#Stukkendeharte Hoofstuk 40 - Rooi Mier
"Wat doen jy in my kamer Willem?" Steven staan in die deur. Hy is die stil tipe wat net praat as hy 'n dop of twee in het. Hy klink egter vandag geïrriteerd. Die teenwoordigheid van al die mense die heletyd maak hom mal. Mense wat sê ek weet hoe jy voel, terwyl jy dink hoe kan jy weet?
Weet hulle wat dit is as jy nie openlik oor jou dogter mag rou nie? Steven is nog van die geslag waar mense nie glo mans behoort te huil nie.
Gisteraand toe sy vrou slaap het hy in die voorkamer kom sit en sy trane kon vloei waar daar geen oë of ore is nie. Hy doen dit al van kleins af. As agtjarige seun het hy sy arm gebreek en toe die pyn kom het sy pa hom nie toegelaat om te huil nie want hy is 'n man.
Die inhou van emosies maak hom vanoggend krapperig.
Willem staan met die brief wat Sally vir haar ouers geskryf het in sy hand. Die brief is uit die koevert gehaal en oop. Het hy dit gelees?
"Wat gaan aan my broer? Ek wou net die brief na julle toe gebring het sodat ons Sally se laaste woorde aan ons kan lees. Sy was mos ons kind."
Steven stap vinnig vorentoe en gryp die brief uit sy hand.
"Jy wou die brief lees Willem. Ek ken jou. Jy is my ouer broer maar dié is my gesin. Ek is al 'n groot man en ek het lank genoeg toegelaat dat jy my boelie. Dit stop vandag. Uit my slaapkamer uit. Ek en Sarie sal ons kind se brief lees wanneer ons reg is om dit te doen."
Sarie het die harde woorde gehoor en verskyn in die slaapkamer se deur.
"Wat gaan hier aan Steven?"
"Willem is net oppad uit ons kamer uit."
Sy stemtoon laat Sarie verwonderd na hom kyk. Nog nooit het Steven met soveel drif gepraat nie.
"Ons moet tyd maak om die brief te lees Sarie. Kan ons dit doen sodra ons alleen is later? Die klomp anties kan nou gerus hul ry kry."
"Sjuut Steven. Netnou hoor die mense jou."
Sy stap uit voorkamer toe. Die Steven ken sy nie. Hy was altyd een vir die agtergrond. In die proses het almal maar oor hom geloop veral as hy nugter is.
"Tee?"
"Ek sal maak Sarie." Dit is die buurvrou.
"Goeie middag Lawrence. Kom sit asseblief."
Sahara se hart skop alweer wild maar sy kry dit mooi reg om dit weg te steek.
"Hallo Sahara. Pa en Mammie, is ek welkom?"
"Jy is as dit goed is met Sahara."
Iris gee hom 'n kyk wat boekdele spreek. Dit laat Lawrence ongemaklik voel want hy weet hy was lelik met sy ouers.
"Kan ek iets voor sit om aan te knibbel? Lawrence, iets warms of koud om te drink?"
"Koeldrank of sap sal goed wees dankie."
"Koeldrank sal dit wees."
"Mag ek help?" Iris staan alreeds op voordat sy 'n antwoord gekry het.
"Natuurlik Mevrou. Alles is eintlik alreeds gereed. U kan my net help dra."
Lawrence maak gebruik van die kans om sy pa om vergifnis te vra waarop sy pa positief reageer.
Toe almal sit vra Sahara, " Hoe seker is u dat ek u dogter is."
"Sahara, ek het nie dna toetse nodig nie. As jy weet dan weet jy. Jy en Lawrence het dieselfde trekke, albei van julle is goed met getalle soos ek ook is. Julle oë is dieselfde soos my pa sn was. Indien jy wil bevestig kan ons maar daai roete gaan."
"Meneer, ek moet nog dink daaroor maar ek dink tog daar is 'n band."
"Wanneer jy reg is. Net 'n vraag, sal dit vir jou moontlik wees om my Oom in plaas van Meneer te noem?
"Ek sal u Oom en Antie noem. As dit reg is met u." Sy kyk na Iris.
"Ek het grootgeword met Antie in plaas van Tannie."
"Ek het nie 'n probleem daarmee nie." Iris glimlag vir haar.
Tot dusver het Lawrence nog net sit en luister.
Hy besluit dat hy nie net kan stilbly nie. Hy gaan nou die onderwerp wat hy weet op almal se brein lê adresseer.
"Pa, Mammie julle weet dat ek lief is vir Sahara. Jy weet dit mos ook Sahara. Ek is dankbaar dat pa u dogter gevind het. Dit gaan egter vir my moeilik wees om die omskakeling te doen. Glo my, ter wille van ons almal teenwoordig sal ek dit nou gedoen het as dit moontlik was. Dit gaan egter tyd vat.
Ek sal ongemaklik wees in haar teenwoordigheid. Hoe lank dit gaan neem kan ek nie sê nie maar ek sal uiteindelik daar kom."
"Lawrence dit is reg met my. Ek hoop jou ouers verstaan."
Sy het nog nooit vir Lawrence gesê sy is lief vir hom nie so sy gaan dit ook nie nou doen nie. Dit is beter as hy dink dit kom van een kant af. Heimlik stem sy met alles saam wat hy gesê het.
Hulle gesels verder oor hoe sy grootgeword het. Sy vertel van die wonderlike man wat haar grootgemaak het soos sy eie dogter.
Dit gaan nou makliker nou dat die ys gebreek is.
G is alleen met Yvonne. Hy voel so jammer vir haar. Sy gaan iewers in die buiteland by iemand op eindig as 'n slaaf. Hy was die eerste keer geskok toe hy uitvind dat mense in 2022 nog as slawe verkoop word. Die keer is sy die enigste meisie uit Kaapstad maar hy weet daar is meisies landwyd.
Sommige van hulle is nog kinders. Hoeveel ouers is daar wat nooit weer hul kinders gaan sien nie? Hy is deel van hierdie afskuwelike daad. Mense sal hom verag as hy moet sê dat hy sy ma gekies het bo die meisies. Hoe kies jy nie jou ma nie? Behalwe vir dit weet hy ook dat hy ook sy lewe gaan verloor. Hy probeer Yvonne 'n drankie voer wat vitamieneryk is. Sy kry darem heelwat in. Hy weet nog nie verseker of sy die volgende dag of dalk oor twee dae Gauteng of Vrystaat toe geneem word nie. Alles word tot op die laaste oomblik geheim gehou. Hyself moet maar gereed wees indien hulle hom gaan stuur.
Om een of ander rede het hy 'n sagte plekkie ontwikkel vir Yvonne. Hy dink nou al die hele dag hoe hy haar dit kan spaar maar daar blyk geen manier te wees nie. Hy kan letterlik niemand vertrou nie, nie eens die hawelose wat gereeld hier kos kom vra nie. Dit is juis vir hom vreemd dat Candice hom nog nie verwyder het nie. Sy het selfs een keer self vir hom kos aangedra.
Alhoewel sy klere verslete lyk het G tog opgemerk dat sy klere altyd skoon is. Dit beteken eintlik niks maar tog wonder hy daaroor.
"Uiteindelik is ons alleen Sarie. Nou kan ons die brief lees wat ons dogter geskryf het."
"Waar is Willem dan?"
"Hy slaap."
"Dankie tog. Ek het nie nou krag vir hom ook nie."
"Ek kom sit langs jou."
Steven neem langs sy vrou plaas. Die vreemdste ding gebeur; hy trek haar nader en gee haar 'n drukkie. Sy kan nie onthou wanneer die laaste keer was dat sy 'n drukkie of soentjie buite die slaapkamer gekry het nie.
Sy haal die brief uit die koevert. Willem sit binne hoorafstand buite die oop venster. Hulle sal hom nie sien as hulle sou uitkyk nie.
"Liewe Pappie en Mammie. Wanneer julle die brief ontvang is ek heel moontlik nie meer lewendig nie.
Daar is 'n paar dinge wat ek vir julle moet sê."
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking