Onder die Brug Hoofstuk 10, ’n Onverwagte Ontmoeting, ’n Ongeluk en ’n Verlore Verlede
deur RooiMier
John klim by Kaapstad-stasie uit die taxi.
"Here, U sal moet onderneem. Ek is al langer as ’n jaar in die Kaap, maar ek ken nog nie eers regtig Kaapstad nie. Kapenaars… hulle is soos vreemdelinge. Ek sal hulle seker nooit verstaan nie."
Hy stap doelloos oor die dek. By die trappe agter af, voel iets skielik bekend. Dis waar hy destyds afgeklim het, die eerste keer toe hy hier aangekom het.
Mense spoed verby in alle rigtings — elkeen in sy eie wêreld. Aktetasse, sportsakke, werkers, bedelaars. Niemand groet nie. Niemand kyk op nie. Party loop soos zombies, oë vasgepen aan hul selfone. Twee stamp in mekaar vas. Niemand sê jammer nie.
‘n Prediker probeer sy boodskap bring, maar die mense ignoreer hom. Net een man lyk of hy luister. John nader hom en hoor die laaste woorde:
“In die laaste dae sal mense liefdeloos wees. Hulle sal hulself meer liefhê as vir God… Lees dit in 2 Timoteus 3. Mag u genade vind by God.”
Die prediker loer op sy horlosie en hardloop haastig weg.
“Ja, julle God het vir my niks beteken nie,” hoor John toe hy by die man kom. Die man praat nie met hom nie — maar met die wind. Of met homself.
“Alles werk ten goede mee vir dié wat die Here liefhet,” sê John sag. “Middag. Ek is John. Hoekom so mismoedig?”
“Wat het dit met jóú te doen? Moenie nou met daai donker-wolk-met-’n-silwer-randjie-storie kom nie. Of gaan jy my vertel my wonderwerk wag om die hoek?”
“Dan bly ek stil,” sê John rustig. “Ek soek ’n skuilplek vir vanaand. Môre sal ek weer aanstap.”
Die man bars uit van die lag.
“Ek het self nie eers ’n behoorlike skuilplek nie. Ek’s Martin.”
“Jy lyk nie soos ’n boemelaar nie,” sê John.
“Bergie,” antwoord Martin droog.
“Wat sê jy?”
“Ons’s nie meer ‘boemelaars’ nie. Dis nou ‘bergies’. Dis wat hulle sê.”
John lag. “’n Mens leer seker elke dag iets nuuts. Waar bly jy dan?”
“Onder die halwe brug.”
---
Drie jaar later.
Martin tel ’n koerant op — 22 Mei 2022. Hy lees die opskrif hardop:
“R22 miljoen vir vlag.”
Hy skud sy kop. “Seker ’n grap. ’n Sieke een.”
“Beslis,” sê John. “Geen land kan nou soveel aan ’n vlag spandeer nie. Na alles wat ons verloor het met COVID — lewens, werk, stabiliteit. Ek kan nog steeds nie glo my nefie Elton is dood nie.”
“Kom,” sê Martin. “Kom ons gaan kry kos by die sopkombuis. Ek is honger.”
Later die middag stap hulle in Foreshore rond. Skielik brul ’n rooi Ferrari op hulle af. John spring uit die pad. Martin vries.
Remme gil.
Die Ferrari stamp hom liggies. Hy val, sy kop slaan teen die randsteen.
Ander motors stop. John sit eenkant, bewend.
“Nie vandag nie, Here,” fluister hy. “Ek was vanoggend seker. Vandag moes U Uself aan Martin openbaar. Nou dit?”
Twee mans hardloop na die Ferrari. Een vra:
“Is u oraait, dame?”
Die ander kners: “Die verdompte bergies gaan nog mense doodmaak. Sit hulle in kampe — ver van ordentlike mense af.”
Die bestuurder klim uit. ’n Vrou. Sy kyk na haar motor.
“Geen skade nie,” sê sy droog.
Dan sien sy Martin.
“Hy lewe nog. Ek bel die nooddienste.”
John hoor alles asof deur ’n glaswand. Hy sit steeds daar.
Iemand skree: “Maak dat jy padgee, jy bring vlieë!”
Hy bly sit.
Polisie arriveer. Hulle praat met die Ferrari-bestuurder, stap na Martin en gee hom ’n ligte skop. Tevrede dat hy lewe, stap hulle terug.
“Is u seker u is okay?” vra ’n sersant.
“Ja. My besigheidskaartjie is in die motor. Bel my as daar iets is. Ek’t ’n afspraak.”
Toe sy weg is, kom die ambulans. Net die polisie, John, en twee mense oor die pad bly agter.
“Hy het voor die voertuig ingestap,” sê die sersant aan ’n paramedikus. “Ons’t nie die bestuurder se besonderhede nie, maar daar gaan niks hiervan kom nie.”
Hy draai na sy kollega. “Sy het my R2000 gegee.”
“Dink so. Jy’t lank gevat vir daai besigheidskaartjie,” fluister die ander.
John hoor dit alles. Hy staar hulle stom aan. Hy stap na die ambulans.
“Waar vat julle hom heen?”
“Ons kyk waar daar plek is. Dis ’n staatsgeval. Maar moenie bekommer nie — hy gaan leef.”
Die paramedikus druk R50 in John se hand. “Ek bid vir julle.”
---
Daardie nag word Martin wakker.
“Waar is ek?”
’n Gille uit sy geheue. Skreeuende bande. Maar dit is nie Foreshore nie. Dis Chapman’s Peak. ’n Mercedes gly deur die lig, af die afgrond in.
Hy hoor haar stem: “Here, help ons!”
“Estelle? Estelle, waar’s jy? Waar’s julle? Sandra? Leo? Craig?”
’n Verpleegster hardloop in. “Meneer, wat gaan aan?”
“Waar is ek? Was ek weer in ’n ongeluk? Ek onthou! Ek onthou alles!”
“Ek kry die nagsuster,” sê sy en verdwyn.
’n Rukkie later kom die suster aan, sonder enige dringendheid. Sy gesels nog eers met ’n ander verpleegster.
“Ek verstaan, jy is deurmekaar. Dis niks ongewoons nie.”
“U verstaan nie, suster…”
“Moenie bekommer nie. Ons gee iets vir die pyn. Jy sien môre die dokter.”
“Maar suster, ek onthou!”
“Stil nou. Jy’s nie meer op straat nie.”
Sy loop uit. Die verpleegster gee vir hom medikasie. ’n Rukkie later slaap hy.
---
John kan nie slaap nie. Hy lê onder die brug, oë vasgenael teen die beton.
“Here… U het dan belowe.”
Opmerkings
Plaas 'n opmerking