Slaan oor na hoofinhoud

Onder die Brug Hoofstuk 10, ’n Onverwagte Ontmoeting, ’n Ongeluk en ’n Verlore Verlede

Onder die Brug Hoofstuk 10, ’n Onverwagte Ontmoeting, ’n Ongeluk en ’n Verlore Verlede

deur RooiMier 


John klim by Kaapstad-stasie uit die taxi.

"Here, U sal moet onderneem. Ek is al langer as ’n jaar in die Kaap, maar ek ken nog nie eers regtig Kaapstad nie. Kapenaars… hulle is soos vreemdelinge. Ek sal hulle seker nooit verstaan nie."


Hy stap doelloos oor die dek. By die trappe agter af, voel iets skielik bekend. Dis waar hy destyds afgeklim het, die eerste keer toe hy hier aangekom het.


Mense spoed verby in alle rigtings — elkeen in sy eie wêreld. Aktetasse, sportsakke, werkers, bedelaars. Niemand groet nie. Niemand kyk op nie. Party loop soos zombies, oë vasgepen aan hul selfone. Twee stamp in mekaar vas. Niemand sê jammer nie.


‘n Prediker probeer sy boodskap bring, maar die mense ignoreer hom. Net een man lyk of hy luister. John nader hom en hoor die laaste woorde:


“In die laaste dae sal mense liefdeloos wees. Hulle sal hulself meer liefhê as vir God… Lees dit in 2 Timoteus 3. Mag u genade vind by God.”

Die prediker loer op sy horlosie en hardloop haastig weg.


“Ja, julle God het vir my niks beteken nie,” hoor John toe hy by die man kom. Die man praat nie met hom nie — maar met die wind. Of met homself.


“Alles werk ten goede mee vir dié wat die Here liefhet,” sê John sag. “Middag. Ek is John. Hoekom so mismoedig?”


“Wat het dit met jóú te doen? Moenie nou met daai donker-wolk-met-’n-silwer-randjie-storie kom nie. Of gaan jy my vertel my wonderwerk wag om die hoek?”


“Dan bly ek stil,” sê John rustig. “Ek soek ’n skuilplek vir vanaand. Môre sal ek weer aanstap.”


Die man bars uit van die lag.

“Ek het self nie eers ’n behoorlike skuilplek nie. Ek’s Martin.”


“Jy lyk nie soos ’n boemelaar nie,” sê John.


“Bergie,” antwoord Martin droog.


“Wat sê jy?”


“Ons’s nie meer ‘boemelaars’ nie. Dis nou ‘bergies’. Dis wat hulle sê.”


John lag. “’n Mens leer seker elke dag iets nuuts. Waar bly jy dan?”


“Onder die halwe brug.”



---


Drie jaar later.


Martin tel ’n koerant op — 22 Mei 2022. Hy lees die opskrif hardop:


“R22 miljoen vir vlag.”

Hy skud sy kop. “Seker ’n grap. ’n Sieke een.”


“Beslis,” sê John. “Geen land kan nou soveel aan ’n vlag spandeer nie. Na alles wat ons verloor het met COVID — lewens, werk, stabiliteit. Ek kan nog steeds nie glo my nefie Elton is dood nie.”


“Kom,” sê Martin. “Kom ons gaan kry kos by die sopkombuis. Ek is honger.”


Later die middag stap hulle in Foreshore rond. Skielik brul ’n rooi Ferrari op hulle af. John spring uit die pad. Martin vries.


Remme gil.


Die Ferrari stamp hom liggies. Hy val, sy kop slaan teen die randsteen.


Ander motors stop. John sit eenkant, bewend.


“Nie vandag nie, Here,” fluister hy. “Ek was vanoggend seker. Vandag moes U Uself aan Martin openbaar. Nou dit?”


Twee mans hardloop na die Ferrari. Een vra:


“Is u oraait, dame?”

Die ander kners: “Die verdompte bergies gaan nog mense doodmaak. Sit hulle in kampe — ver van ordentlike mense af.”


Die bestuurder klim uit. ’n Vrou. Sy kyk na haar motor.

“Geen skade nie,” sê sy droog.


Dan sien sy Martin.

“Hy lewe nog. Ek bel die nooddienste.”


John hoor alles asof deur ’n glaswand. Hy sit steeds daar.


Iemand skree: “Maak dat jy padgee, jy bring vlieë!”

Hy bly sit.


Polisie arriveer. Hulle praat met die Ferrari-bestuurder, stap na Martin en gee hom ’n ligte skop. Tevrede dat hy lewe, stap hulle terug.


“Is u seker u is okay?” vra ’n sersant.


“Ja. My besigheidskaartjie is in die motor. Bel my as daar iets is. Ek’t ’n afspraak.”


Toe sy weg is, kom die ambulans. Net die polisie, John, en twee mense oor die pad bly agter.


“Hy het voor die voertuig ingestap,” sê die sersant aan ’n paramedikus. “Ons’t nie die bestuurder se besonderhede nie, maar daar gaan niks hiervan kom nie.”


Hy draai na sy kollega. “Sy het my R2000 gegee.”


“Dink so. Jy’t lank gevat vir daai besigheidskaartjie,” fluister die ander.


John hoor dit alles. Hy staar hulle stom aan. Hy stap na die ambulans.


“Waar vat julle hom heen?”


“Ons kyk waar daar plek is. Dis ’n staatsgeval. Maar moenie bekommer nie — hy gaan leef.”

Die paramedikus druk R50 in John se hand. “Ek bid vir julle.”



---


Daardie nag word Martin wakker.


“Waar is ek?”


’n Gille uit sy geheue. Skreeuende bande. Maar dit is nie Foreshore nie. Dis Chapman’s Peak. ’n Mercedes gly deur die lig, af die afgrond in.


Hy hoor haar stem: “Here, help ons!”


“Estelle? Estelle, waar’s jy? Waar’s julle? Sandra? Leo? Craig?”


’n Verpleegster hardloop in. “Meneer, wat gaan aan?”


“Waar is ek? Was ek weer in ’n ongeluk? Ek onthou! Ek onthou alles!”


“Ek kry die nagsuster,” sê sy en verdwyn.


’n Rukkie later kom die suster aan, sonder enige dringendheid. Sy gesels nog eers met ’n ander verpleegster.


“Ek verstaan, jy is deurmekaar. Dis niks ongewoons nie.”


“U verstaan nie, suster…”


“Moenie bekommer nie. Ons gee iets vir die pyn. Jy sien môre die dokter.”


“Maar suster, ek onthou!”


“Stil nou. Jy’s nie meer op straat nie.”


Sy loop uit. Die verpleegster gee vir hom medikasie. ’n Rukkie later slaap hy.



---


John kan nie slaap nie. Hy lê onder die brug, oë vasgenael teen die beton.


“Here… U het dan belowe.”

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...