Die Verlore Seun – Hoofstuk 10
Rooi Mier
Leah sit op die stoep en wieg heen en weer. Vandag is sy ekstra tranerig.
“Ek verlang so baie na my kind. Wat eet hy? Het hy ’n dak oor sy kop? Asseblief, Here, stuur tog my kind terug huistoe.”
Sy lig haar kop op van die naaldwerk en kyk verlangend in die rigting waarheen sy altyd kyk. Niks.
Iets vang haar oog ’n bietjie meer oos. Twee figure kom aangestap.
“Ek wonder wie dit nou kan wees. My oë is ook nie meer wat dit moet wees nie. Magdalena! Magdalena!”
Die diensmeisie verskyn in die deur.
“Ek is hier, mevrou.”
“Hoe ver is die kos?”
“Nog so ’n halfuur, mevrou.”
Leah beduie in die rigting van die aankomende figure.
“Daar kom mense aan. Hulle sal seker honger wees.”
“O, mevrou… ek sien hulle nou. Wag ’n bietjie — dit is meneer wat iemand ondersteun. Die persoon lyk baie swak. Hy leun op sy skouer.”
Leah se hart begin skielik vinniger klop. Sy probeer so kalm as moontlik klink.
“Kyk mooi. Kan jy die ander persoon herken?”
“Nee, mevrou… hulle kom stadig en sukkelend aan. Dit wil tog vir my voorkom of daar iets bekends aan hom is.”
Leah sê niks. Haar hart bokspring.
“Mevrou! Mevrou! Dit lyk vir my na—nee, dit kan nie wees nie. Die persoon lyk te vuil en verflenter. Dit kan nie hy wees nie.”
“Wie, Magdalena?”
Leah sit haar naaldwerk neer en staan regop.
“Dit is hy, mevrou. Dit is…”
“Josáfat! Dit is Josáfat! My seun, my seun! Watter ma sal haar kind nie ken nie?”
Leah sak terug op die stoel neer. Verligting, blydskap—wat voel sy alles? Haar stem bewe, asof sy enige oomblik in trane kan uitbars.
“Kry waswater gereed, Magdalena.”
“Ek maak so, mevrou.”
Magdalena se hart sak in haar skoene.
Hoekom moes hy terugkom? Ons het in vrede gelewe. Gaan hy nou weer alles omkrap? En my dogter Sarah? Sy was so bang vir hom…
Sy gaan maak die bad gereed.
Absalom en Josáfat is nou net meter van die huis af. Skielik gaan Josáfat stil staan.
“Pa, baie dankie dat u my ondersteun het. Dit is nie meer nodig nie.”
“Kom, my seun. Ek help jou tot in die huis.”
“Nee, pa—of altans… nee, meneer.”
“Meneer?”
“Ja, meneer. Ek is nou net ’n huurling by u. Ná wat ek aan u gedoen het, kwalifiseer ek nie meer as u seun nie. Vergewe my asseblief. Ek was ’n dwaas. As ek slaapplek by die huurlinge kan kry, sal ek môreoggend douvoordag begin werk — waar u my ook al wil plaas, mits u my net vandag toelaat om te rus.”
“Moenie jou belaglik hou nie. Ek het jou lankal vergewe. Hoe kan ek my eie seun ’n huurling maak? Kom — jou ma wag.”
“Maar, meneer, ek het alles wat u my gegee het, met slegte mense deurgebring.”
“En jou punt is? My kind se waarde kan nie aan enige materiële dinge gemeet word nie.”
Leah kan nie langer wag nie. Sy stap nader, omhels haar seun en soen hom. Haar trane vloei vrylik.
“Dankie, Here! Dankie, Here, dat U my gebed verhoor het! My seun het teruggekom!”
“Ek stink, Mammie. U kan my nie so omhels nie.”
“Lyk dit vir jou of ek omgee, my kind? Daar is geen reuk wat my gaan weerhou om my seun te groet nie. Kom nou binne, sodat jy kan eet en rus.”
“Maar ek het nie net teenoor u-hulle gesondig nie. Ek het ook teen God gesondig. U weet hoe ek gespot het oor jul geloof in Jesus. U-hulle het my vergewe, maar sal God my vergewe?”
“Jy weet mos hoe dit werk, my kind. Wanneer ons weer vir Paasfees na die tempel gaan, sal ons ’n lam offer vir ons sondes. Volgens die Skrifte sal Jesus eendag ons sondes op Hom neem, maar vir nou bring ons die offer.” (Jesaja 53:5)
“Kom nou binne. Magdalena het vir jou ’n bad voorberei. Daarna kan jy eet. Ek gaan intussen jou bed regmaak.”
Terwyl Josáfat gaan was, sak Absalom en Leah op hul knieë neer en dank God.
Word vervolg…
Lukas 15:21
“En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.”
#VerloreSeun
© Rooi Mier – 06.12.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking