ONDER DIE BRUG Hoofstuk 1, Waar hoop en honger mekaar ontmoet
deur Rooimier
Stadig, honger en moeg staan hy op uit sy bed onder die halwe brug in die stad. Hy gryp ’n bottel water wat langs hom staan.
Die water is bruinerig in die plastiek 2-liter bottel. Hy vat ’n sluk, spoel sy mond en spuug dit uit voordat hy weer sluk om sy knaende hongerpyn te probeer stil.
Dan gooi hy nog ’n bietjie op sy linkerhand, was sy vuil maar bruin gesig, en vee sy nat hand oor sy baard en hare wat vaalgrys vertoon.
Sy buurman se plastiekkombers roer en gee hom ’n skewe, geelbruin, haasbek-glimlag, asof hy nou wakker word in sy vyfsterkamer. Hy lyk op die oog af so sorgeloos.
“Môre, Martin,” groet hy. Hy vlieg op, hardloop om die pilaar om leeg te maak. “Man, se knypers is mos nie meer so goed nie.”
Martin is elke dag verwonderd oor die positiwiteit van hierdie oud-Upingtonner. Eintlik is hy van Kanon Eiland, maar niemand hier rond weet waar dit is nie. So hy is van Upington – uit en gedaan.
Hy kom terug en vra: “Het jy gebid? Ai, hoekom moet ek so met jou sukkel!”
“John, vandag los jy en jou Here my uit; moenie met my skoor soek nie.”
“Maar ek wil net…”
“Ja, jy wil net sê: alles werk ten goede mee vir diegene wat op die Here vertrou.”
“Jy sê dit al drie jaar vandat ek jou ken, maar kyk hoe lyk jy. Onpaar, stukkende skoene; vuil jas en ’n broek wat geskeur is.”
“Martin, ek hóóp op die Here. Bly stil – ek wil bid!”
Hy kniel net daar op sy plastiekkombers en vra dat God hulle moet vergewe, bewaar en vir hulle voorsien.
Martin skud sy kop en verwonder hom oor die onwrikbare geloof in ’n God wat nooit vir hulle deurkom nie. Hy het ook eens aan Hom geglo.
Sy oog val op ’n koerant-voorblad wat teen sy been gewaai het. Die datum wys 22 Mei 2022 – twee dae gelede.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking