#Stukkendeharte Hoofstuk 32 - Rooi Mier
Yvonne en Candice kom teen 03:00 die oggend verby Larisa se kamer.
"Larisa jou kloosterkoek, jy het uitgemis. Wanneer gaan jy lewe."
Yvonne is luidrugtig en beslis nie haarself nie. Daarteenoor klink Candice kalm en in beheer.
"Yvonne, jy maak almal wakker. Kom jy moet gaan slaap."
Larisa hoor dit want sy is deur daai diep slaap fase en het wakker geword toe die motordeur klap op die parkering.
"Yvonne, ek hoop nie jy gaan dit berou nie. Ek kry jou baie jammer girl."
Sy dink juis al hoe meer die koeldrank wat sy gedrink het by die sjebeen gedokter was.
"Ek wens net ek kan tot haar deurdring voor dit te laat is."
Yvonne val op haar bed neer in haar kamer en is amper onmiddelik weg. Ja, as die val maar net op haar bed was, was dit seker okay. Dit is egter ook 'n boddemlose diep donker put. Sy val en sy val en val. Het u al daardie droom gehad? Haar nagmerrie is besig om bewaarheid te word.
Hoe kan sy gered word as sy nie om hulp skree nie? Nog erger as sy nie eers weet sy is oor die afgrond nie.
Beaufort Wes, jou dogter moet gered word. 'n Karookind het die onbekende betree. Haar groener gras was geverf. Baie gou sal die laag begin afskilfer.
Jolene en Elton wag in spanning vir 'n oproep van die dokter af. Hulle was gister by die dokter waar daar weer toetse gedoen was om die oorspronklike diagnose te bevestig al dan nie. Oom John het gisteraand spesiaal kom kuier om God se guns te vra.
Jolene het liederik na hom gekyk terwyl hy besig was met sy gebed. Die verlede het deur haar gedagtes geflits.
Hoe kon Oom John haar so onvoorwaardelik vergewe? Sy onthou die dag toe hy die eerste keer aan hulle deur kom klop het. Die woorde wat sy hom toegesnou het.
“Bly Paulus Daries hier?”
“Wat soek jy”, vra die vrou ongeduldig. “Die vark is al twee jaar vrek, jy sal maar soos al die ander sy skuld moet afskryf.”
“Ek is sy broer, John. Sy tweelingbroer.”
“Kom slegtigheid nou in pare? Ek sal jou nie inlaat nie”
“Nou wie is jy dame?”
“Dit is nie jou besigheid nie maar ek is sy skoondogter. Wag maar daar buite tot my man kom.”
Hoe bly was sy agterna dat hy nie weggeloop het nie. Die Here het toegelaat dat hy nie 'n ander plek het om heen te gaan.
Sy was woedend toe Elton later opdaag en hom inlaat.
“Jolene, hoekom het jy nie my oom laat binne kom nie?”
“Vir wat, Ek ken nie die man nie en vir al wat ek weet is hy ook ‘n verkragter soos jou vark van ‘n pa.” Sy draai na John toe, “Jou broer was ‘n verkragter maar die blêrrie man wil mos niks weet nie, hy en sy God vergewe mos verkragters.”
En later.
“is daai man nog steeds hier?” Dit was meer ‘n geskree as ‘n vraag. “Ek het jou gesê ek slaap nie onder dieselfde dak as ‘n verkragter se vark broer nie. Ek gaan by my ma intrek!”
Hoe skaam was sy oor haar optrede toe sy later ontdek dit was nie Elton se pa wat haar verkrag het nie.
Dan kyk sy na haar man. Hy het al die rede in die wêreld gehad om haar te verlaat maar hier is hy nog steeds aan haar sy.
Elton het spesiaal afgevat om dié dag met sy vrou te wees. Hy wil daar wees vir haar wat ook al die nuus.
Die telefoon lui. "Elton Daries goeie dag!"
"Goeie môre. Is dit moontlik om met Mevrou Jolene Daries te praat? Dit is onkologie by die hospitaal."
"Hang aan asseblief. Jolene, dit is die hospitaal."
Hy probeer om kalm te wees vir haar maar kry dit nie heeltemaal reg nie.
Jolene probeer kalm te wees deur 'n diep asemhalingstegniek toe te pas. Is dit ooit moontlik as die nuus wat jy gaan ontvang lewe of dood beteken.
Sy dink, "Here ek het verklaar dat ek my sal berus by wat ek ook al ontvang. Vergewe my asseblief want ek dink ek het gelieg."
"Jolene Daries?"
Mevrou Daries, u uitslae is gereed. Ek sal vir u 'n afspraak maak by dokter."
"Ons kan nou by hom wees, gee ons net ten minste 'n uur."
"Ongelukkig nie mevrou. Dokter is heeldag besig met operasies. Hy kan u môreoggend om 08:00 sien."
"Juffrou, ek sal nie so lank kan wag nie. Kan u nie maar vir my sê nie. Asseblief tog."
"Nee ek mag nie mevrou. Net u dokter mag. U moet ook onthou ek is administratief, nie medies nie. Ek mag dalk iets verkeerd interpreteer. Sien u môreoggend by onkologie."
Jolene is so teleurgesteld. "Ons kan die dokter eers môre sien my man."
Elton neem haar woordeloos in sy arms en hou haar vas. As hy nie meer die spanning kan hanteer nie, hoe kan sy?
"Kom ons gaan loop op die strand my vrou. Ons moet uit kom."
Larisa probeer vir Yvonne in die hande kry. "As ek nie probeer nie gaan ek skuldig voel."
Yvonne is nêrens te sien nie. Sy loop vir Candice raak.
"Het jy vir Yvonne gesien."
Candice kyk haar aan. "Ek moet my voorkop gaan afwas."
"Wat bedoel jy, jou voorkop makeer niks. Yvonne?"
"Kyk weer, hier staan geskrywe kinderoppasser."
"Moenie sarkasties wees nie. Ek is maar net bekommerd."
"Hoekom? Ons was saam uit. Ek is nog oraait."
"Laat ek my nie vererg nie." Larisa stap weg.
Candice kyk haar agterna. "As Mnr M nie gevra het ons moet laag lê die volgende paar dae nie was jy al oppad." Sy praat met haarself.
Paul Slingers se sel lui.
"Wat wil Mammie nou weer hê. Ek het tog nie geld nie," dink hy.
"Goeie middag Mammie."
"En vir wat groet jy my asof ek lastig is?"
"Ai Mammie. Is daar 'n probleem?"
"Jy is my probleem. As julle mos in die stad is dink julle niks van die mense wat julle gelerentheid gegee het nie.
Jou suster is nog besig om te leer maar sy is al klaar wipgat."
"Wat bedoel Mammie nou?" Hy het regtig gedink sy wil geld hê, of soek my suster geld?"
"Sy antwoord nie haar foon nie. Gaan kyk asseblief hoe gaan dit met haar. Moet nou nie weer wag tot jou jy agterkleinkinders het nie."
"Ek het dan nog nie eers 'n kind nie my ma."
"Nou mos juis. Ek is mos nie die ma nie. Ek moet maar wag tot jy besluit."
"Ek sal kyk om môre te gaan my ma. Sê groete vir die ou man."
"Ou man se.. As ek my sonde nie ontsien nie is jy 'n vreksel."
Hy glimlag net. Ek was mos nou nie lus om grootmense op te pas nie. Stellenbosch is mos ook nie langs Elsies nie.
Ai Yvonne.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking