#Stukkendeharte Hoofstuk 43 - Rooi Mier
Die ou dronk Steven sou lankal weggeraak het om te kyk of hy die kan se bodem van bo af kan sien maar nie die Steven wat soos 'n handomkeer verander het nie. Dit is die beter dapper Steven, 2022 model. Kan dit hou? Sal dit hou?
"Lees Sarie."
"Dan is daar Oom Willem. Hy wat in die oë van die wêreld so voorbeeldig was. Almal buite ons huisgesin het gedink die son skyn uit sy dinges. Die man wat wel so nou en dan dronk geword het maar tog goedhartig was."
"Ek wonder net hoeveel gunste die weduwees aan hom moes bewys."
Willem skuif ongemaklik rond. Dit is duidelik dat die laaste gedeelte van die brief van hom gaan praat.
Voordat ek egter verder kan praat moet ek net eers iets anders vir u meedeel. Iets verskrikliks het met my gebeur. Dit is die rede hoekom, afhangende van hoeveel moed ek het om my planne uit te voer, Meneer Solomons vandag dood is. Hy het my van my menswees ontneem.
Die vark het my verkrag."
Sarie laat sak die brief. Hierdie nuus ruk haar.
Steven spring vinnig op en maak die voordeur oop. Dit is asof hy nie asem kan haal. Sy enigste dogtertjie. Ek het geweet daar moes 'n rede wees hoekom my dogter tot soveel wreedheid kon oorgaan.
Dit is so jammer dat sy met haar eie lewe moes boet. Hy het nooit vir Meneer Solomons ontmoet nie maar haat brand soos 'n verterende vuur in sy binneste. Hoeveel hopeloosheid het sy ervaar om tot daai vlak te gaan. Hy was weereens nie daar vir haar nie, nogtans het sy in díe brief gesê sy is lief vir hom.
Hoe kan 'n pa sy eie dogter so faal. Hy het totaal en al misluk as 'n pa. Watter emosie is die sterkste? Haat vir diè man, liefde vir sy dogter of is dit net 'n onbeskryflike seer. Hy dink hy weet nou hoe voel dit as jou hart uitgeruk is.
Sarie sit en en huil ook met haar eie skuldgevoelens. As sy maar net geweet het dat Sally van haar donker geheim geweet het. Sou sy dit dan aan haar kon verduidelik? Was dit regtig al opsie wat sy gehad het? Sy het altyd so vuil gevoel na die tyd. Nou is haar kind dood en sy sal dit nooit kan regmaak nie? Dan is daar ook die droom of het dit regtig gebeur?
Daar is die droom van iets verskrikliks wat gebeur. As dit dan net 'n droom is hoekom kan sy dit nie vergeet nie?
Daar is 'n klop aan die deur. Dit is al donker. Wie kan dit dan nou wees? Steven is in die badkamer so Sarie gaan maak die deur oop.
Die deur word heeltemaal oopgestoot van buitekant af. Dit is Mavis en die buurvrou.
"Sarie jy moet dadelik saam met ons kom."
Die buurvrou gryp haar aan die hand en wil haar by die deur uit trek.
"Ek verstaan nie nou nie. Wat gaan aan?"
"Ons weet Sarie. Jy hoef dit nie meer alleen te dra nie."
"Ek het haar alles vertel Sarie. Jy hoef regtig nie voor te gee nie. Dit moes moeilik gewees het om dié geheim alleen te dra."
Terwyl Mavis praat vat sy die ander hand vas.
"Ek gaan nêrens voordat ek nie weet wat gaan aan nie. Wat is julle storie Mavis?"
Willem sit daar eenkant en wonder self wat dit kan wees. Skielik tref dit hom. As sy saam met Mavis hulle gaan kan die brief nie verder gelees word nie.
"Moenie hardkoppig wees nie Sarie. Gaan saam met hulle. Hulle sal jou mos nie onnodig kom haal nie. Daar moet seker 'n krisis wees."
"Jy is die krisis, sies. Dan durf jy nog in die vrou se huis sit. Jy en daai slegte dronkgat man van Sarie verdien om in die tronk te wees."
Mavis maak of sy spuug.
"Dit is wat ek van jou dink."
"Hoe nou?"
Willem kan nie verstaan hoe hulle uitgevind het nie. Dan onthou hy Mavis was daar. Sy het natuurlik die hele storie gaan uitlap.
Sarie begin ook dink die gebeure vroeër het hulle ore bereik. Nou weet die hele Vanwyksvlei. Môre weet Carnavon, Kenhard, Brandvlei en so ver as Loxton, die hele kontrei.
Sy sal nooit weer haar gesig in die openbaar kan wys nie. Sy moet dan juis môre Carnavon toe gaan om die begrafnisreëlings te begin. Baie mense in Carnavon ken haar.
"Ai Mavis! Hoe kon jy dit aan my doen?"
Sy dog sy dink dit maar dit is blykbaar hardop.
"Wat bedoel jy het ek aan jou gedoen? Wil jy liewer toelaat dat die man," sy wys na Willem, "aanhou met waarmee hy besig is?"
Sarie begin nou wonder. Dit klink dan nou of hulle van iets heeltemaal anders praat as wat sy gedink het.
Steven kom ingestap.
"Wat gaan hier aan?"
Mavis kyk met minagting na hom.
"Dan durf jy nog vra? Jy moet jou skaam. Watter soort man is jy? Sies ga!"
Steven staan nader.
"Ek dink julle moet julle ry kry."
Mavis sit haar hande op haar heupe om haar vasbeslotenheid aan te dui.
"Ons gaan nêrens. Dink jy ons gaan toelaat dat dié gemors haar weer verkrag terwyl jy hier is?"
"Wat? Hier is nou 'n misverstand. Wie het vir wie verkrag terwyl wie hier is?"
Steven draai na Sarie met 'n vraagteken op sy gesig?
Mavis is verontwaardig. "Dink julle ek het nie gehoor nie? Ek het alles gehoor hier by die venster. Nee Sarie! Is jy ook die soort wat maar maak of niks gebeur het nie"
Steven stap sonder 'n verdere woord na die twee vroue, vat hulle aan hul arms en half forseer hulle by die deur uit. Mavis probeer nog vasskop maar Steven druk die deur toe en sluit dit.
"Julle twee gemorste vir manne. Dink julle julle gaan wegkom met waarmee julle besig is? Ons gaan jou red Sarie. Ons gaan nou die polisie bel."
Mavis hammer teen die deur. Toe niemand oopmaak nie storm sy by die hek uit met buurvrou kort op haar hakke.
Willem slaak 'n sug van verligting. Hier dog hy hy het 'n uitkoms gesien net om te hoor hulle verdink hom van iets erger.
Gelukkig sal al die opgewondenheid sekerlik verhoed dat die brief klaar gelees word.
"Sarie, die brief moet nog klaar gelees word en dan moet ons nog begin praat oor die begrafnis. Na die begrafnis sal ons praat oor ons toekoms saam. So laat ons verder lees."
Sarie dink by haarself dat Steven vasbeslote is om die brief klaar te lees. Sally hoekom doen jy dit aan ons?
Sarie begin te lees.
"Hy het my die liederlikste name genoem. Ek het so magteloos gevoel; so asof ek dit verdien. Weet u hoe jy voel as iemand jou beskou as iets wat jy net die laagste van lae goed mee doen? Weet u die selfhaat wat jy voel terwyl hierdie afskuwelike daad gebeur. Ek het probeer om geen gedagtes te hê nie maar dit was onmoontlik.
Hierdie haat moes iewers uitgelaat word. Dit het in die dae daarna aanhou groei en groei en groei tot my eie Himalayas. Dit was egter nie genoeg nie. Dit moes 'n vulkaan van vurige haat uitspuug. Haat vir nie net een mens nie maar twee.
Twee mense? Ja twee. Die een was 'n Solomons, die ander 'n Daries."
Steven, wat kop onderste bo gesit het se kop ruk op en hy staar na die brief. Iets vertel hom hy gaan tot in sy wese geruk word deur die volgende sin.
Sarie voel 'n spanning aan wat so dik is jy kan dit met 'n mes sny. Watter bom gaan my kind nou los? Sy kyk na Steven wat intense spanning wys in die manier waarop hy staar.
Dan draai sy haar kop stadig na Willem. Hy sit emosieloos en staar na die venster. Is hy regtig sonder emosie of soek sy oë na 'n plek van ontvlugting. Weg, ver weg van hier af.
Sal Angola ver genoeg wees? Die blink klippies het dan altyd alles skoongewas. Die rykdom verkry deur die opwinding van ongeslypte diamante en 'n bankbalans wat heelwat nulle bevat. Die adrenalien van gevaar as jy grense oorsteek van land tot land en dan uiteindelik op Carnavon te beland en Karoo skaap te eet.
Willem is een van die rykste mense in die streek maar hy het geleer om 'n baie lae profiel te handhaaf. Niemand maak mos slapende honde wakker nie want hul byt is baie seer.
Sarie kyk weer af na die brief.
"Ja. Iemand wat my sy klein teef genoem het. Is dit nie wat 'n mens 'n hond noem nie.
Ja Oom Willem. Die dade wat jy met my gepleeg het was 'n teken van jou sadistiese uitlewing van pedofiliese wellus."
Steven spring op en verloor heeltemaal beheer. Een treë en hy pluk Willem op en sy vuis tref hom vol in die gesig. Ongelukkig vir Willem sou dit beter gewees het as hy liewer geval het.
Steven hou hom egter voor vas aan sy hemp. 'n Tweede vuis tref hom en sy reeds gebreekte neus is heeltemaal skeef. 'n Derde, 'n vierdie voordat 'n hand Steven se arm vasgryp. In sy woede stoot Steven sy vrou weg. Nog twee vuishoue tref Willem vol in die gesig. Hy stoot Willem met geweld dat hy bo-oor die bank teen die muur val.
Willem lê doodstil. Sarie lê ook eenkant en kyk haar man met vrees aan. Wat gaan hy doen met haar? Hy gaan uitvind dat Sally haar vertel het en dat sy nie geglo het nie. Wou sy maar net nie glo nie.
Daar is 'n harde klop aan die deur.
"Maak oop die deur, dit is die polisie."
Steven maak oop met 'n bebloede hand. Dalk die bloed wat uit Willem se mond kom? Dit is asof sy brein 'n kortsluiting beleef. Al wat hy ondervind is 'n diep seer vir sy Sally. Die res is 'n blur.
Sy bloeddruk is gevaarlik hoog. Skielik kantel hy om. Steven is uit soos 'n kers.
Mavis is histeries.
"Julle is te laat. Steven het die verkragter doodgeslaan."
Sy staan daar in haar geliefkoosde blou rokkie.
"Mammie, mammie, Oom Willem het my vasgedruk en gesê ons moet speel. Hy het my lekkers gegee en gesê dit is ons geheim. Ek is seer Mammie."
"Oom Willem sal nooit nie my kind. Hy is dan so goed vir ons."
"Mammie, Oom Willem is kwaad vir my. Hy het weer daardie seer speletjie gespeel."
Die trane vloei van Sally se wange af op haar pienk rokkie. Dit lyk of daar bloed aan kan wees. Bloed wat Willem gemis het toe hy haar skoongevee het.
Die herinneringe spoel oor Sarie waar sy nou regop sit en huil.
Dan is daar die laaste herinnering. Sally was nou veertien.
Sarie was uit en het vroeër huistoe gekom. Willem kom haastig by Sally se kamer uit.
Sally kom stadig uitgestap. Wat gaan hier aan my kind?
"Dit is nou te laat om te vra Mammie. Jy gaan my tog nie glo nie."
Daar was 'n koudheid in Sally se oë wat koue rillings teen haar ruggraat afgestuur het.
Sy kyk na waar Willem teen die muur lê.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking