Woensdag 17 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 42 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 42 - Rooi Mier

Larisa voel vanaand besonders bekommerd oor Yvonne. Sy het nou al drie keer gebel vandat sy in Upington aangekom het. Dit is nou Sondagaand en hulle vertrek eers môre terug Stellenbosch en Eersterivier toe. Dit is  belangrik dat mens telefoonnommers van jou vriende se naasbestaandes het. As dit die geval was kon sy dalk nou by familie probeer uitvind het so met 'n ompad of sy oraait is. Sy is eintlik al bekommerd oor Yvonne vandat sy begin vermoed het daar skuil baie meer agter Candice se optredes as wat sy wil voorgee. Duisternis omhul beslis daai meisiekind.

Lawrence kuier by Janice. Dit is dalk sy laaste keer dat hy haar sien terwyl sy swanger is. Hy het die afgelope tyd baie klasse gemis. Een van die dae begin sy eerste semester eksamens en as hy goed wil doen sal hy definitief sy sokkies moet optrek. Daar gaan nie nou meer tyd vir rondrits wees behalwe as Janice sou kraam nie. Dan sal dit ook net vir 'n naweek kan wees. Hy hoop regtig sy sal eers kraam na sy eksamens dan is hy mos sommer met vakansie.

Janice se hoop het opgevlam met die dat sy nuus gekry het dat Sahara Lawrence se suster is. Daar is 'n lied in haar hart. Sy kyk vir Lawrence aan met 'n openlike blik van liefde.  Sy hoef nie meer haar gevoelens probeer wegsteek nie. Sy sal geduldig wees. Dit moet vir hom 'n baie moeilike tyd wees en sy kan haarself nie indink aan sy situasie nie.

Waar Paul hom bevind voel hy ook bekommerd oor sy suster. Hy het nou ook al, uit skuldgevoelens teenoor sy ma haar 'n paar keer probeer bel. Die beste ding wat hy nou kan doen is om môreaand na werk gou Stellenbosch moet ry. Sy ma gaan hom in elk geval teen môreoggend bel soos hy haar ken.

Die drama in Steven en Sarie se woning is nog lank nie verby nie. Sally se brief het nou al reeds verhoudiginge omgekrap en al die betrokke partye, Steven, Sarie en Willem voel aan dat daar nog baie kan uitkom.
Willem is nou glad nie meer so gretig om te weet wat nog onthul kan word nie.
"Ek dink ek gaan maar 'n entjie gaan stap."
"Willem, sit! Waarheen vlug jy nou. 'n Huisbaas vlug mos nie van sy probleme af nie. Jy is mos daái ou. Nou daái ou moet nou sy probleme vierkantig in die oë staar.
Sarie, waar was ons. Lees!"
Sy sug swaar. 'n Brief wat vertroosting moes bring het nou die oorsaak van nog verdriet geword.
"Ek maak so my man."
"Ek is nog nie klaar met jou nie. Vir elke aksie is daar 'n reaksie."
Sy verkies om nie te antwoord nie. Haar oë is op die brief.
"Ek hoop nie Mammie is nou kwaad vir my nie maar leuens het 'n manier om homself te openbaar.
Vergewe my dat ek dié een was wat dit moes openbaar.
Pappa, is jy dronk of nugter? Ondersteun jy darem jou vrou in haar uur van leed? "
Steven word so skaam vir hierdie woorde wat sy dogter hier neergepen het. Hy besef dat Sally geregtig was om díe vraag te vra. Hoe het hy dit reggekry om elke naweek dronk te wees en dan baie keer in die week ook.?
" Terwyl jy so dronk was het die lewe verby jou gegaan. By my gradeplegtigheid was ek so skaam vir my pa wat dronk daar opgedaag het. Dit was net 'n besturing dat u laat opgedaag het want as ek jou voor die plegtigheid moes sien het ek jou weggestuur. Jy het nie net jou dogter beskaamd laat staan nie maar wat het jy gedink van jou vrou?
Sy het darem al baie verdra in jul getroude lewe. Jy is seker nou boos omdat jy gehoor het sy het met jou broer geslaap. As ek jy is sal ek eers begin werk aan die balk in my oog.
Ja, ek het nog nooit gesien dat jy fisies aan haar slaan nie maar pappa, emosioneel het jy haar vermorsel.  Die emosionele letsels moet diep lê, baie diep.
Is Oom Willem teenwoordig?"
Willem krimp weg. Wat gaan nou kom? Hy wens hy kon hierdie martelsessie stop.
"Weet u wat daai broer u genoem het? Hy het na jou verwys as 'n slapgat wat hy om sy pinkie draai vir 'n kan wyn. Hy het gesê jou huis is syne. Jy kon nie jou huishouding bestuur nie. Nog minder jou vrou."
Willem probeer weer vinnig opstaan maar die pyn skiet deur sy enkel toe hy regop kom. Hy gaan sit onmiddelik weer.
"Wat my die seerste gemaak het is dat hy geïnsinueer het dat hy fisies ook vir mammie moes versorg. 
Kan jy regtig kwaad wees vir haar? Sy is net so geregtig om kwaad vir jou te wees. So pappa, so lief soos ek vir jou as dogter was, het ek met Oom Willem saamgestem, jy was 'n slapgat pa. Ek sal jou nou nie nikswerd noem nie."
"Sarie, ek is nou eers honger. Kan ons eers eet?"
Steven se stem klink skor. Sarie merk die trane in sy oë. Sy is verwonderd. Nog nooit voorheen het enige situasie hom laat huil nie. Sy weet natuurlik nie dat hy net die vorige dag sit en huil het nie.
Die aand voel skielik baie lank. Sal dit dan nooit omgaan nie?
Sarie staan op om kos te skep. In hul huishouding word daar Sondae kos gemaak vir twee maaltye. Dieselfde kos wat vanmiddag geëet wad word nou weer voorgesit.
Terwyl Sarie die kos warm maak begin haar eie trane loop. Sy wou net haar dogter die beste gee.  Was dit dan nou so 'n groot sonde? Het Sally dan nou reg opgetree deur haar pa 'n slapgat te noem?
Steven is in die badkamer. Hy was sy gesig af. Dit was nou seer. Sommer baie seer. Hy is nie eintlik honger nie maar hy wou net vlug van daardie brief af. Net wegkom al is dit vir 'n klein tydjie. Is hy regtig die persoon wat Sallie hom noem?
Net Willem sit met 'n effense glimlag terwyl hulle in stilte eet. Hy het gesien Steven huil. Dit Is reg wat Sally hom in die brief genoem het. Slapgat. Ja, en sommer lafhartig ook. Hy sou nie vir Sarie laat wegkom het met wat sy gedoen het nie. Vergeet hy dat sy nie alleen was nie? Hulle het saam gedans maar hy het betaal vir die dans met allerhande gunste.
Nadat hulle klaar geëet probeer Willem weer die oorhand terug wen. 'n Man wat huil kan nie hom beheer nie.
"Ek is nou eers klaar met die speletjie. Ek gaan nou loop sodat jy en jou vrou kan praat."
Hy knik nou openlik oog vir Sarie. Sy raak so kwaad dat sy hom met 'n vurk gooi. Gelukkig trek dit hom op sy bors met die verkeerde kant. Dit was egter nog steeds seer.
"Steven vlieg ook op en gryp hom voor sy bors. 
"Jy, jy."
Hy los en gaan sit.
"Here gee my kalmte asseblief."
Toe hy soort van kalm voel sê hy, " Daai brief moet klaar gelees word. Dit baat nie ons wil vlug nie."

**
1 Johannes 1:10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, *dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...