#Stukkendeharte Hoofstuk 48 - Rooi Mier
Shane trek van die pad af. Draai die radio harder, klim uit en begin die 'twist' te doen. Die woorde 'like we did last summer' laat hom onthou hoe lewendig hy gevoel het die laaste keer toe hy en sy makers 'n sindikaat vasgetrek het. Hy het nog nooit dwelms gebruik nie maar hy dink hy weet hoe voel dit om hoog te wees. Daar is vir hom geen lekkerder gevoel as om iemand te red en om 'n booswig vas te trek nie.
Die laaste klanke van die lied sterf weg. Die omroeper sê, "Laat nag? Nee, dit is vroegoggend, kom ons dans die dag in. Wie wil saam met my dans."
Shane glimlag en sê, "Ekke maar ek het 'n ander jol. Kan jy tango meneer die Omroeper? Ek is gereed. Nou wag ek net vir my dansmaat."
G hulle nader Meiringspoort. Hy voel 'n beklemming op sy bors. Hy voel aan sy sy waar die wapen is wat hulle vir hom gegee het op die plaas.
Die gesiglose stem het gesê, "Skiet om dood te skiet. Sorg dat julle nie in die hande van die polisie val nie. Julle behoort veilig te wees want volgens my informante in die mag weet niemand van julle nie."
Die wapens is gelaai. Gelukkig is die bestuurder van die voertuig en die ander wag rustig. Hulle dink aan die rit as maar nog net 'n opdrag wat sonder insident afgehandel gaan word.
Hulle ry verby twee voertuie wat in die teenoorgestelde rigting kyk. Dit lyk of hulle vir koffie gestop het want daar staan bekers en 'n koffiebottel op die dak van een van die voertuie.
Omtrent 'n kilometer agter kom 'n voertuig aan. Dit pla egter nie die bestuurder en die ander wag nie. Dié voertuig het op 'n stadium verby hulle gery. 'n Rukkie later het hulle egter weer verby gegaan toe een van die passasiers sigbaar van die pad af sy behoefte verlig het.
Hulle ry die poort in. Die dansmaat kom deur die deur. Die tango het begin.
Shane kry 'n boodskap.
"Het jy jou danskoene aan?"
Die 'ongeluk' wat opgestel was lyk oortuigend. Iemand lê 'bebloed' langs 'n voertuig wat skuins oor die pad staan. 'n Ander voertuig staan half van die pad af. Vir iemand wat van G hulle se kant af kom sal dit lyk of die voertuig in 'n rots vasgery het.
Alkante van die poort is rotse. Daar is geen uitkomkans vir die dansmaat nie. Sy is deur die deur.
Die voertuig wat G hulle gevolg het is skielik baie nader. Hulle kan dit egter nie sien nie want die poort het baie draaie. Een van die twee ander voertuie het intussen skuins oor die pad getrek terwyl die ander omgedraai het en ook volg. Aan die teenoorgestelde kant word die pad ook afgesper.
G is hoogsgespanne, sy gedagtes ooral.
"Is my ma veilig? Het hulle hul deel gedoen en haar na veiligheid geneem? Gaan hier 'n geskietery wees? Sal Yvonne veilig wees?"
Hy los 'n vinnige skietgebed.
"Here, help ons asseblief. Moet nie dink dat ek U nou wil nader omdat ek in die nood is nie. Vergewe my."
Die voertuig sal nou enige tyd om die laaste draai kom, dink Shane. Hy sit agter die stuurwiel van die voertuig wat skuins oor die pad staan met sy kop op die stuurwiel.
Daar kom dit nou.
G skree, "Stop, daar is 'n ongeluk voor."
Die bestuurder trap hard op die remme. Shane klim uit soos iemand wat in skok is. Sy hand is ongemerk op sy vuurwapen. Net toe die voertuig tot stilstand kom gebeur iets onverwags.
Skote begin te weergalm deur die kloof. Dit was nie deel van die plan nie iets is besig om skeef te loop. Die bestuurder van die dubbelkajuit versnel skielik. Hy pyl af op die voertuig wat skuins staan.
Die 'beseerde' in die pad rol vinnig weg want sy dood pyl reguit op hom af. Shane probeer sy wapen uitpluk maar van skrik steek dit vas.
Daar klink nog skote op wat deur die poort weergalm. G sien hoe hulle op die voertuig wat skuins staan afpyl. Die bestuurder pluk aan die stuurwiel om regs voor verby te gaan. Hulle raak skrams aan die skuinsvoertuig.
Nou pyl die voertuig af op die rotse regs. Die bestuurder pluk weer aan die stuurwiel. Vir 'n oomblik het hy die voertuig onder beheer.
Shane het sy wapen uiteindelik uit en skiet na die wiele. Die bakkie swenk skielik gevaarlik links. Groente waai in alle rigtings. Die voertuig tref die rotse aan die linkerkant en kom tot stilstand.
Die bestuurder se deur vlieg oop. Hernude skote weergalm deur die kloof. Dit laat Shane vir 'n oomblik weifel. Die bestuurder van die bakkie hardloop om en agter 'n rots in. Hy begin skiet op Shane.
Die slag van die skoot laat Shane steier. Daar kom nou skote uit die bakkie ook. Dit is die ander wag. Sy skote tref die skuinsvoertuig.
Die dans is in volle gang. G kan nie uit nie. Die deur aan sy kant is teen die rotse. Hy besef dat die wag agter hom in die voertuig ook besig is om te skiet. Hy kyk om en sien dat die wag omgedraai het weg van hom. Die 500ml koeldrank bottel by sy voete is al wapen. Hy tel dit op en slaan die wag teen sy agterkop.
Die wag is besig om om te draai en hy slaan weer. Die keer tref hy hom teen die slaap. Sy volgende hou steek die wag in sy slaap want die bottel het gebreek.
Met die val van die wapen gaan nog 'n skoot af. Dit gaan deur die agtersitplek in die bak agter.
Shane staan op van waar hy geval het en hardloop gebukkend oor die pad. Hy voel bloed aan sy linkerskouer. Die bestuurder agter die rots skiet nog.
Die skote wat deur die kloof weergalm het, het opgehou.
Shane besef dat sy venoot ook stil is. Hoekom skiet hy nie? Daar is egter nie tyd om te wonder nie. Hy probeer om uit die bestuurder se gesigsveld te kom. Dit raak skielik stil. Hy loer versigtig om sy voertuig.
Daar hardloop iemand in die ander rigting.
Dit is G hulle se bestuurder. G het oor die voorsitplek geklim en maak nou die agterdeur oop. Shane duik weg, gereed om te skiet.
"Dit is ek, G!"
G klim uit. 'n Skoot weergalm. G val verder by die deur uit. Shane besef dit sy vennoot was wat geskiet het.
Hy skree, "Hy werk met ons." Hy begin agter die bestuurder aan te hardloop.
Waar Paul by die vulstasie in Beaufort Wes in sy motor sit trek 'n voertuig op. Die bestuurder klim uit. Dit is Candice. Hy skrik. Dit het hy nie verwag nie.
Sy klim uit en stap die winkel in. Paul sien dat sy na die koffiemasjien toe beweeg. Na 'n minuut stap sy met wat hy glo is 'n koffie na die kasregisters toe en betaal.
Paul klim uit maar maak seker dat sy hom nie miskien sien nie. Hy sit 'n pet op sy kop en gaan staan naby haar voertuig met sy rug na haar voertuig toe. Na 'n rukkie hoor hy sy maak die voertuig deur oop. Hy haal sy pistool uit, draai om om haar te konfronteer.
Iemand staan klaar by haar met 'n vuurwapen in haar rug.
"Candice Williams. Ek neem jou in hegtenis vir mensehandel.
Sit daai wapen weg Meneer Slingers. Iemand kan dalk seerkry."
"Wat van my suster? Sy het vir Yvonne."
"Moenie bekommerd wees nie meneer. Sien u die voertuig daar oorkant? Gaan daarheen. Die dame daar sal u inlig."
Candice het nog nie 'n woord gesê nie.
"Jy het die reg om stil te bly. Enigiets wat jy sê kan in 'n hof teen jou gebruik word. Jy het die reg op 'n prokureur. As jy nie een kan bekostig nie sal die staat aan jou een voorsien."
'n Boeie word om haar hande geplaas en sy word weggelei na 'n voertuig daar naby.
Paul stap na 'n ander voertuig daar naby waar 'n vrou in sit. Sy weet blykbaar ook wie hy is.
"Klim in privaatspeurder Slingers. Moenie vir my naam vra nie. Ek mag jou nie sê nie. Vergeet van hoe ek lyk want dit is 'n pruik en jy sien ek dra donkerbrille in die nag.
Al wat jy moet weet ons is besig met 'n operasie om jou suster te red. Privaatspeurdertjie, jy weet natuurlik om niemand te vertel nie. Klim nou uit, gaan na jou kar, ry weg. Ons sal jou kontak sodra ons jou nuus het."
Sy klink taamlik sarkasties. Paul is al gewoond daaraan dat SAPS lede sarkasties is teenoor privaatspeurders is. Hy weet egter dat dit beter is om nou stil te bly; hierdie is nie die gewone SAPS nie.
'n Man wat aan die oorkant van die pad in sy motor sit maak 'n oproep.
"Meneer M, Candice is in hegtenis geneem."
**
Romeine 6:20 Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid.
21 *Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want *die uiteinde daarvan is die dood.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking