#Stukkendeharte S2 Hfst 37 - Rooi Mier
"Prinsessie! Prinsessie! Lanecia, waar is jy my kind. Asseblief, het iemand dalk my kind gesien?"
Lawrence klink desperaat.
"My arme kind was onlangs getraumatiseer nou is sy alweer weg. Lanecia!"
"Lanecia! Waar is jy? Lanecia!"
Sahara roep so hard sy kan. Sy tree agteruit en loop in iemand vas. Die persoon roep ook na Lanecia. Sy en die persoon draai terselfdertyd om en albei sê, "Jammer."
"Lawrence? Wat maak jy hier?"
"Sahara. Ek is so dankbaar jy is nie beseer nie. Was jy bang? Jy moes baie bang gewees het my liefling."
Die video flits deur Lawrence se kop en hy sien haar uit die huis vlug.
Lawrence gryp haar en druk haar styf vas.
"Ek was net so bang toe ek daai video kyk."
Sahara hou hom ook vas. Sy weet nie van watter video hy praat nie maar dit maak nie nou saak nie. Al wat saak maak is dat hy nou hier is.
Terwyl hulle mekaar vashou kyk sy op oor Lawrence se skouer.
Sy druk hom skielik weg.
"Lawrence nee. Los my. Kom ons soek vir Lanecia."
Dit ruk Lawrence terug na die werklikheid. Hy los haar.
Janice probeer om uit die motor tussen die mense te kyk of sy nie haar dogter sien nie. Soos sy haar kop van links na regs draai sien sy vir Lawrence.
Hy loop agteruit in iemand vas. Dit is Sahara.
"Hoekom hou hulle mekaar so styf vas?
Hoekom hou hulle mekaar so lank vas?"
Haar oë vang Sahara s'n toe sy uiteindelik opkyk. Sy kyk haar stip aan totdat Sahara hom wegstoot.
"Het die vroumens geen skaamte nie? Hoekom soek sy nie haar petuur nie? Lawrence is amper vyf jaar jonger as sy.
Die vermetelheid om aan hom te hang terwyl my kind weg is, terwyl sý kind weg is.
Dit is net hoere wat aan getroude mans hang."
Sahara voel so skaam en skuldig.
"Wat het my makeer om so aan 'n getroude man te hang? Hoe gaan ek dit teenoor enigiemand regverdig? Die broer en suster kaart sal my nie eers help nie."
Haar gedagtes keer egter onwillekeurig terug na die oomblik. Teen haar wil moet sy erken dat dit goed gevoel het.
"Lanecia! Lanecia!"
Lawrence draai om en kyk in Janice se blitsende oë was. Hy draai weg.
"Prinsessie waar is jy."
Steven sien van ver af vir Mavis in sy motor sit. Hy voel verlig omdat hy nie vir Lanecia by haar sien nie maar terselfdertyd meer bekommerd.
"Nou waar sal die dogtertjie dan wees?"
Mavis wink hom nader. By die motor wys sy vir hom dat die dogtertjie aan die slaap is op die agterste sitplek.
"Mavis, almal is opsoek na die kind. Ons beter haar by haar mense kry. My liefling, jy weet natuurlik dat jy in groot moeilikheid kan kom.
Die verhoor om te bepaal of hulle jou moet vervolg vir die vorige keer is oormôre. Nou dit."
"Steven, ek hoor jou. Sê my egter dit. Die kind het alleen daar staan en huil. Sy was getraumatiseer. Niemand het aandag aan haar gegee nie. Al haar mense wat daar was, was self getraumatiseer. Dink jy ek moes haar by enige van hulle los? Ten minste onthou sy my en het geweet ek sou haar nie seermaak nie."
"Ek hoop net hulle gaan dit ook so sien my liefde. Jy is so 'n liefdevolle mens maar juis dit kan jou in die moeilikheid laat beland.
Ek gaan gou haar familie kry."
Sy hart klop wild.
"Wat gaan nou met sy liefde gebeur. Ek hoop van harte dat hulle sal weet sy het net goed bedoel."
Hy sien vir Iris en glo dat dit makliker sal wees om haar eerder te nader.
"Iris, ek het Lanecia gevind."
"Waar is sy? Hoekom het jy haar nie gebring nie?"
"Sy slaap. Voordat ek jou na haar toe neem wil ek jou net iets sê."
"Daar is nie nou tyd nie. Neem my na my kleinkind toe. Het iets met haar gebeur?"
"Nee, luister net asseblief. Sy is veilig. Moenie nou die anders roep nie. Ek moet eers iets verduidelik."
"Praat en praat gou."
"Ek sal dit so kort moontlik hou."
Hy verduidelik in 'n paar sinne wat gebeur het.
"Iris, Mavis het goed bedoel. As die storie egter by die polisie uitkom kan dit haar saak skade berokken.
Asseblief Iris. Ek smeek jou."
"Ek belowe niks. Neem my na my kleinkind toe."
Iris en Steven kom aangestap na Lawrence toe. Steven dra vir Lanecia wat duidelik slaap. Toe Lawrence sy prinsessie gewaar, begin hy na hulle toe hardloop. Sy trane van verligting en dankbaarheid begin sommer te vloei.
Iris vertel hom 'n halwe storie van Lanecia wat gehuil het en 'n barmhartige Samaritaan het haar geneem. Mavis het gesien en haar in die motor geneem waar sy aan die slaap geval het.
Bennie se operasie was suksesvol. Die dokter glo dat hy buite gevaar is en dat hy binne 'n week of so ontslaan sal word.
Max se operasie is meer kompleks. Hy gaan 'n lang operasie hê en sy lewe is in die weegskaal. Daarby het die patroon, nadat dit groot skade in sy ingewande veroorsaak het, in sy ruggraat vasgesteek. Dit kan moontlik verlamming veroorsaak as hulle dit uithaal.
"Max is darem verskriklik lank in die teater. Ek verstaan dit nie hoekom die staat soveel geld en tyd op 'n gemors soos hy kan spandeer nie. Dit sou moes nou soveel makliker gewees het om hom net te los sodat hy kan vrek.
Miskien is dit ook maar beter so. Ek wil hom persoonlik doodmaak."
Hy stap uit na sy Mercedes toe om daar te wag.
Verpleegster Rencia Witbooi is 'n nuweling by Harry Surtie Hospitaal.
"Ek is een van die verpleegsters wat verantwoordelik sal wees vir die versorging van Max Adriaanse. Sy verhaal klink soos 'n storie. Ek sien so uit daarna om hom te versorg."
Sy toon haar identiteitskaart aan die polisieman by die enkelkamer waar Max versorg word. Nadat die polisieman dit gekontroleer het, laat hy haar in.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking