#Stukkendeharte Hoofstuk 31 - Rooi Mier
Sahara sit op geliefkoosde bank in Seepunt. Lawrence antwoord nog steeds nie haar oproepe. Noudat sy weet dat hulle broer en suster is dink sy daaraan hoe graag sy as kind graag 'n broer of suster wou hê. Nou het sy 'n broer maar sy wens hy was liewer nie.
Mnr Adriaanse het haar gedwing om af te vat. Hy het gesê as hy haar by die werk sien gaan hy haar persoonlik huistoe neem.
Nou sit sy maar hier en verkyk haar aan die Kapenaars. Sy kon nog nooit gewoond raak aan Afrikaaps (Afrikaans soos Kapenaars dit besig) nie. Sy sit en luister na twee haweloses wat in 'n argument betrokke is oor watter kant toe hulle moet beweeg om 'n beter kans te hê om iets te ete te kry. Sy herken een van hulle. Hy gaan eet soms by Elton se voedingskema onder die brug.
"Jhy wil altyd reg wies blerrie harekop."
Sahara het nou al geleer dit is eintlik hardekop en het niks met hare te doen nie.
"Jhy begin alwee né. Jhy met jhou vet bleskop soes 'n geskraapte skaapkop."
"Bly stil man. Jhy maak 'n man net lus vi kerrieafval."
Sahara kan nie help om te glimlag nie. Hoe kan jy swaarmoedig bly? As Lawrence nie met haar wil praat nie moet sy maar net wag. Sy pa, ons pa sal hom moet een of ander tyd die waarheid vertel. Skielik tref dit haar. Weet die man ooit dat sy sy kind is? Sy het maar net aanvaar. Hy weet dalk hy het nog 'n kind maar hy weet nie waar hy of sy haar bevind nie.
Die harekop en die bieskop stap stad se kant toe.
Martin dink aan sy besoek aan sy broer se weduwee in Keetmanshoop. Hy sal die wiele so spoedig moontlik aan die rol moet kry. Rachel het gesê dat die ding haar pla en dat sy die saak so spoedig moontlik afgehandel wil hê.
Sy wil ook weet of dit veilig vir haar eie familie gaan wees om haar te kom kuier. Sy sal hulle ook graag wil besoek in die Noord Kaap in Kenhard, maar sy weet nie of dit veilig sal wees na al die jare nie.
Hulle dink seker maar sy lewe nie meer nie. Max se familie ken hulle nie eintlik nie so dit sal onwaarskynlik wees dat haar familie by hulle gehoor het dat sy nou al 'n paar jaar in Keetmanshoop is. Hulle dink seker nog Johannesburg het haar ingesluk.
Haar ma het Max een keer ontmoet en haar onmiddelik laat weet sy hou nie van hom nie. Volgens haar was hy net te "glad en glibberig soos 'n barber vis uit 'n modderpoel." Toe Rachel hom nie wil opgee nie het haar ma gesê sy kies 'n harde lewe en dat die man na gevaar ruik. Haar ma was nog altyd te reguit en dié woorde het haar seergemaak; "Ek gaan nie dat jy die res van die familie in gevaar stel nie, so as jy nie van hom kan afsien nie is ek klaar met jou soos kotsels in 'n toiletpot."
Sy het eers op sy sterfbed die verkleurmannetjie in Max raakgesien.
Martin kyk of hy die privaatspeurder op die lyn kan kry. Hy wil 'n afspraak maak en hulle persoonlik in hulle kantore gaan sien. Sy broer was 'n regte wolf in skaapklere. Dit is sensitief so hy sal ook eers meer wil weet oor die agtergrond van die die privaatspeurdersfirma voordat hy sy saak met hulle deel.
Lawrence is oppad Stellenbosch toe. Hy is regtig bekommerd oor sy vriendin. Hoe het dit gebeur dat hulle so ver uitmekaar gedryf het? Net die anderdag het sy nog probeer om hom te wys dat sy nie net 'n vriendin wil wees nie voordat sy besef het haar hart is eintlik by Anton.
Hulle het grootgeword maar maak dit nou hul kinderdag beloftes tot niet? Wat het geword van vriende wees vir ewig?
Larisa is opreg bly om hom te sien. Sy omhels hom. Dit het vir haar gevoel sy het alles verloor. As daar een persoon is wat naasteby sal weet hoe sy voel dan is dit hy. Sy gaan sit by hom in die motor. Emosies oorweldig haar. Hy probeer nie die móre sal die son weers skyn storie nie. Hy is net daar en laat haar toe om te huil.
Toe sy klaar gehuil het is sy verleë. Sy t-hemp se skouer is behoorlik nat. Hy merk droog op, "Dit is nou wat jy snot en trane noem."
Sy slaan hom liggies op sy kop. "Jy kan maar ophou." Op 'n ernstiger noot gaan sy voort. "Ek het so alleen, so verlore gevoel. Dankie L."
Sy kyk op in sy gesig. "En hoekom is jou ogies rooi?"
Hy glimlag net. "Vertel my hoekom het jy nie my oproepe beantwoord nie."
Sy vertel hom hoe sy gevoel het en ook van haar ervaring die ander aand.
Hy vertel haar van sy ondervinding met Sahara.
"L, kom ons gaan eet 'n burger. Ek voel nou nogals honger."
Dit raak 'n heerlike middag en vriendskapsbande word verstewig.
Toe hy haar aflaai maak hy haar belowe om hom onmiddelik te bel as sy weer so voel.
Yvonne kom daar aan. "Ek gaan weer vanaand uit saam met Candice. Gaan jy saam? Sy het gevra dat jy moet."
"Dankie maar nee dankie Yvonne. Wil jy nie maar wegkom van daai ene af nie. Iets is nie lekker nie."
"Nee, ek wil nie soos jy word en elke dag net hier sit nie. Die lewe is daar buite."
Nadat hulle weg is stap Larisa na die kafeteria toe om die gratis streeksnuusblad te kry. In haar kamer lees sy van 'n meisie wat vermis word. Sy was die laaste keer gesien by die sjebeen waar hulle die anderaand was. Dit was ook dieselfde aand. Larisa kan nie onthou dat sy die meisie gesien het nie. Hulle vermoed nie vuilspel nie behalwe dat sy die laaste week of so vreemd opgetree het volgens haar ouers.
Lawrence voel ook sommer beter vanaand. Hy is wel 'n bietjie moeg. Hy kry dit mooi reg om sy gedagtes in 'n ander rigting te stuur sodra Sahara in sy kop kom klim, wat gereeld is.
Sy ma is besig met 'n video gesprek met sy pa.
"Julle is oud, los die vryery vir ons jongmense. Hi pa. Hy loer oor sy ma se skouer. Oeeh! Trek tog net vir jou ordentlik aan as jy met my ma wil praat. Sy is 'n ordentlike meisie. Waar is jou hemp."
"Iris laat daai klong loop. Sy agterent is nog nie te oud vir 'n ordentlike pak slae nie."
Iris slaan Lawrence op sy sitvlak. "Loop hier uit. Ek vry met my man."
Terwyl hy uitstap hoor hy sy pa vra of Paul haar lughawe toe gaan neem Vrydag.
"Paul? Moenie daai naam voor my noem nie." Hy dink natuurlik nie dat dit dieselfde Paul kan wees nie.
Larisa is bekommerd oor Yvonne. Sy besef natuurlik dat daar absoluut niks is wat sy daaraan kan doen nie. Yvonne is oud genoeg om na haarself om te sien. Sy bly egter bekommerd.
"Ja sy is oud genoeg maar is sy volwasse genoeg? Dit blyk nie so nie."
Iets omtrent daai aand pla haar. Candice is duidelik meer as net 'n besoeker daar. Haar hele houding getuig daarvan. Dan het sy ook iets gesê waaroor Larisa wonder.
"Kom ons noem vir nou maar eers net die plekkie 'n sjebeen, afhangende hoe die aand verloop."
Wat het sy daarmee bedoel? As dit dan nie 'n sjebeen is nie, wat is dit dan? Hulle het haar Candy genoem. Die geheimsinnige 'G' het 'n soort van onderdanige houding teenoor haar. Sy het saam met die polisie in die kantoor verdwyn.
Iets is nie pluis nie!
Sally is baie swaarmoedig. Sy was nie werk toe nie. Hoe gaan sy die man wat haar verkrag het in die oë kyk? "Moet ek polisie toe gaan? Sal hulle my glo? Mense sê dat jy onmiddelik moet gaan en nie was nie. Dit was nou al gistermiddag. Mnr Solomons is 'n gerespekteerde man in die gemeenskap. Ek is net 'n sekretaresse wat minis dra volgens hom. Soek alle vroue wat minis dra om verkrag te word? Wou ek verkrag word?"
Sy woorde weergalm deur haar kop.
"Juffrou September? Hoekom glo die mense nooit as 'n meisie wat kort minis dra gaan kla dat hulle aangeval was nie?"
Dan hoor sy haar oom se stem.
"Jy is 'n klein slet wat vra vir die aandag van mans. Laat ek jou aandag gee klein hoerjaer."
Woorde, woorde, woorde. Dit sny baie diep en kan jou siening van jouself verander. Dit kan jou laer as slangmis laat voel. Soos die skuim van die aarde wat nie 'n plekkie in die son verdien nie.
Daar kom egter 'n dag wanneer jou woorde teen jouself gaan draai.
Spreuke 18:7 verklaar."Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe."
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking