#Stukkendeharte Hoofstuk 41 - Rooi Mier
"Liewe Pappie en Mammie. Wanneer julle die brief ontvang is ek heel moontlik nie meer lewendig nie.
Daar is 'n paar dinge wat ek vir julle moet sê.
Ek wil begin deur onomwonde te sê dat as julle dogter is ek baie lief vir julle. Seker net so lief as wat die meeste ander kinders hul ouers het.
Materieël het julle voorsien wat julle kon. Ek was nie slegter daarvan af as die kinders in die omgewing nie. Soms het ek selfs 'n bietjie meer gehad. Julle het gesorg dat ek my matriek kon behaal en selfs onderwyskollege toe kon gaan in Kimberley.
Ja, ek het nog nie een dag onderwys gegee nie omdat ek nie 'n pos kon kry nie.
Julle het my agtergelaat in 'n huis in Upington, wel sub-ekonomies, maar gemeubileerd met 'n pragtige tuin. Ek weet tot vandag toe nog nie hoekom julle Upington verlaat het nie. Soos ek gesê het materieël het ek nie klagtes nie want ek was nooit iemand vir prag en praal nie.
Verwag julle nou 'n maar? Ja, daar is definitief 'n groot maar."
Willem sit skielik meer regop daar buite die venster waar hy op 'n stoel sit.
Steven en Sarie kyk betekenisvol na mekaar.
"Kan ek eers vir ons gaan tee maak my man?"
Sarie voel benoud want sy wil nie graag hoor wat Sally te sê het in Steven se teenwoordigheid nie.
"Nee my vrou, ons moet nou die brief klaar lees. Ons kan dit tog nie langer uitstel nie. Kom ons gaan voort. Sal jy verder gaan?"
"Ja, ek sal."
Sy klink senuweeagtig.
Willem skuif ongemaklik rond. Hy staan op, loop tot by die deur maar draai om en gaan sit weer.
Sarie lees verder.
"Mammie, jy het iets gedoen wat ek as kind baie moeilik kon verwerk. Toe ek ouer geword het, het ek dit probeer regverdig moeder, maar ek kan nie langer nie.
Ja, 'n ma sal seker baie dinge doen om vir haar kind te sorg maar iewers moet mens 'n streep trek. Was dit alles die moeite werd?"
Iemand klop aan die deur en Sarie spring vinnig op, brief in die hand. Sy maak die deur oop.
"Haai buurvrou, kom binne. Ek sal vir ons 'n teetjie maak. Daar is iets waaroor ons nog moet praat.
Steven, kan jy ons 'n oomblik gee?"
Sy wag nie vir 'n antwoord nie en stap regdeur kombuis toe. Haar buurvrou kon nie op 'n beter tyd gekom het nie.
Sy het egter nie rekening gehou met die nuwe Steven nie.
"Sarie, ons het dringende sake om af te handel. Los eers die tee. Ek dink ons buurvrou sal verstaan."
Hy kyk na die buurvrou wat net wou sit.
"U verstaan mos? Môreaand as ons nie te laat uit Carnavon kom nie, kan u mos kom nê?"
Hy wag nie vir 'n antwoord nie en gaan maak die deur vir haar oop.
Hy kry 'n skewe kyk toe sy uitgaan. Sarie kom sit weer ewe druipstert.
"Lees maar my vrou."
Sarie weet daar is nie wegkom kans nie en vou weer die brief oop. Sy soek kastig waar sy nou verder moet lees.
"Dan is daar Oom Willem. Hy .."
"Nee Sarie, dit klink nie vir my of jy op die regte plek is nie. Ek dink sy het gevra of dit alles die moeite werd was"
"O ja. Hier is dit."
"Was dit alles die moeite werd?
Mammie, ek het dit nie daardie tyd verstaan nie. Ek het eendag in Mammie se kas weggekruip vir Oom Willem.
Mammie het in die kamer gekom. Oom Willem het ingeloop sonder om te klop. Mammie het hom probeer uitjaag maar hy het geweier om te loop.
Hy het gesê dat Mammie moet onthou dat hy eintlik vir ons sorg. Hy kan dit enige tyd stop as hy nie kry wat hy wil hê, waar hy dit wil hê en wanneer hy dit wil hê nie.
As sy weier gaan hy vir Pappie sê wat volgens hom te lamsakkig is om vir ons te sorg, dat Mammie hom verlei het. U was bereid om nie net u liggaam te verkoop nie Mammie maar ook u siel vir geld."
Steven staan op en loop heen en weer. Sarie het ophou lees. Haar oë volg hom, op en af, op en af.
Hy stap na die deur toe, maak dit oop en weer toe. Hy gaan sit op 'n bank oorkant haar en staar na 'n teël op die vloer. As hy nie jare daar gebly het nie sou hy nie kan sê watter kleur daai teëls is nie.
Willem wou so vinnig opstaan dat hy stoel en al omgeval het. Twee kinders in die straat lag hardop.
Hy het sy enkel beseer en skree onwillekeurig toe hy probeer opstaan.
Steven staan op, gryp die brief uit Sarie se hand en stap deur toe. Hy loop tot waar Willem is.
"Ek wil jou nou daarbinne hê."
Willem sukkel nog om op te staan. Hy pluk hom regop aan die skouers en trek hom deur toe. Willem hobbel agterna.
Sarie het intussen kamer toe gevlug.
"Sarie, kom hier!"
Sarie kom huiwerig binne.
Daar is weer 'n klop aan die deur. Dit is Mavis. Sy het gesien hoe Willem val maar dit was niks. Die oomblik toe sy sien hoe Steven Willem oppluk en sonder seremonie by die deur intrek toe weet sy by die Septembers is groot drama. Sy moes net eenvoudig kom uitvind wat aangaan. Dit sal 'n skande wees as sy nie haar naastes kon bystaan in wat duidelik 'n nood is nie.
Toe niemand antwoord nie klop sy harder.
Steven pluk die deur oop.
"Wat! Alweer jy Mavis! Gaan steek jou neus in iemand anders se besigheid."
Hy klap die deur toe in Mavis se gesig.
Haar naam is egter nie verniet Mavis nie. Sy laat haar nie so maklik onderkry nie. Sy maak die deur weer oop.
Steven is nou woedend. Hy stap deur toe en druk haar uit en sluit die deur.
Nog hoor Mavis nie. Sy het die oop venster gesien en gaan skree daardeur dat sy net wil help.
Steven gaan maak die vensters toe en trek die gordyne toe.
"Sit!"
Willem en Sarie skrik so groot albei gaan sit. Toe hulle besef dit is op dieselfde bank spring albei gelyk op.
"Sit! Waar het dit gebeur?"
"Wat bedoel jy Steven? Waar het wat gebeur?"
"Willem! Hou jou bek! Ek slaan hom toe vir jou!"
"Sarie praat!"
"Ons het in Jammerberg Straat gebly in Upington. Asseblief Steven, dit is nie wat jy dink nie."
"Nou vertel my wat ek moet dink. Het jy met Willem geslaap vir geld?"
"Jy moet respek hê. Ek is jou boeta."
Steven staan vinnig nader en lig sy hand om Willem te klap maar stop sy hand in die lig.
"Ek praat en jy hou jou bek toe. Gemors!"
"So jy het jouself verkoop my vrou? Hoe kon jy? Ek het iets vermoed maar dit is eintlik erger."
Steven praat nou sagter. Hy gaan sit uiteindelik op 'n bank regoor Willem en Sarie.
Ons is nou eers in die helfte van daai brief. Lees verder.
"Kan ons nie eers gesels nie my man."
Sarie staan op langs Willem en gaan sit op 'n ander bank.
Willem probeer nog een keer. Hy kon altyd vir Steven beheer het.
"Ons ouers het ons nie so grootgemaak nie. Ek is jou ouboeta en jy moet my respekteer."
Steven kyk hom net aan met veragting in sy oë.
Die stilswye gee egter vir Willem moed.
"Kom ek gaan kry vir ons ietsie om te drink."
"Jy sit net daar en niemand gaan hier dronk word voordat my dogter nie begrawe is nie."
Steven staan op om 'n glas water te gaan haal.
"Sarie, ons kan mos net alles ontken. Sally se woord teen ons sn en sy is mos dood."
Steven hoor hom fluister.
"Nee, Willem. Genoeg is genoeg. Ek gaan nie langer vir hom lieg nie."
"Jy beter nie. Voor ons verder lees aan die brief is daar 'n paar goed wat ek wil weet.
Die huis wat ons so mooi reggemaak het in Upington. Jy het gesê dit was 'n bietjie erfgeld wat uitbetaal het. Ek was mos amper altyd dronk soos Willem my gevier het. Was dit ooit waar?"
"Nee, Willem het die geld voorsien."
"Noudat Sally nie meer met ons is nie gaan ons daai plek verkoop daar in Upington en die geld skenk vir een of ander organisasie. Willem moet niks meer mag oor my het nie. En Sally se studies?"
"Hy het ook daarvoor betaal Steven."
"Dan moet ons 'n manier kry om hom terug te betaal."
Hy kyk na Willem.
"Waar het jy al die geld gekry? Of toe maar, ek wil liewer nie weet nie. As dit onwettig was mag jou gewete jou opvreet."
Mavis kon nie alles hoor buite by die venster nie. Veral toe Steven begin kalmer raak. Sy het nuus vir die buurt. Gaan sy nou of gaan sy uitmis op al die drama?
Sy besluit sy weet wat aangaan. Dit is onmoontlik om dit langer in te hou. Sy is op 'n drafstap daar weg sommer regoor die pad.
"Waar is die brief Sarie. Kom ons lees verder. Willem het hom mos self die hoof van die huis verklaar. Hy kan maar bly maar sy bek bly toe."
Sarie vou die brief weer oop.
***
Luk 12:2 *En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.
3 Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking