#Stukkendeharte Hoofstuk 13 - Rooi Mier
Dit is drie maande later.
Sahara sit by 'n buite eetplek en geniet haar middagete. Kaapstad is altyd besig. Almal is altyd haastig oppad êrens. Dit is asof daar twee wêrelde is. Die rustigheid self waar sy sit en eet en dan vyf treë verder mense wat heen en weer beweeg soos miere; maar daar is tog 'n rustigheid in hulle bewegings. Kom ek stel dit so; jy weet jy is in 'n stad as gevolg van die hoeveelheid mense maar dit is of niemand haastig of dringende sake het nie. Definitief nie Johannesburg nie maar Slaapstad.
Sy geniet haar werk. Sy is 'n persoonlike assistent. Dit het gekos om gewoond te raak aan die vergaderings saam met haar wergewer en alles te leer oor die besigheid asook hoe hy dinge gedoen wil hê.
Noudat hy met verlof is, is dinge rustiger. So rustig dat sy vandag heeldag aan Lawrence kon dink. Sy weet dat hy hier in die Kaap studeer en wonder hoe dit gaan.
"Ek verlang vreeslik baie na hom. Was dit 'n fout om hom weg te stoot? Nee," antwoord sy haarself, "Ek was 'n onderwyseres en hy 'n leerder.
Ek sal hom tog so graag net wil sien. Gaan my liefde dan verewig onbeantwoord bly?"
Sy is skielik swaarmoedig. Haar horlosie dui aan dat sy op kantoor moet kom.
Lawrence en Anton stap van die kampus af na Unibell stasie toe.
"Ek het maar die tyd wat ek vir jou sit en wag het 'n bietjie navorsing gedoen L. Die klomp studente is maar vreemd nê. Definitief nie soos ons Uptisers nie."
Lawrence glimlag, "Definitief anders. Gelukkig het ek al 'n paar keer in die Kaap vakansie kom hou met my ouers. Gaan jy nog die naweek vir Larisa gaan kuier?"
"Ek moet L. 'n Man mis haar. Ons is vir mekaar bedoel."
Die trein kom aan en hulle hardloop die laaste stukkie.
Hulle het gou geleer dat die treine op die Lavis lyn veiliger is as jy derde klas ry. Eerste klas het baie minder mense en soms kan jy jou alleen bevind veral vroeg middag. Reg aan die begin was hulle amper beroof. Gelukkig was daar twee polisiemanne wat ook pasasiers was.
Die een polisieman het gesê dat hy kan sien hulle is nie Kapenaars nie en hulle aangeraai om eerder derde klas te ry. Finansieël maak dit ook meer sin vir 'n student. By Pentech klim nog studente op en dit gaan maar rumoerig tot in Bellville.
Soos maar altyd moet hulle wag vir 'n Strand of Muldersvlei aansluiting. Bellville is 'n baie besige plek.
L, ek het 'n paar goed nodig. Kom ons gaan koop dit sommer hier in Bellville by die Middestad Mall."
"Ai Anton man, dié plek maak my benoud, maar kom ons gaan maar."
Dit lyk kompleet of jy in 'n ander land is. Dit wemel van Somaliërs. Die besighede hier in die middestad word meestal deur hulle bedryf. Anton sê vir L, "Dié mense weet van 'n plan maak."
"Versigtig Anton, moet maar nie die term, "dié mense", gebruik nie. Net nou vat iemand dit verkeerd op.
Hulle doen die inkopies en besluit om eers vis en chips te eet. Jy was nie in die Kaap as jy nog nie vis en chips geêet het nie. Hulle eet asof hulle nooit weer vis en chips gaan sien nie. Was dit dalk hul laaste keer?
Na 'n paar minute terug by Bellville stasie kom die Strand trein. Hulle weet dit omdat die nommer met 32 begin. Dié tyd van die middag raak die treine baie vol.
Dit kos beur en stoei om in te kom. Die twee word van mekaar geskei.
Op Eersterivier stasie sien hulle weer mekaar. Lawrence wou daai aand wat Anton per ongeluk laat glip het dat Janice swanger is, met Anton gedeel het dat hulle woonplek by dieselfde studenteverblyf in Eersterivier gekry het.
Op Eersterivier stasie doen hulle wat baie ander doen. Hulle gebruik nie die brug nie en hardloop voor die trein om terwyl hy nog staan. Dit is onwettig maar omtrent al die jonger passasiers doen dit.
In hul haas raak hulle voete aanmekaar toe hulle die ander lyn probeer oorsteek. Albei slaan neer soos osse. Daar kom 'n trein aan op dié lyn van die Strand se kant af.
Mense skree histeries. Toe is die trein op hulle. Die laaste ding wat Lawrence sien is Sahara se gesig.
Sy laaste kreet, "Here help."
©Rooi Mier 13.07.2022