#Stukkendeharte Hoofstuk 26 - Rooi Mier
Dit is Sondagoggend. Bennie en Iris is vroeg op. Hulle maak gereed om kerk toe te gaan.
"Ek voel so onrustig Bennie. Miskien moet ek maar vir Lawrence bel. Iets voel nie reg vanoggend nie."
"Los die klong af Iris. Miskien gaan hy kerk toe. Jy het hom dan so mooi aangeraai om by 'n kerk uit te kom. Weet jy dit sal sy eerste diens wees vandat hy besef het daar is 'n God?"
"Nou hoekom voel ek onrustig. Mens voel mos nie so as iemand kerk toe gaan nie. "
"Iris jy gaan tog nie ophou nie. Jy moenie die klong so op piep nie. Hy is 'n man."
"Hy bly my babatjie en sal my babatjie bly al het hy ook al ses kinders.
Ek moet hom bel. Iets in my moederhart sê daar is iets fout. Julle pa's ken nie daai gevoel nie."
Bennie "ghmmf! Bel en kry klaar. Sê groete vir my klonge-long-tong."
Iris kyk hom skuins aan en glimlag.
"Jy aanvaar óók maar nie dat hy groot is nie."
Sy skakel Lawrence se nommer.
"Môre Mammie. Hoe gaan dit?"
"Goed my kind. Die vraag is hoe gaan dit met jou."
"Baie goed my besige ma. Ek gaan vandag vir Sahara ontmoet."
Iris druk die telefoon toe. "Bennie hoor hier. Hy gaan Sahara ontmoet."
Bennie staan benoud nader.
"Sê hy kan nie. Dink aan 'n verskoning."
"Lawrence gaan jy dan nie kerk toe nie. Jy mag nie na Sahara toe gaan nie."
"Hoekom nie mammie?"
"Sy , sy iiiis. Sy is moontlik kerk toe."
"Ons het 'n afspraak mammie. Sy wag vir my. Bye eers Mammie. My 'uber' is hier. Sê groete vir die toppie."
Hy lui af.
"Lawrence! Lawrence kind waar is jy. Hy het afgelui."
"O hel Iris. Wat nou?"
Hulle probeer weer bel maar Lawrence antwoord nie.
"Ons moes lankal met hulle gepraat het my man. Net môre gaan ons terug Kaap toe en ek vra nie Bennie, ek sê."
"Ons sal moet ja. Netnou is ons te laat. Wat as hulle … jy weet. Ek kan nie die woord uiter nie want dit is my kinders."
"Iris ek kan nie nou in die kerk gaan sit nie. Nié nou nie."
Iris kyk hom net aan. Haar kyk sê alles.
"Ja okay. Laat ons maar gaan maar ek gaan tog nie konsentreer nie."
"In tye van krisis is die huis van die Here die beste plek Bennie van Wyk."
Lawrence het 'n nuwe kamermaat in die plek van Anton. Hy vra verskoning dat hy nie kan help skoonmaak nie en gaan klim in sy die uber.
Dit is nog baie vroeg maar hy gaan liewer vroeg. Vir nou moet die bestuurder hom by die Waterfront aflaai. Dan kan hy maar 'n vroeë middagete het en miskien sjokolade of iets koop vir Sahara.
"Ja so begin my nuwe lewe. Die lewe as Sahara se aanstaande. Sy is sekerlik die mooiste meisie suid van die ewenaar."
Sahara sit in die kerk. Niks kan egter haar gedagtes wegneem van wat kom nie. Haar eerste ontmoeting met Lawrence as haar broer.
"Ek moes nie ja gesê het vir die ontmoeting nie. Hoe gaan ek sy teenwoordigheid hanteer?"
Na die diens stap sy na haar woonstel. Dit is nie ver nie. As iemand haar nou moet vra wat gepreek was sal sy moet lieg. Is daar nie 'n manier om die tyd stadiger te laat loop nie?
Lawrence stap al langs Beach Weg af in die rigting van Seepunt. Hy het baie tyd want dit is nou eers 12:00 en hy hou eintlik daarvan om te stap.Hy dra 'n rugsak waar sy persoonlike goed in is. Hy het gemaklike 'name' skoene, 'n driekwart broek en 'n Engelse premierliga sokkerklub hemp aan.
Hy loer net so nou en dan op die sel se gps of hy nog op roete is.
Bennie en Iris is al terug van die kerkdiens af. Hy maak onmiddelik aanlyn besprekings. Daar is plek vir hulle die volgende dag.
John en Martin is oppad Ravensmead toe. Martin het vir Elton goed leer ken. Hy hou verskriklik baie van hom en sy vrou. Hy wonder hoekom sy weg is. Vir John is dinge altyd eenvoudiger; die Here het haar teruggebring. Hulle is eintlik bietjie laat want hulle wou Elton help braai het.
Sahara kyk uit oor Seepunt promenade. Van haar woonstel op die vyfde vloer sien sy die jongman. Dit is bietjie ver maar sy weet instinktief dat dit hy is.
"Laat ons dit agter die rug kry. "
Lawrence staan teen die reëlings naby die bankie waarvan Sahara gepraat het. Hy kyk links dan regs langs die promenade af of hy haar sien. Hy verwag haar nie van die pad se kant af nie.
Sy woon net oorkant die pad. Sy staan en kyk na hom vir 'n rukkie. Haar hart verraai haar alweer. Die ding wil nie ophou spring nie.
Paul Slingers staan 'n entjie weg. Hy het Seepunt toe gekom in die hoop dat hy Sahara gaan sien. Sy kan dalk besluit om bietjie langs die see te kom stap. Daar is sy nou. Hy gaan nou maak of hy haar toevallig raakloop. Hy wil net na haar kant toe loop toe hoor hy sy roep, "Lawrence, hier." Sy stap na die bank toe.
Lawrence se hart ruk. Haar stem. Daar is sy. Sy mond voel droog. Hy begin stadig in haar rigting stap.
Paul stop in sy spore. Hy kyk rond. "Wie is Lawrence? Volgens sy kennis het sy nie iemand in haar lewe nie."
Dan sien hy die jongman. "Is dit dan nie Bennie se seun nie? Wat maak Sahara met hom? Ek was onder die indruk Bennie ken nie vir Sahara nie."
Lawrence en Sahara gaan sit op die bank. Paul kyk in 'n ander rigting toe hy verby hulle stap sodat Sahara hom nie miskien sal herken nie. Hy gaan sit so vyf treë weg plat op die gras met sy rug na hulle toe ingeval Sahara dalk omkyk.
"Ek hoop hulle gaan hard genoeg praat sodat ek kan hoor. As ek nader sit gaan dit suspisieus lyk. Nou mis ek my klankversterkers wat ek gebruik as ek gesprekke moet afluister."
"Middag Sahara. Hoe gaan dit?"
Lawrence probeer normaal te klink. Hy dink, "As ek my hand uitsteek kan ek aan haar raak."
Sy keel trek toe.
"Lawrence. Dit is goed om jou weer lewend te sien."
"Wat bedoel jy?"
"Ek het gedink jy is saam met Anton dood. Dit was 'n verligting om jou saam met jou ouers te sien?"
"Wanneer het jy hulle ontmoet? Ek weet nie daarvan nie.
Kom ons praat liewer oor wat belangrik is. Hoe het jy dit hanteer toe hulle jou inlig oor ons?"
"Waarvan praat jy Sahara. Dit is die tweede keer dat jy so iets noem. Waarvan moes my ouers my ingelig het?"
Sahara besef dat Lawrence in die duisternis is oor hul verwantskap. Hoe nou gemaak? Waarvoor is hy dan hier?
"As hy nie weet nie kan dit wees? Dit kan tog nie wees nie. Nee!!"
Sy hoor nog hoe hy haar Juffrou Sahara van Wyk genoem het.
"Sahara, jy weet mos dat ek al van skooldae af .."
"Nee, nee Lawrence. Jy mag nie. Ons kan nie."
"Het jy dan iemand in jou lewe?"
"Nee Lawrence ons kan net nie."
"Sahara, dan verstaan ek nie nou nie. Ek is nie meer jou leerder nie of is ouderdom dan so belangrik vir jou?"
"Lawrence ek sê mos ons mag nie."
"Is dit die geloof ding? Ek glo nou dat daar 'n God moet wees, alhoewel ek nog nie alles verstaan nie. Jy kan my leer."
Sahara dink ek sal maar moet vir Lawrence sê. Dit is nou nie my skuld dat sy ouers hom nie ingelig het nie.
Paul hoor groot gedeeltes van die gesprek. So Bennie se seun wil Sahara sy meisie maak maar sy wil nie. Hy staan vinnig op en loop om die bank.
Sahara besluit dit is tyd. "Lawrence, ek moet jou iets vertel. Jou pa is ook .."
"Middag Sahara. Is jy oraait?"
Sahara stop en kyk in Paul se rigting.
"Hi Paul."
"Jammer ek is laat vir ons afspraak."
Sahara is verbaas. "Maar .."
"Maar niks nie. Ek sal opmaak vir dit. Middag jongman. My naam is Paul. Dankie dat jy vir Sahara solank geselskap gehou het. Jy kan nou maar gaan."
Lawrence kyk verward van Sahara na Paul. Nou verstaan hy nie. Hy staan stadig op.
"Wat gaan nou aan Sahara?"
"Jammer Lawrence.."
"dat jy nou moet loop. Ek en Sahara moet nog iewers heen gaan."
Hy trek Sahara eenkant toe aan haar arm en fluister, "Ek red jou?"
Lawrence weet nie wat om te doen nie. Paul hou Sahara aan die arm was en stuur haar in 'n rigting weg van hom af. Sy is te oorbluf om te reageer.
Lawrence kan sy oë nie glo nie. Wat gebeur nou? Hoekom het Sahara nie vir hom gesê sy het 'n afspraak nie? Hy is die grootste dwaas ooit. Hy stap stadig weg van hulle af.
Sahara ruk haar arm los. "Wat dink jy doen jy? Die vermetelheid. Hoekom is jy alweer op die toneel? Volg jy my. Loop net voor ek skree."
Sy was nog nooit so woedend in haar lewe nie. Die seer in Lawrence se oë was net te veel. Dit sou vir hom beter gewees het om liewer die waarheid te hoor.
"As ek jou ooit weer naby my sien gaan ek 'n klag teen jou lê. So die handsak ding was net 'n leuen om naby my te kom."
"Maar Sahara"
"Bly stil!!" My skree en mense kyk. "Bly net stil!".
Sy draai om maar sien Lawrence nêrens nie. Daar is heelwat meer mense as vroeër.
Die eerste helfte van die jaar is nog nie verby nie en hy het nou al sy beste vriend verloor. Nou verloor hy ook sy Sahara, of was sy nooit syne nie. Hy stap sommer net 'n rigting in weg van die see af, heeltemaal onbewus van sy omgewing. Hy huil nou openlik.
'n Bergie sien hom en kry hom jammer. "Wat gaan aan boetie? Toe maar, die lewe kou 'n mens en spuug jou weer uit. Jy is nog jonk. Jy sal op jou voete land. Glo net."
Dit veroorsaak net meer trane. Hy beland in die hoofweg waar hy blindelings oor stap.
Hy hoor die remme en val op die grond.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking