Donderdag 11 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 22 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 22 - Rooi Mier
Bennie skakel Sahara se nommer.
"Sahara Muller, goeie môre."
"Goeie môre Juffrou Muller, dit is Bennie van Wyk hier. Ek wil baie graag met u 'n afspraak maak."
Sahara vries. 
"Juffrou Muller? Is u nog daar?"
Sy vat 'n sekonde of twee om te antwoord.
"Gaan dit oor besigheid Meneer?"
"Nee, Juffrou. Dit is privaat maar dit is baie belangrik dat ek u moet sien."
"Maar ek ken u nie meneer," Sahara probeer alles om hom van stryk te bring.
"Ja ek weet Juffrou maar u ken my soort van. Lawrence van Wyk was verlede jaar u leerder in Graad 12A."
"Wel Meneer, ek is op die oomblik uitstedig. Ek is vanoggend vroeg weg uit Kaapstad. Ek neem aan u is daar."
"Ja ek is. Dit is nou 'n jammerte. Wanneer kom u terug?"
"Moontlik eers oor twee weke Meneer." Sy het klaar gesien dat daar nie veel te doen is aan die kontrakte nie. Dit was haar plan om sommer weer oor twee dae terug te vlieg, maar sy sien nie uit na dié gesprek nie.
"Dan is ek al terug in Upington. Ek sal maar weer moet kom. Dit is belangrik."
Bennie wonder of sy iets vermoed en hom nou net wil vermy? Dalk is sy hier in Kaapstad. Miskien het Lawrence haar kontak en sy wil hom nie sien. Dalk dink sy Bennie wil 'n woordjie doen vir sy seun.
"Wanneer laas het jy van Lawrence gehoor? Hy studeer nou hier by UWK." 
"Nog die dag toe ek weg is by die skool. Meneer, ek is bietjie besig; ek moet gaan."
"Totsiens dan Juffrou, ek sal in kontak bly."
"Paul moet maar vir my vasstel of sy werklik nie hier is nie. Die saak kom nou al baie lank aan en dit is tyd dat dit na 'n kant toe beweeg. Sy het die reg om die waarheid te weet."
Sahara se hart klop nog wild waar sy agter 'n lessenaar sit met die kontrakte waarna sy moet kyk voor haar uitgesprei.
"Hoekom nou? As hy dan geweet het dat hy haar pa is, hoekom nou eers? Hy kan gaan doppies blaas. Ek is 'n volwassene en benodig nie nou 'n pa nie."
Sy besef dit nie maar dit is die eerste keer dat sy nou erken dat hy moontlik haar pa kan wees. 
Lawrence se volgende klas is eers oor 'n uur. 
"Ek gaan nie weer wag tot vanmiddag nie. My pa het my gistermiddag onkant gevang."
Die bank waar hy nou sit is die bank waar hy en Anton, wanneer hulle albei tussen klasse was, gesit het. Dit was nie gereeld nie maar dit was hulle spesiale plek waar hulle sit en praat het oor Larisa, Sahara en hul skooldae.
Hy kyk 'n rukkie na die nommer. Die nommer kan sy toekoms stuur in 'n rigting. Hopelik waar hy die toekoms sien. Hy skakel.
Sahara haal haar sel uit haar handsak toe dit lui. Sy kyk eers na die nommer. Wie kan dit wees? Die persoon het gisteraand drie keer gebel. Miskien was dit Bennie van Wyk.
Hoekom dan 'n ander nommer gebruik? Sy wil net antwoord toe die persoon aflui.
Lawrence besluit om weer te probeer. Sahara druk die antwoordknoppie maar sê niks. Sy wil eers hoor wie dit is.
"Juffrou Muller, Sahara, is jy daar?"
Sahara skrik haar boeglam. Lawrence. Hoekom bel hy haar? Hy het seker gehoor hulle is broer en suster.
Sy praat nog steeds nie. 
"Ek hoor jou asemhaal. Dit is Lawrence van Wyk. Ek moet met jou praat asseblief. Waar kan ek jou ontmoet?"
"Lawrence, dit is beter dat ons nie ontmoet nie. Ek is besig. Totsiens."
Lawrence weet nie of hy meer teleurgesteld is omdat sy nie met hom wil praat nie of hy meer opgewonde is om weer haar stem te kon hoor nie.
"Sahara van Wyk, ek gaan nie tou opgooi nie."
Hy stap met gemengde gevoelens na sy volgende klas toe.
"Lawrence, ek sal dit nooit kan hanteer om uit jou mond te hoor ons is broer en suster nie. My hart, hoe jonk en sterk dit ook al is, sal in stukkies opbreek."
Haar sel lui weer. Hierdie keer is dit Mnr Adriaanse. 
Hoekom bel hy altyd verkeerde tyd? Hy gaan nou weer hoor sy is in trane.
"Goeie môre Meneer." Sy probeer om so normaal moontlik te klink. Die man gaan haar een of ander tyd afdank. Sy bly in trane die laaste paar dae. 
Martin hoor dat dit nie goed gaan nie maar besluit om dit te ignoreer.
"Ek verneem jy is besig met die kontrakte. Goed so. Ek wil net laat weet dat ek oppad is Keetmanshoop toe. My oorlede broer se vrou woon daar. Ek het oor twee dae weer 'n vergadering in Windhoek dan vlieg ek dieselfde dag terug Kaap toe."
John en Elton het vandag saamgery om die mense onder die brug te gaan voed. Soos gewoonlik het John eers weer met almal gesels voor hulle kon ry. Selfs die nuwe "inwoners" onder die brug ken hom. Hy sal hulle altyd moed inpraat en sy gunsteling Bybelvers aan hulle voorhou.
"Romeine 8:28 sê, 'En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.'
Elton prewel die versie saam terwyl John dit met die mense deel. 
"Ai Here, hoekom is dié versie net waar vir ander mense? Verdien ek dit dan ook nie om net gelukkig te wees nie? My huwelik beland elke keer in 'n doodloopstraat."
John merk dat hy stil is toe hulle terugry. Soos dit sy gewoonte is begin hy net vir Elton te bid. Hy dra Elton se huwelik op aan die Here. Toe hy klaar is sê hy net, "Sy gaan terugkom seun."
John onthou hoe hy die een middag tuis gekom het en Jolene nie op sy klop gereageer het nie. Hy het sy eie sleutels in die motor gaan haal. Toe hy oopsluit lê daar 'n briefie reg voor sy voete. Hy het dit nie onmiddelik oopgemaak nie want hy moes dringend badkamer toe. In die badkamer dink hy sy wil hom seker vra om haar te gaan haal by haar ma. 
Na die badkamer gaan skakel hy eers die ketel aan. Hy het 'n koppie koffie gemaak. Terwyl hy die koffie op die rusbank geniet dink hy hoe gelukkig hulle die afgelope tyd was. Vandat hulle te wete gekom het dat dit nie sy pa was wat haar verkrag het nie, het hul bande net sterker en sterker geword.
Dit is dus vir hom 'n skok toe hy lees, "Elton, ek moet 'n ruk weggaan. Moenie my kom soek nie. Ek is nie by my ma nie. Baie lief vir jou my man."
Hy het vir 'n oomblik gedink dit is 'n grap.  Sy antwoord ook nie haar sel nie. Hy bel onmiddelik sy skoonma wat bevestig dat sy nie daar is nie. Na hy aan al die moontlikke plekke waar sy haar kan bevind gebel het, besluit hy maar om te wag.
Teen agtuur het hy eers regtig bekommerd begin word. Nadat hy weer sy skoonma, haar vriendinne en haar suster gebel het, het hy begin dink dat iets fout is. Die polisie wou nie help nie want sy is 'n volwassene en nog nie 24 uur weg nie. Hy bel haar sel vir die vyfde keer toe sy antwoord.
"Elton moenie bekommerd wees nie, ek is veilig. Moet asseblief nie weer bel nie." Sy het afgelui.
Na dit het sy nie weer haar sel beantwoord nie. Die volgende aand was hy polisiestasie toe om haar as vermis aan te gee. Dit is sover dit gekom het. Hulle vermoed nie vuilspel nie so hulle gaan haar soek, volgens die beampte, maar sy wil dalk nie gevind word nie.
Jolene staan by die hek van haar vriendin van jare se huis in Amstelhof. Hier is nie veel te sien nie want die straat loop met 'n sirkel. Sy is nou al vir twee maande hier.
"Hoe gaan ek vir Elton die waarheid vertel. Ek verlang   so baie na hom."
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...