#Stukkendeharte S2 Hfst 31 - Rooi Mier
"Dit is mos, of is dit nie? Hy is wel vermom maar ek is seker dat dit Max is."
Sy roep hardop, "Max!"
Die motor waarin Max is trek met skreeuende bande weg.
Sahara hoor Jenny skree en hardloop na die hek toe. Bennie en Lawrence volg kort op haar hakke.
"Dit is hy! Dit is die man wat Antie Rachel geskiet het."
Max pluk sy vuurwapen in die ry uit en mik na Sahara. 'n Skoot knal. Sahara val.
Shane hardloop na sy voertuig. Larry wil so vinnig moontlik by sy voertuig uitkom. Jenny gil histeries.
"Neeeee! Neee! Sê vir my dit is nie waar nie."
Haar bene gee onder haar pad en sy val hard.
"Sahara!! Sahara!! Neee!!! My dogtertjie neeee!!!"
In sy haas laat Shane sy voertuig se sleutel val. Dit neem hom kosbare sekondes om sy sleutel terug te kry. Dit het half onder die voertuig ingeval.
Max se voertuig verdwyn om die hoek, terwyl Shane en Larry gelyk wegtrek. Die gevolg is 'n botsing. Dit veroorsaak dat hulle nie kan wegkom nie. Dit voel soos eeue voordat hulle uiteindelik wegkom. Shane voor en Larry agterna.
By die stop spring Shane uit sy motor en stop vir Larry.
"Ek mag nie toelaat dat jy so deur die strate jaag nie. Gaan wag by jou woonplek. Ek sal jou laat weet wat gebeur het."
Hy hardloop terug, spring in sy motor en gaan om die draai. Max se voertuig is weg. Daar is geen teken van hom nie. Hy skakel sy polisieradio aan en ontbied hulp. Intussen jaag hy voort.
Martin, wat voor almal by die Van Wyk's weg is, het afgetrek om 'n oproep te beantwoord. Terwyl hy buite sy voertuig staan sien hy hoe 'n voertuig verby hom jaag. 'n Minuut later sien hy nog twee motors aangejaag kom. Hy identifiseer Shane en hy is seker dat die voertuig agter die een is wat Larry gebruik.
"Wat gaan hier aan? Shane en Larry wat duidelik agter 'n voertuig aanjaag wat nie nou meer sigbaar is nie."
Hy druk sy foon af en spring in sy voertuig.
"Dit beteken net een ding; dit is vir Max wat hulle jaag."
Na 'n rukkie het hy hulle ingehaal. Hy voel na sy vuurwapen in sy kajuit. Dit is daar en gereed.
Shane vererg hom toe hy sien dat Larry hom nog steeds volg.
"Ek kan nie nou weer stop nie maar ek sal beslis na afloop van alles 'n klag teen hom lê. Hy is besig om die reg in eie hande te neem.
Wie is dit agter hom? Martin?"
Hy jaag nog voort vir 'n minuut of so voor hy besluit om maar af te trek.
"Dit baat nie ek jaag en ek weet nie waarheen Max gery het nie. Ek hoop iemand sien hom en rapporteer op die radio."
Larry ry verby en gaan staan 'n hele entjie weg van Shane af met Martin agter hom. Dit is duidelik dat hy nie wil hê Shane moet met hom praat nie.
Bennie is bekommerd. Die ambulans neem 'n ewigheid om te kom.
"Asseblief julle, kom nou. Ek kan nie 'n kind verloor nie."
Hy kyk na die bloed wat onder die liggaam uit vloei. Iris lê ook daar. Sy het flou geword.
"Ah, ek het hulle afgeskud. Jammer Shanie, ek kan jou nog nie afmaai nie want ek weet nog nie wie my dogter is nie. Sodra ek jou skiet sal ek gedwonge Upington moet verlaat. As ek jy is sal ek bly wees dat ek weggekom het, want jou lewe hang daarvan af."
Max klim oor in 'n ander voertuig.
"Neem hierdie voertuig wat ek nou gery het en gaan los dit iewers verlate. Laat my weet waar sodat iemand jou daar kan kom optel."
Hy gee die sleutels van die voertuig waarmee hy gejaag het aan 'n persoon en ry weg.
Max ry terug in die rigting van Bennie se huis.
"Ek moet gaan seker maak of Jenny nog daar is. Dit raak nou dringend om te weet wie my dogter is."
Daar is 'n ambulans. Hulle laai iemand in terwyl daar 'n man, 'n vrou en Jenny toekyk. Met die wegry van die ambulans klim aldrie in dieselfde voertuig en volg.
"Ek sal hulle maar nie volg nie want dit kan gevaarlik wees. Gelukkig weet ek waar Jenny woon. Ek sal haar later kry."
Max se foon lui.
"Meneer, ek het die voertuig hier na die begrafplaas geneem. Dit is op die oomblik die veiligste plek."
"Bly daar maar ver van die voertuig af. Morgan gaan jou nou kom haal."
Shane wil net uitklim toe hoor hy 'n berig op die polisieradio. Dit rapporteer dat die voertuig waarin Max ry opgemerk is waar dit in die rigting van die begraafplaas ry.
Hy klim vinnig in sy voertuig, draai om en jaag in die rigting van die begraafplaas.
Hy het alreeds 'n hele ent gery voordat Larry en Martin besef hy ry in die teenoorgestelde rigting.
Die begraafplaas is aan die kant waar jy in Upington kom van Keimoes se kant af. Shane jaag verby die gemeenskapsaal, verby die afdraai na Bellvue tot by die einde van die pad waar hy regs draai in die begraafplaas se rigting.
By die begraafplaas sien hy die verlate motor daar staan. Daar is egter geen beweging nie, behalwe vir iemand wat na grafte kyk in die verste hoekie van die motor af.
Shane se speurder instinkte vertel hom dat dit suspisieus is en hy ry in daai rigting. Die man bly kyk onrustig na hom wat nader ry.
Skielik begin die man te hardloop tussen die grafte deur. Hy duik agter 'n grafsteen weg. Shane kan nie verder ry nie en stop om uit die voertuig te klim. Hy is skaars uit toe daar skielik skote begin klap. Die man skiet op Shane.
Twee van die skote tref Shane se motor. Voordat hy duik voel hy hoe 'n skoot hom in die bors tref. Hy land hard in die stof. Nog 'n skoot klink op maar dit tref blykbaar niks.
'n Voertuig wat besig was om by die begraafplaas in te ry stop skielik, draai om en jaag weg. Nog twee voertuie ry die begraafplaas binne.
Larry en Martin sien wat besig om te gebeur. Hulle albei stop en spring vuurwapen in elkeen se hand uit. Hulle beduie mekaar om die toneel van verskillende hoeke te nader. Soos wafferse opgeleide soldate hardloop hulle koes koes en Martin kruip glad later nader.
In sy lewe het Martin nog nie soveel opwinding beleef nie. Dit is mos nie 'n sakeman se lewe nie.
Larry het al 'n paar keer 'n vuurwapen hanteer maar nog nooit op iemand geskiet nie. Gaan dit vandag sy eerste keer wees? Hy nader die toneel van die linkerkant af terwyl Martin die regterflank dek.
Waar Shane lê voel hy versigtig met sy hand aan sy bors. Daar is nie bloed nie. Die patroon het hom in sy veiligheidsbaadjie getref. Hy slaak 'n sug van verligting.
"Kom uit daar agter en handig jouself oor. Jy gaan nie wegkom nie!"
Hy merk skielik uit die hoek van sy linkeroog beweging. Shane rol vinnig om en is gereed om te skiet. Dit is Larry. So amper het hy hom geskiet.
Die vlugteling skrik toe hy ook vir Larry sien en skiet 'n wilde skoot in sy rigting. Die patroon slaan in 'n grafsteen langs hom vas. Larry duik agter die grafsteen weg. Hy loer om die grafsteen en vuur 'n skoot af. Daar gaan nog 'n skoot op dieselfde tyd af.
Toe Shane besef dit is Larry rol hy weer vinnig om en sien hoe die vlugteling op Larry skiet. Hy skiet. Die vlugteling skree, spring regop en val.
Hy beduie vir Larry om in skuiling te bly terwyl hy nader kruip, heeltemaal onbewus van Martin wat agter 'n ander grafsteen skuil.
Dis vlugteling lê roerloos. Shane bly egter versigtig totdat hy so te sê by die liggaam is voordat hy opstaan.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking