#Stukkendeharte S2 Hfst 66 - Rooi Mier
Rencia skrik wakker met ‘n hart wat verskriklik vinnig klop.
“Ag, kan die verlede my tog nie net aflos nie!”
Sy is natgesweet en sy bewe soos sy daardie dag as kind gebewe het.
Shane sit op kantoor met ‘n dikkerige lêer oor ‘n vlaag kinderontvoerings, of dan verdwynings want daar is geen bewyse dat die kinders ontvoer is nie. Al die kinders is van die Wes Kaap. Hy het dit aangevra omdat hy binnekort moet terugkeer Kaap toe. Die ondersoeke is aan hom toegeken.
Sy aandag is egter nie by die inhoud van die lêer nie maar eerder by Rencia.
“Wat gaan aan met haar? Sy bly moeg en afsydig. Daar is ook nie juis iets van ‘n liefdeslewe nie.
Soms kom sy angstig voor en sy kry gereeld nagmerries. Dalk is dit tyd dat sy professionele hulp kry. Hoe gaan ek haar oortuig?”
Hy vou die lêer toe en gaan staan by ‘n venster. Sy selfoon lui. Dit is die dokter by die hospitaal.
“Goeie môre dokter.”
“Goeie môre Meneer Cupido. Ek wil u net laat weet dat Meneer Max Adriaanse stabiel genoeg is om oorgeplaas kan word na ‘n hospitaal in die Kaap soos versoek deur u.
Hy sal egter moet vlieg om sodat hy nie uitgeput word nie en daar moet ‘n dokter teenwoordig wees. Laat my weet watter datum sodat ons alles gereed kan kry aan ons kant.”
“Baie dankie dokter, ek sal u teen môreoggend kan sê.”
Shane is opgewonde. “Uiteindelik kan ek terug Kaap toe. Upington is ‘n mooi dorp met vriendelike mense maar die hitte kry my nog soms onder.
Ek moet by Rencia kom en die nuus met haar deel. Dit is tyd dat ons die volgende stap neem.”
Hy sluit sy kantoor en ry huiswaarts.
Lawrence ry uit Vanrhynsdorp en draai op die N7 Kaap se kant toe. Die tweeling sit albei agter, vas aan die slaap. Hy het hulle wakker gemaak voor hulle Vanrhynspas afgekom het. Hulle was in vervoering.
By een van die vulstasies in Vanrhynsdorp het hulle die kleedkamers besoek. Hy was angstig toe hy sy prinsessie in die hande van ‘n vreemde, dog vriendelike dame moes laat.
Hulle het daarna geëet en toe het hy ‘n bietjie gerus. Nou slaap hulle weer terwyl hy ry.
“Sodra ek in die Kaap kom sal ek Sahara vra dat ons ‘n troudatum moet bepaal.
Ons is finansieël sterk genoeg en dit is regtig nie nodig dat daar ‘n lang verlowing hoef te wees nie.”
Hy sit die radio saggies aan en sing saam. Terwyl hy sing val dit hom by dat hy nie die bespreking by Clanwilliam dam oord bevestig het nie. Sy plan is om daar te oornag want hy wil dit nie waag om reg deur Kaap toe te ry nie.
By Klawer afdraai trek hy af om ‘n oproep te maak. Daar is genoegsame akkomodasie beskikbaar en hy kan maar betaal sodra hy daar aankom.
Shane kry vir Rencia op ‘n rusbank voor die Televisie met slaapklere aan.
“Hallo liefie, nog steeds in nagklere?”
“Jy is ook maar lekker blind né. Kan jy nie sien dit is ander nagklere nie? Tipes julle mans; merk nie op as ons vroue ons hare gedoen het nie so ek verwag nie dat jy sal sien dat ek ander nagklere aan het nie.
Ek het gestort maar besluit om net vars nagklere aan te trek want ek gaan nêrens vandag nie.
Wat maak jy hier?”
Shane kom sit langs haar.
“Ek moet een van die dae Kaap toe gaan. Max mag vervoer word per vliegtuig.”
“O.”
Shane kyk na haar want die manier waarop sy sê “O” klink vreemd.
“En nou?”
“En nou wat?”
Rencia kyk nie na hom nie.
Shane verstaan glad nie haar vreemde gedrag nie. Hy besluit om nie verder te krap nie.
“Ek gaan later met hoofkantoor die detail bespreek.”
“Max mag nie Kaap toe gaan nie. Hoe gaan ek dit verhoed? As hy daar beland gaan ek hom dalk weer net in die hof sien.”
Sy krap in haar kas en haal ‘n sak uit. Daar is foto’s van haar ma en broer in. Op haar bed sit en kyk sy na die ou foto’s.
Terwyl sy na haar ma se gesig kyk kry sy die reuk van varsgebakte melktert.
Sy hoor haar boetie wat heelwat ouer as sy is se stem.
“Dit help ook nie ‘n mens wil fiks bly in die huis nie. Hoekom moes Moeks dit doen.”
Sy sien die glimlag op haar ma se gesig; gesig want sy glimlag nie net met haar mond nie maar jy sien die glimlag ook in haar oë en sommer die hele gesig.
“Jy hoef mos nie te eet nie.”
“Die gebed sê, en lei my nie in die versoeking nie. Ma is skuldig.”
Sy is reeds besig om ‘n dik sny vir hom af te sny.
Lawrence trek sy voertuig in die kampeerarea van Clanwilliam dam se kantore. Hy is moeg terwyl die tweeling, wat ‘n rukkie gelede wakker geword het vinnig uit die voertuig wil wees. Hy weet dat dit vir hom geen rus voorspel nie.
Hy laat hulle uit die voertuig klim om saam net hom in te gaan.
“Ek gaan ons sleutels kry en betaal. Julle moet asseblief rustig wees in die kantoor. Sodra ons in ons plekkie is kan ons ‘n bietjie gaan rondkyk.”
Daar staan ‘n motor daar naby met twee insittende mans. Terwyl hulle gesels kyk hulle na Lawrence en die tweeling.
Lawrence groet hulle met ‘n kopknik. Hy neem die kinders een aan elke hand en stap die kantoor binne. Die kantoordeur is oop. Terwyl hulle instap gaan die ligte aan.
“Goeie middag Meneer, u bring geluk. Die beurtkrag is nou net klaar. Is u Meneer van Wyk? Ag moeder, is hulle nie oulik nie? Watter een is die oudste?
O ja, Meneer kom seker inboek. U was gelukkig. ‘n Gesin moes ‘n dag vroeër huiswaarts keer.”
Lawrence voel skoon uitasem vir haar onthalwe.
“Sjoe, die vrou gee mens nie kans om te praat nie.”
Hy is nou nie seker of hy dit gedink of hardop gesê het nie. Hy wys die tweeling na ‘n bankie by die deur en haal dan sy identiteits- en bankkaart uit.
“U sal net nog so ‘n minuut of twee moet wag want die stelsel was af.”
Lawrence lees maar solank die reëls op die plakkaat teen die muur. Hy hoor die vrou praat oor hoe vol die dam is en hoe mooi die natuur in die omgewing is.
“Hoekom is die kinders so stil?”
Hy draai om en sien net vir Lanice daar sit.
“Waar is jou boeta? Ek het gesê julle moet stil sit tot ek klaar is. Is hy buite?”
Hy beweeg deur se kant toe terwyl hy vra.
“Hy het uitgegaan Pappa.”
“Lorenzo? Lorenzo? Ek het so mooi gevra dat julle stil moet sit en wag.”
Hy sien nie sy bulletjie voor die gebou nie.
“Lorenzo! Waar is jy?”
Lawrence is bekommerd nie, hy vererg hom net vir die mannetjie wat so ongehoorsaam is. Hy beweeg om die gebou om te sien of hy daar agter is by die speelparkie wat hy daar gesien het toe hulle in kom ry.
Lorenzo is nie daar nie. Nou raak Lawrence bekommerd.
“Lorenzo kom dadelik uit waar jy wegkruip seun! Lorenzo!”
Nou raak Lawrence paniekerig. Hy hoor Lanice agter hom roep en draai dadelik om om haar hand te vat.
Hy stap vinnig met haar aan die hand terug die kantoor in.
“Waar is julle kleedkamers vir mans?”, skree-vra hy.
“Daar anderkant by daai gangetjie af meneer. Los haar maar hier by my.”
“Nee!”
“Ook maar lekker onbeskof”, dink die vrou. Sy besef nie regtig wat aangaan nie.
Lawrence is vinnig die gang af met Lanice se hand nog steeds in syne.
Hy druk die kleedkamer se hoofdeur oop.
“Lorenzo!”
Arme Lanice word verder ingesleep. Die stalletjies is egter almal oop. Geen Lorenzo.
“Kom Lanice!”
Hulle gaan langsaan in by die dames.
“Lorenzo! Lorenzo my kind, waar is jy?”
“Wat gaan aan Meneer van Wyk?”
Dit is die ontvangsdame wat haar pos verlaat het om te kom verneem wat die bohaai is.
“My kind! My kind is weg!”
“Is hy nie dalk by die speelpark nie? Die kinde..”
Lawrence kap haar af, “Nee, hy is nie daar nie.”
Hy storm weer by die deur uit.
Die motor met die twee insittendes is ook weg.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking