stap stadig die hospitaalgang af. Hy het intussen gehoor dat ander familielede die begrafnis gereël het. Hulle het sy gesin begrawe sonder hom.
Hy voel niks nie. Geen trane, geen herinneringe, net leegheid.
Hy weet net een ding:
Hy gaan nie langer hier bly nie.
Net daar en dan besluit hy:
Hy gaan die hospitaal verlaat.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking