Slaan oor na hoofinhoud

Onder die Brug Hoofstuk 7, Waarheen Nou?

Onder die Brug Hoofstuk 7, Waarheen Nou?

deur RooiMier 


Die volgende oggend, ná die dokter se roetine-ondersoek, haal Martin stilletjies sy klere uit die bedkasie. Terwyl die personeel besig is met oordrag tussen die nag- en dagskof, glip hy ongemerk uit. Niemand sien hom nie.


In een van die openbare kleedkamers trek hy die klere aan wat, volgens die susters, ‘n familielid met haar eerste én laaste besoek gebring het. Hy los die hospitaalklere net daar agter en stap by die hospitaal uit.


Buite begin hy eenvoudig in ’n rigting stap. Alles voel vreemd, maar daar is iets vaags bekend aan die strate en geboue. Hy kom later op ‘n straat af — die naam op die bord lees Voortrekkerweg.


Terwyl hy stap, merk hy 'n lang begraafplaas aan sy regterkant op. Die lang ry grafstene en ou bome trek sy aandag. Hy begin honger raak en onthou toe van die beursie wat in sy besittings was — die een wat bloedbevlek was. Hy het dit gisteraand in sy broeksak gesit. Daar was geld in.


Aan die oorkant van die straat sien hy ‘n ou kafee. Hy gaan binne. Agter die toonbank staan ‘n Moslem-man. Die eerste ding wat Martin opmerk, is ‘n skinkbord met groot, vars samoosas. Hy koop twee samoosas en ‘n koeldrank.


Hy steek die pad oor en gaan sit onder ’n boom in die begraafplaas. In die koelte eet hy stadig. Die stilte hier is anders — ’n vrede, maar ook ‘n pynlike een.


Nadat hy geëet het, begin hy tussen die grafte deurstap. ‘n Eenvoudige grafsteen vang sy oog. Hy vries.


Martin Adriaanse — Oorlede 1995


Hy staar na die graf. Dis sy naam. Maar die datums stem nie ooreen nie. Is dit ‘n familielid? Sy pa dalk? ’n Oom? Hoe het dié persoon gesterf? Wat is die kans dat hy vandag hier beland, by hierdie graf?


Volgens die dokters moes hyself hier gelê het. Hulle glo dat hulle hom gered het. Helen, die ateïstiese dokter, glo dit was wetenskap. Maar Elsa, die verpleegster, het gesê dit was die Here wat ingegryp het.


Maar... waarom dan net hý? Waarom nie ook sy gesin nie?


Hy voel ’n rukwind oor sy gesig. 'n Bitterheid begin diep in hom opborrel. Bitter teenoor 'n God wat hy nie ken nie — wat hy nie verstaan nie.


As God my gered het, waarom dan sonder hulle?

Sy gesin is vir hom nou net name — gesigte op 'n foto. En tog... is daar hierdie verlange. Hierdie eensaamheid. 'n Leemte.


Sal ek hulle ooit weer onthou?


Hy draai weg van die graf en stap verder — in die rigting van die berg.



---


Laatmiddag kom hy in die stad aan. Sy voete pyn, sy lyf is moeg.


"Het ek die regte ding gedoen?" vra hy homself hardop. Hy het geen plan nie. Daar êrens in hierdie groot Kaap is glo ’n huis wat aan hom behoort. Maar hy wil nie daarheen gaan nie. Hy weet nie waar dit is nie, en selfs al het hy geweet — hoekom sou hy?


Voor hom stap ’n jongman en meisie. Die jongman sê, “Kom ons gaan sit in die tuine.”


Martin besluit om hulle te volg.


Die Kompanjiestuin is rustig. Groen, koel, vol bome en bankies. Mense sit op die gras en gesels. Hy gaan sit eenkant, op ‘n stukkie skaduwee. Later lê hy ook — soos die ander.



---


’n Sekuriteitswag skud hom wakker.

“Meneer, u moet die tuine verlaat. Ons maak toe.”


Verward sit Martin regop. Hy kyk rond. In die skemer sien hy ’n man wat agter ‘n struik probeer wegkruip.


Die wag merk dit ook.

“Kom nou, James,” roep hy. “Jy probeer elke dag, maar ek vang jou elke keer. Hier’s kos wat ek vir jou gebring het — maar jy moet nou gaan.”


’n Skraal, verwaarloosde man met ’n verslete broek kom uit die skadu. Hy vat die kos.


“Dankie, boss. Bid vir my,” sê hy sag en loop na die syhekkie. Een hand hou sy broek op.


Die wag glimlag moeg.

“Ek sal, James. More weer dieselfde storie, né?”


Met ’n slot in die hand beduie hy vir Martin om vinniger te maak. By die hek uit stap Martin oor die pad en gaan sit teen die muur van die Hooggeregshof.


Hy staar in die verte.


Waarheen nou?

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...