Slaan oor na hoofinhoud

Onder die Brug Hoofstuk 1, Waar hoop en honger mekaar ontmoet.

ONDER DIE BRUG Hoofstuk 1, Waar hoop en honger mekaar ontmoet 

deur Rooimier

Stadig, honger en moeg staan hy op uit sy bed onder die halwe brug in die stad. Hy gryp ’n bottel water wat langs hom staan.

Die water is bruinerig in die plastiek 2-liter bottel. Hy vat ’n sluk, spoel sy mond en spuug dit uit voordat hy weer sluk om sy knaende hongerpyn te probeer stil.

Dan gooi hy nog ’n bietjie op sy linkerhand, was sy vuil maar bruin gesig, en vee sy nat hand oor sy baard en hare wat vaalgrys vertoon.


Sy buurman se plastiekkombers roer en gee hom ’n skewe, geelbruin, haasbek-glimlag, asof hy nou wakker word in sy vyfsterkamer. Hy lyk op die oog af so sorgeloos.

“Môre, Martin,” groet hy. Hy vlieg op, hardloop om die pilaar om leeg te maak. “Man, se knypers is mos nie meer so goed nie.”


Martin is elke dag verwonderd oor die positiwiteit van hierdie oud-Upingtonner. Eintlik is hy van Kanon Eiland, maar niemand hier rond weet waar dit is nie. So hy is van Upington – uit en gedaan.


Hy kom terug en vra: “Het jy gebid? Ai, hoekom moet ek so met jou sukkel!”

“John, vandag los jy en jou Here my uit; moenie met my skoor soek nie.”

“Maar ek wil net…”

“Ja, jy wil net sê: alles werk ten goede mee vir diegene wat op die Here vertrou.”

“Jy sê dit al drie jaar vandat ek jou ken, maar kyk hoe lyk jy. Onpaar, stukkende skoene; vuil jas en ’n broek wat geskeur is.”


“Martin, ek hóóp op die Here. Bly stil – ek wil bid!”

Hy kniel net daar op sy plastiekkombers en vra dat God hulle moet vergewe, bewaar en vir hulle voorsien.


Martin skud sy kop en verwonder hom oor die onwrikbare geloof in ’n God wat nooit vir hulle deurkom nie. Hy het ook eens aan Hom geglo.

Sy oog val op ’n koerant-voorblad wat teen sy been gewaai het. Die datum wys 22 Mei 2022 – twee dae gelede.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...