Slaan oor na hoofinhoud

Dronkaard

Dronkaard

- Onbekend

Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy verkreukelde hoed styf in sy hand vasgeklem. Die plooie trek donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou.

Sy klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al beter dae gesien. Sy hare wapper in drie slierte om sy voorkop, sonverbrand.

"Boetie! Boetie!" roep hy na my.

Ek gee hom een kyk en kyk dan anderpad.

Net nog 'n boemelaar, net nog 'n bedelaar.

"Boetie! Boetie!" roep hy weer.

Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop.

"Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat." Sy stem is skor.

"Seker van al die drank," dink ek, klim in die motor en sluit die deur

Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en verwaarloos na my aangestap.

Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam en alleen.

"Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan kan jy suip tot jy omval," gaan deur my gedagtes. Ek kry eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk agter. Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog. "Ja, joune ook," sê ek hardop, "net soos jou soort is - as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige."

By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige bedelaar, wat ek gesien het.

Vroulief is dadelik Moeder Hen : "Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën."

"Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd 'n plan, hy wurm hom met 'n sak wyn iewers in 'n kombers toe en verdrink die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal daai drankgeldjies meer kosbaar maak."

"Dawid, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is ook net ʼn mens, net soos jy," berispe Vroulief.

"Wat, 'n man soos ek? As hy ʼn man was, het hy 'n manier gesoek om 'n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet, my arbeid ... Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel."

Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my gemaklik op die stoep, bier in die hand.

" Kan ook nie jou mond hou nie," mompel ek.

My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie biltong. Hy lek my hand dankbaar.

Eensklaps staan vrou in die deur.

"Dawid, ek het vir die man 'n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor die muur, ons vat dit ook."

Ek ken die stemtoon, onverbiddelik.

"Vrou, is jy gek? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger," probeer ek walgooi.

"Dawiddddd ... as jy nie wil ry nie....... sal ek," druk sy dit uit..

Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se dag hang hiervan af.

Ek staan op, vat die motorsleutels, en draai half vermakerig na haar: "Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self."

Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief klou die pakkie op haar skoot vas. Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom op die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.

"Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk."

Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers. Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.

"Nog dronkverdriet ook", dink ek.

"Omie, ek het ietsie gebring om te eet", praat Vroulief sag en vat sy hande in hare.

Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom deur die plooi-dongas.

"Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee weke nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag ... sonder om te luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het vir my 'n engel gestuur. Asseblief, gaan help die tannie ... asseblief, gaan help haar."

Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom, die hartseer is diep en skerp.

My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons besef: "Ek is my broer se herder"?

Raak iemand se lewe vandag aan

Lukas 6:31 Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

“Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik.”—Hebreërs 13:16


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...