#Stukkendeharte Hoofstuk 18 - Rooi Mier
"Goeie môre meneer". Sahara is vroeg op kantoor. Haar werkgewer vertrek vandag Windhoek toe vir besigheid.
"Goeie môre Sahara, was jy al in Namibia?"
"Nee, nog nie meneer. Ek is van Upington en beskou dit eintlik as 'n skande. So naby en tog so ver. Baie Upingtonners het familie daar uit die dae toe dit nog Suidwes Afrika was. My pa het gesê dat hulle vrylik tussen Suid Afrika en Suidwes Afrika kon beweeg. Daarom is daar so baie familiebande oor die grens."
"Volgende keer moet jy saam gaan. Toe maar, ons kan nog 'n dame saam neem sodat jy nie ongemaklik hoef te voel nie. Jy moet 'n paspoort kry."
"Ek maak so meneer."
Sahara ken die verhaal van haar werkgewer se onlangse verlede. Dit is merkwaardig hoe hy dit hanteer. 'n Man wie sy hele familie in 'n motorongeluk verloor het, geheueverlies gehad het en onder 'n brug gewoon het.
Hy moes die stukkies van sy lewe weer optel en sy lewe en besigheid weer opbou.
Sahara weet hy is gelowig want hy het 'n Bybel op sy lesenaar. Dit is nie net 'n ornament nie want sy sien hom gereeld daaruit lees.
Die telefoon lui.
"Goeie môre, Meneer Adriaanse se kantoor."
"Goeie môre my kind, dit is oom John hier. Is Meneer gereed om na die lughawe geneem te word?"
"Ja oom John. Ek roep hom."
Oom John Daries is Meneer Martin Adriaanse se persoonlike drywer. Hulle het blykbaar saam onder 'n brug gebly. Dit is vir haar maklik om Oom John te sê want daar is 'n konneksie weens die feit dat hulle albei uit Upington omgewing kom.
Meneer Adriaanse wil ook Oom gesê wees maar sy verkies Meneer want dit is hoe mens professioneel optree met jou werkgewer. Hy is 'n aangename mens om mee saam te werk. Altyd oplettend en hy sal weet as sy die dag af voel.
"Sahara, jy werk jouself oor 'n mik, onthou nou om die res van die week af te vat. Daar is iemand wat die kantoor gaan behartig. As ek kantoor toe bel en jy antwoord is daar moeilikheid. Totsiens hoor!"
"Totsiens meneer."
"Goeie môre my vriend. Hoe gaan dit vandag?"
"Dieselfde soos toe jy my 'n uur vroeër by die huis gevra het. Goed." John glimlag as hy na Martin kyk. So suksesvol en tog so nederig. Tuis is hulle bloot net vriende; vriende in die ware sin van die woord. By die werk sal John hom altyd respekteer as sy werkgewer. Hulle kom deur diep waters. Die band tussen hulle is onbreekbaar. Hulle ken mekaar se pyn en is nie bang om wanneer een van hulle swaarkry dit met die ander te deel nie. Dit is mans wat nie bang of skaam is dat die een die ander sien huil nie. Ja, hulle albei is sterker maar so nou en dan kom kuier hulle oorlede geliefdes in hul koppe. Albei voel ook dat hulle die oorsake van hul gesinne se dood is.
John wil glad niks met drank te doen hê nie. Martin weier om oor Chapman's Peak te ry.
Die ander mense by die werk verstaan nie hoe hul werkgewer sy persoonlike drywer sommer net in sy huis kan laat woon nie.
John praat gereeld daarvan om sy eie plekkie te kry maar Martin wil niks daarvan hoor nie.
Terwyl hulle twee oppad is lughawe toe, skakel Sahara vir Elton Daries om te hoor of hy daar gaan omkom om te kom teken vir die oordrag van finansies vir die werk en die kerk se gesamentlike welsynprojek. Hulle voed dakloses vier dae 'n week met ' gekookte maaltyd en 'n pakkie kos vir later. Die ander drie dae voed 'n ander organisasie hulle. John gaan gereeld saam. Hy noem dit huistoe gaan want dit is waar hy gewoon het, onder die brug.
Sahara was ook al daar. Sy is eerlik; dit was nie maklik nie. Vuil mense met die reuke wat daar rondhang. Tog het sy dit reggekry om haar weersin te verberg. Nou ken sy selfs 'n paar gesinne persoonlik.
Sy onthou haar ma se woorde, "'n mens is 'n mens deur 'n ander mens."
Met Meneer Adriaanse weg is daar nie veel te doen nie. Sy moet net die middag, as sy persoonlike assistente, 'n afspraak nakom dan is sy vry.
Miskien moet sy saam met Oom John en Meneer Elton Daries ry om die mense te gaan voed. Daar is regtig niks anders te doen nie.
Die ledigheid laat haar weer aan Lawrence dink. Dit is nou twee weke vandat hy oorlede is. Sally het haar Donderdag probeer bel maar sy het nie geantwoord nie want sy was nie lus vir skinderstories nie.
Min het sy geweet dat dit juis dié oproep was wat sy moes neem. Sally wou eintlik vertel van Lawrence wat haar nommer kom vra het. Sy rou eintlik oor 'n man wat nog lewe.
Lawrence is die middag na klas oppad na die hoofingang by UWK. Sy ouers kom hom optel dan gaan hulle bietjie Seepunt toe. Hy sien nogal uit daarna alhoewel dit nog vreemd voel dat Anton nie by gaan wees nie.
Terwyl hy wag by die hek bel hy vir Janice om te hoor of sy ok is. Dit maak hom, eerste keer vader, angstig as sy nie dadelik antwoord nie. Sy is ok en hul groeiende bulletjie is ok. Hy kan nie wag om gebore te word nie en skop soms soos 'n sokkerspeler.
Sy ouers daag op en hulle ry.
Sahara het na die vergadering huiswaarts gekeer. Daar is mos niks te doen vir haar nie. Die sekkie hanteer al die ander goed.
Sy stap af see toe met gemaklike klere wat sy aangetrek het. Gooi 'n handdoek oop en sit haar sonhoed oor haar gesig en lê op haar rug.
Ai, wat is dit dan tog met haar vandag. Sy hoor dan nou so duidelik Lawrence se stem. Haar verbeelding bak haar 'n poets dink sy. Aanvaar tog nou net dat hy dood is.
Lawrence en sy ouers stap skoene in die hand op die los seesand. Hulle loop om 'n meisie wat met 'n sonhoed op haar gesig lê. Iets omtrent haar lyk bekend maar hy dwing sy oë weg. Dit is ongeskik om so na ander mense te kyk en sy pa gaan hom 'n mondvol gee as dié hom sien staar.
Hulle stap so 'n hele end verder voor hulle sommer op die sand gaan sit. Hy loer nog een keer vinnig na waar hy die meisie omtrent is maar hy kan haar nie sien nie.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking