Die Verlore Seun – Hoofstuk 13
Die Slot
Rooi Mier
Josáfat voel oorweldig. Hy het op die meeste verwag dat sy pa hom ’n dienskneg sou maak nadat hy soveel hartseer veroorsaak het.
Dieselfde vader wat hy verwerp het, verwelkom hom nou met ope arms terug.
Daar is absoluut niks wat hy kan doen om dit te vergoed nie.
Hy dink aan sy verlede. Alles wat hy deurgemaak het, was die gevolg van sy eie keuses. Hy het sy pa geblameer omdat hy sogenaamde “outydse” waardes op hom afgedwing het. Nou besef hy: sy pa het dit nie afgedwing nie — hy het hom ’n keuse gegee. Om binne die raamwerk van familie-waardes te leef, was sy eie besluit.
Hy het Markus ook geblameer. Maar waarvoor? Omdat Markus gehoorsaam was? Omdat hy die waardes nie net aanvaar het nie, maar geleef het?
Ag, as ek maar net nie so kortsigtig was nie, kon ek my al die pyn gespaar het.
“Ja, Josáfat,” hoor hy sy pa se stem in sy gedagtes, “sonde en ongehoorsaamheid bring pyn — meestal vir jouself. Ons word vir ons eie sondes verantwoordelik gehou, nie vir iemand anders s’n nie, en beslis nie vir die duiwel s’n nie. Hy plaas dalk die versoeking voor jou, maar hy doen nie die daad nie. Die keuse bly joune.”
Waar is Markus? Ten spyte van alles is hy lief vir sy broer. Hy verlang na hom en wil om vergifnis vra. Sy Hemelse Vader het hom vergewe; sy aardse vader het hom vergewe — maar sal sy broer?
Hy besef: jy kan nie beheer hoe ander voel nie. Al wat jy kan doen, is om vergifnis te vra sonder om iets terug te verwag.
“Ek verlang na ’n bord kos uit my ma se hande. Niemand maak kos soos my eie ma nie.”
Hy glimlag oor ’n ou gesprek.
“Ma se kos is net eenmaal lekker. Ek kan altyd proe wanneer Ma kook en wanneer dit een van die diensmeisies is. Wat maak Ma se kos so spesiaal?”
“Liefde, my kind — moederliefde. Ek maak dit met omgee en liefde as hoofbestanddele.”
Die Fees
Markus is vroeg reeds op pad huis toe. Absalom het die werkers opdrag gegee:
“Ons gaan vandag fees vier. Maak seker die diere het water en kom dan terug. Slag die vetgemaakte kalf. My seun was verlore, maar hy is terug. Haal ook van ons beste wyn — daar moet nie ’n tekort wees nie.”
Teen twee-uur die middag is die fees in volle gang. Musiek, sang en dans vul die lug.
Markus hoor die lawaai van ver af.
Watter fees is dit? Daar is niks op ons kalender nie…
Hy roep ’n dienskneg nader.
“Wat gaan hier aan?”
“U broer is tuis, meneer. Meneer Absalom het die vetgemaakte kalf laat slag.”
Markus raak ontsteld — toe woedend. Hy weier om in te gaan.
Absalom gaan na hom toe.
“Marcus, my seun, jy is net betyds.”
“Betyds vir wat, Pa? Vir die seun wat alles verwerp het? Wat alles deurgebring het?”
“Is jy dan nie bly dat hy nog lewe nie?”
“Hoe kon jy, Pa? Ek dien jou al jare getrou — vir my is daar nie eens ’n bokkie geslag nie.”
Absalom antwoord sag:
“Jy is altyd by my, my seun. Alles wat ek besit, is joune. Jy het toegang tot alles. Daar is geen rede vir jaloesie nie. So verwelkom ons Hemelse Vader ons ook — met oop arms wanneer ons terugkeer.”
“Kom, wees bly saam met ons. Jou broer is terug in die kraal.”
Lukas 15:23–24
“Bring die vetgemaakte kalf en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; hy was verlore en is gevind.”
Lukas 15:10
“So is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Amen.
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking