#Stukkendeharte Hoofstuk 15 - Rooi Mier
Sahara sit in haar Seepunt woonstel en kyk uit oor die Atlantiese Oseaan. Die see lyk nogals onstuimig en die uitsig vaalgrys. Dit is Sondag en soos gewoonlik is daar heelwat mense op die seefront, maar dit is definitief nie 'n dag vir swem nie. Dit voel of die dag self 'n boodskap van hartseer en verdriet dra.
Sy verlang na Lawrence. Saans is hy haar laaste gedagte, soggens maak sy gesig haar wakker.
"Het ek my kanse verspeel?"
Net verlede week het sy die sekretaresse van Carlton - Van Heerden geskakel. Hulle twee was op goeie voet toe sy nog onderwyseres was. Sy wou eintlik maar net 'n bietjie uitvis, haar uiteindelike doel was om 'n verskoning te vind oor hoekom sy Lawrence se nommer nodig het.
Die sekkie was maar altyd, wat mense 'besig' noem. Sy weet alles van almal en voordat jy gevra het, het sy jou vertel. Baie keer was dit iets wat jy nie wou hoor nie. Binne 'n minuut het sy gehoor dat Janice swanger is met Lawrence se kind.
Sahara was so geskok dat sy nie meer verder wou gesels nie. Die sekkie was nog besig om te vertel van die twee studente wat dood is in 'n treintrap in die Kaap toe sê Sahara totsiens en lui af.
"Dit kan mos nie wees nie. Wat nou van my liefde vir hom? Natuurlik moet hy verantwoordelikheid vat vir sy kind. Baat dit nog om iets na te jaag wat oppad nêrens is nie? Was haar gedig "Onbeantwoorde liefde" 'n voorspooksel?
"Hoe vinniger ek die liefde najaag
Hoe vinniger vlug dit op die wind
Dit systap my soos 'n springbokkie
Sodat die jagluiperd hom nie vind."
Sy staan op om haar tablet te gaan haal. Sy lees nog graag Die Gemsbok, die nuusblad op gebeure in en om Upington.
Die opskrif lees, " Begaafde student word vandag begrawe".
Sy voel skielik 'n beklemming op die bors. Dit is asof sy nie asem kan haal nie.
Sy lees verder.
Die student, Anton le Fleur, 'n regsstudent by die Universiteit van Wes Kaapland in sy eerste jaar word vandag ter ruste gelê hier in Upington. Hy was verlede jaar 'n leerder by Carlton - Van Heerden Sekondêr en was een van die top presteerders in sy finale eksamen.
Hy was een van twee studente wat verlede week dood is toe hulle 'n treinspoor wou oorsteek op Eersterivier stasie in die Wes Kaap."
'n Verlamende gevoel neem besit van haar. Die tablet gly uit haar hande en val op die grond.
"Nee, nee Here, nie alweer nie.
Skielik kry sy krag en vlug vinnig by die deur uit, klim in die huisbak. Op die grondvloer loop sy amper iemand ondertebo.
Die persoon skree nog agterna, " Stupid fool." Sahara voel net sy moet buite wees en kyk nie eers om nie.
Larisa huil ontroosbaar. Hoeveel trane het sy? Kan 'n mens dan die hele week huil en nog steeds vloei die trane soos die Oranjerivier in vloed? Haar hart is nie stukkend nie. Dit is totaal en al flenters.
Hoe gaan sy hierdie dag deurkom? Vandag gaan haar hart saam met Anton in 'n kis weggebêre word. Nooit weer gaan sy sy stem hoor nie. 'n Stem wat met soveel intimiteit die woorde,"Ek het jou lief my hartedief", in haar oor kon fluister so sag dat sy dit eerder met haar hart kon hoor.
Sy onthou hoe hy, twee weke gelede in die beeldskone Stellenbosch se strate, haar op die eilandjie in die middel van die pad nader getrek en gesoen het. Hy het op sy knie gegaan en verklaar, "Larisa, jy is my eerste liefde. Larisa, jy is my laaste liefde. Ja, ek is nog jonk en die lewe lê voor my, maar ek ken hierdie hart van my. Elke klop spel 'n letter van jou naam uit. My asemteue fluister onhoorbaar jou naam, Larisa.
Ek sien jou in elke blomtuin. Die wind dra die fluistering van jou stem wanneer ek ver van jou af is. Jy weet ek is nie die diepgelowige nie maar ek sien hoe God jou vorm, sel vir sel met my in gedagte."
Sy onthou hoe sy benoud begin raak het, opgewonde maar tog ook bang. "Asseblief tog Anton nie nou nie." Dit was 'n fluistering in haar hart.
Hy staan vinnig op. "Ek weet jy is nog nie reg nie. Hoe sal ek jou kan versorg? Dit wil ek jou egter belowe, hierdie was maar hoofstuk 1 van my liefdesverklaring. Met jou gaan ek 'n oneindige verhaal skryf."
Het daardie laaste woorde ons "gejinx". Die einde het so skielik gekom.
In die kerk hoor sy omtrent niks van wat gesê word nie. Sy raak net bewus van Janice wat langs haar inskuif en haar hand vasvat en deur die diens hou.
Wie het nou kon dink dat sy op haar ouderdom soveel pyn sou ervaar? Verlede jaar was dit nog net lekker om jonk en verlief te wees.
Sy onthou hoe Anton en haar liefde ontwikkel het tot wat dit vandag is.
Haar gedagtes dwaal na die sorgelose dae net na matriekeksamen. Heerlike tye van ontwikkelende liefde. Hul saamwees op Die Eiland, kuiertjie met sonsondergang op Sakkie se Arkie, hul besoek aan Augrabies Watervalle.
In die nuwe jaar saam by die strand in Gordonsbaai, hul eerste keer op Tafelberg en hul rit Houtbaai toe met Lawrence en hul nuwe vriende.
Vandag gaan hulle vir die laaste keer saam. Saam na sy laaste rusplek.
Die kis gaan nie oopgemaak word nie. Die liggaam is te lelik vermink.
Die stoet beweeg na die begrafplaas. Sy is saam met Janice en haar ouers in hul motor. Dit is doodstil in die motor. Vir 'n verandering waai daar 'n koel windjie in Upington. Toe sy gister hier aangekom het uit Stellenbosch was dit baie, baie warm soos net Upington kan wees.
By die begrafplaas het die begrafnisondernemer 'n gazebo opgesit met 'n paar stoele vir die onmiddelike naasbestaandes. Anton se ouers, sy broer wat in Johannesburg woon met sy vrou sit daar. 'n Paar van die leerders wat saam met Anton was is by die graf en ook 'n onderwyser of twee.
Anton se ma sien Larisa aankom. Sy staan op, gaan vat Larisa aan die hand en sê, "Kom sit my kind, jy is mos deel van ons familie." Sy wys na Janice, "Jy kan nie so staan nie meisiekind, kom sit jy ook." Anton se ma is nogals sterk.
Die verrigtinge loop redelik vinnig. Wit duiwe word vrygelaat. Hulle sirkel 'n paar keer en kry rigting huiswaarts. Die kis word laat sak terwyl "Nader my God by U" gesing word. Die begrafnisondernemer se mense en van die manlike familie en vriende begin die graf toegooi.
Dit voel vir Larisa of die flenters van haar hart uitgeruk word en stukkie vir stukkie met elke graaf sand in die gat gegooi word. Haar trane droog op. Daar is nou niks meer nie. Teen die tyd dat die graf klaar toegegooi is, voel sy dood van binne. Dit voel of daar geen emosies meer oor is nie. Nadat die kranse en ruikers op die graf rangskik is, beweeg die mense stadig weg na hul motors. Die naaste familie, Larisa en Janice vertoef nog 'n paar minute. Larisa wil nog 'n bietjie sit toe die ander wegloop. Janice bel haar pa wat ìn die kar wag en vra of hy hulle oor 'n halfuur kan kom haal.
Sahara sit op 'n bankie naby Seepunt se swembad en kyk uit oor die golwe wat aangehardloop kom aangedryf deur die wind. Dit is altyd vir haar 'n bekoring maar nie vandag nie. Met elke golf wat breek voel dit vir haar of dit die einde is. Die lewe is onvoorspelbaar en word soms onverwags beëindig.
Sy voel moeg want sy het ver gestap en was oppad terug toe sy op die bankie gaan sit het. Terwyl sy gestap het, het die trane vrylik gevloei. 'n Vrou het 'n rukkie gelede langs haar kom sit, haar hand op Sahara se skouer geplaas en saggies vir haar gebid.
Na 'n rukkie het sy opgestaan en sonder 'n woord verder geloop sonder om na Sahara om te kyk. Sahara sien 'n nota op die bank lê. Op die nota staan geskrywe. Die Here ken jou hart. Praat met Hom.
"Hoekom Here. Het ek nie al genoeg swaargekry nie. Here, help my om die stukke van my hart op te tel."
Skielik kom daar 'n gedagte by haar op dat sy haar pa moet opsoek voordat sy hom ook verloor. Sy ken immers sy naam. Dit behoort nie moeilik te wees om hom op te spoor nie.
Sy staan op en loop stadig huiswaarts.
"Ek wonder wanneer gaan hulle vir Lawrence begrawe? Ek sal liewer nie dit gaan bywoon nie. My hart sal dit nooit hou nie."
Larisa en Janice staan op en loop kar toe. Janice se pa het aangekom.
Daar is nog een ander voertuig wat nou al die hele tyd daar staan.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking