#Stukkendeharte Hoofstuk 39 - Rooi Mier
Yvonne weet nie meer of sy wakker is of slaap nie. Sy weet net dat sy soms mense hoor praat en dit soms voel of sy ingespuit word. Gebeur dit werklik of droom sy net?
Soms voel sy 'n skerp lig op haar gesig dan is daar weer duisternis. Iewers het sy Candice se stem gehoor. Sy het van 'n Meneer M gepraat en dan was daar ook 'n G. Wat is aan die gebeur? Hoekom bly dit so lank donker? Haar drome is 'n warboel van blydskap om haar ma te sien, haar vriendin Candice te hoor, Larisa wat haar waarsku teen Candice, sy wat skielik omval in die sjebeen en dan alles oorheersende vrees.
Wanneer sy hierdie vrees voel dan roep sy altyd, "Mammie help my asseblief." Dan voel sy of 'n naald wat haar steek of iets word in haar keel afgegooi.
Om een of ander rede onthou sy dat sy Vrydagaand 'n oproep ontvang het. Dit was in die sjebeen. Sy het geantwoord, "Yvonne."
Die stem aan die anderkant het gesê, "Vonnie my kind. Ek hoor niks van jou nie. Wat se geraas is daar agter?"
Sy het die gesprek kortgeknip, "Nie nou nie Mammie, ek is baie besig." Daarna het sy die gesprek beëindig en haar foon afgesit. Dit was toe sy inmekaar gesak het. Het haar ma 'n voorgevoel gehad dat haar kind in gevaar verkeer?
Waar Paul in Elsiesrivier sit en 'n bier met vriende geniet lui sy foon. Dit is sy ma. Hy druk onmiddelik die foon af.
"Mammie is nou lastig. Ek het haar mos Vrydagaand gesê Yvonne was nie daar nie. Sy moet maar wag tot môre. Dan sal ek weer krag het vir haar."
Op 'n stadium dink Yvonne sy het gehoor, "G laat die teef tog net haar bek hou. Sy irriteer my vreeslik. As Meneer M nie sy bestelling mooi gesond wou hê nie het ek persoonlik haar tong uitgesny."
G sê toe, "Candy, jy het nie 'n hart nie nê. Ek onthou hoe jy daai een bestelling se oog uitgesteek het net omdat sy gesê het sy het jou gesien."
"Jy beter ook in jou spore trap G. As daar fout kom met die bestelling is dit klaar met jou."
G raak tjoepstil. "Hoekom het ek hier beland? Ag my pa; hoekom moes jy so siek raak? Hoekom moes ons so arm wees dat ons nie vir jou operasie kon betaal nie?
Hoekom, hoekom, hoekom. Hier sit ek nou in die mag van 'n jong maar tog so wrede vrou. Ek het 'n vrees vir wat 'n onbekende Meneer M aan my kan doen.
Ek wou niemand leed aandoen nie. Al wat ek wou doen was om my pa te help. Dit raak vir my al moeiliker om hier uit te kom."
G, 'n naam wat Candice vir hom gegee het sodat hy geheimsinnig en gevaarlik moet klink, is nie inherent 'n wrede mens nie. Hy het al probeer wegkom maar die netwerk het hom opgespoor. Op G se vraag hoekom Candice verwys na 'n netwerk in plaas van 'n sindikaat het sy gesê dit is omdat hulle ooral is.
"As ek maar net weer Gavin kon wees."
'n Polisieman het hom by Candy kom aflewer. Sy het die polisieman se vuurwapen geneem, in G se hand geplaas en gesê, "Hier is hoe jy uit die netwerk kom; skiet jouself deur die kop." Natuurlik het hy nie.
Om alles te kroon het sy pa daai week gesterf. Nog voordat hy dit geweet het het Candy gesê, "Soms moet 'n mens opofferings maak. Jou naastes verloor om gehoorsaam te word."
Daar is vir hom geen manier om uit te kom nie. Hy kan nie sy ma ook verloor nie.
Sarie en Steven kom uit die kerk. Sy was vanoggend so verbaas toe hy vroeg gewas en aangetrek het. Sy het gewonder hoekom maar toe sy uitstap het hy saam met haar uitgestap. Vir die eerste keer het hy gesê hoe hartseer hy is oor sy dogter se dood.
Iemand het hulle nog voorgekeer om te vra oor die "moord" op haar. Hy het hom lelik vervies en vir die persoon gesê om sy bek te hou.
Tuis sit Willem op die rusbank. Op die koffietafel sit 'n sesbottelkan goedkoop wyn. Hy is dronk. Toe hy hulle sien inkom begin hy vreeslik te huil oor "sy Schelly".
In sy een hand het hy die brief. Dit is oopgeskeur. Sarie storm op hom af en pluk die brief uit sy hand.
"Willem hoekom maak jy my pos oop? Jy moet huistoe gaan. Jy respekteer nie eers meer die dood nie."
"Djy ka mynie ytschit nie. Ek hyl nog oor my Schelly. Schy het my altyd goet lat voel."
"Steven, môre moet ons Carnavon toe gaan sorg net dat Willem saam gaan en daar bly. As ek my sonde nie ontsien nie gaan hier nog 'n lyk uit."
"Maar Sarie ons sal seker volgende week begrafnis moet hê. Hy sal dit ook mos wil bywoon."
"Jy sorg dat die man net eers onder my dak uitkom. As hy nie nugter kan bly nie moet hy waai."
"Djys scho wreed Scharie. Ek hyl ma djy schee nie 'n flinter ommie."
Hy vat die halwe kan wyn en gaan sit agter die huis.
Hulle is skaars behoorlik tuis of die eerste mense daag op om haar te onderskraag. Die eetgoed word weer aangedra. Sarie gaan trek gemaklike skoene aan en los die brief op die kussing in die kamer.
Lawrence weier botweg om saam met sy ouers na Sahara te gaan. Hy is eintlik half onbeskof met sy pa.
"Hoekom moet ek saamgaan? Gaan sorteer jou eie gemors uit. Jy was skandelik om jou kind net so te los."
Hy wil eintlik nie erken dat hy bang was om in Sahara se geselskap te wees nie.
Iris wil hom vasvat maar Bennie wys sy moet los. Terwyl hulle oppad is na Sahara toe vaar sy uit.
"Wie dink hy is hy om so met jou te praat? Hy kort 'n ordentlike snotklap. Here hou my asseblief!"
"My vrou, ek verstaan wat in sy hart moet aangaan. Ek het hom letterlik ontneem van wat hy dink sy groot liefde is. Sy is nou skielik sy suster. Wees net rustig."
"Dit beteken nie hy moet onbeskof wees nie."
Hulle trek in by Sahara se oprit. Terwyl hulle uitklim gaan die huis se deur oop. Sahara kom ontmoet hulle buite. Haar oë is soekend. Lawrence is nie hier nie.
Hulle stap in en Sahara bied sitplek aan. Iris dink, " Die kind het goeie maniere. Ek hoop ons sal in die toekoms goed met mekaar kan klaarkom."
Sy vra of hulle iets wil drink. Albei besluit op tee.
"Ek het gevra om met u te gesels so ek sal maar begin. Dit is net moeilik om te begin."
"Ek verstaan. Mag ek jou Sahara noem?"
"U mag maar, maar ek sal vir eers hou by Meneer en Mevrou. Ons kyk maar wat die toekoms inhou.
Kan ons maar eers gesels voor ek iets voorsit om aan te knibbel? Ek is angstig."
"Reg so Sahara."
"Daar is baie vrae Meneer. Eerstens, hoekom het u so lank gevat om my op te spoor?"
"Ek gaan eerlik met jou wees Sahara. Alhoewel ek geweet het jou ma was swanger het ek nooit regtig geweet of sy geboorte gegee het nie. Daar was altyd daai onsekerheid."
"Dit is belaglik Meneer. U kon mos maar net navrae gedoen het."
"Sahara, ek weet dit is nie 'n verskoning nie maar ek het in my jonkheid gedink as ek nie daaraan dink nie is dit nie regtig waar nie. Elke keer wanneer die gedagte by my opgekom het, het ek dit opsetlik in 'n ander rigting gestuur.
Ek is so jammer my kind."
"Moet my nie u kind noem nie. Daar moet nog baie water in die see loop. Hoe sou u gevoel het as Lawrence van sy verantwoordelikheid teenoor sy ongebore kind gevlug het? Hoe dink u moet ek voel?"
"Vergewe my asseblief, ek is so jammer, Sahara."
"Hoe het u my opgespoor?"
"Ek het 'n privaatspeurder aangestel om jou ma op te spoor. Dit het maande geneem want ek het nie haar naam geken nie."
"Dit maak nogal seer. Ek het nou die dag ook gehoor u kan nie eers onthou nie. My verwekking was as gevolg van dwelms en drank, maar gaan aan asseblief."
Verlede jaar het ek gehoor dat sy hier in Upington was al die tyd. Ook dat sy net 'n paar maande voor dit oorlede is.
Die privaatspeurder het vasgestel dat sy 'n dogter gehad het wat die ouderdom is as wat my kind sou wees. Haar naam is Sahara Muller, 'n onderwyseres. Omdat jy nie veel op sosiale media is nie het dit 'n tydjie geneem.
Min het ek geweet dat jy Lawrence se Wiskundeonderwyseres was en bedank het. Nog voordat ek vasgestel het dat jou ma hier in Upington gebly het en voordat ek geweet het van jou het ek jou eendag gesien. Dit was by die skool se hek. Ek het Lawrence gaan haal by die skool.
Nie te min, ek het Paul aangestel om jou te vind in die Kaap nadat ek gehoor het jy is Kaap toe. Dit was onstellend om te dink jy was die hele tyd hier by my en toe ek uiteindelik van jou uitvind was jy weg Kaap toe."
"Kan ons nie 'n paar treë agteruit. U sê Paul?"
"Ja, Paul Slingers. Hy woon in die Kaap."
"So die Paul wat eendag kastig my sak gevind het was 'n privaatspeurder, is 'n privaatspeurder?"
"Het julle ontmoet? Hy was veronderstel om deskreet te wees. Julle moes nooit ontmoet het nie. Hy weet nie dat jy my dogter is nie want hy het nie die eerste gedeelte van die ondersoek hanteer nie."
"Nou toe u uitvind en Paul al my besonderhede aan u gegee het, hoekom het u my nie kom opsoek nie?"
"Ek was Kaap toe. Dit was om die finale bevestiging te kry."
"Die dag toe ek julle op die strand in See Punt gesien het."
"Ons gesien het? Jy het ons gesien? Hoekom het jy niks gesê nie? Hoe het jy geweet wie ons is?"
Voordat sy kan antwoord lui die deurklokkie.
"Seker weer Sara my buurvrou. Baie nuuskierig."
Sy stap deur toe. "Wat is dit Antie Sara?"
Die deur gaan oop. Haar hart skop wild.
Dit is Lawrence.
Sarie wens die mense kan nou gaan. Sy wil net rou oor haar dogter. Dit is ironies, hulle is juis daar om te keer dat sy alleen rou.
Willem het intussen ingekom. Regoor Steven en Sarie se kamer steek hy vas. Die brief lê op die kussing. Hy glip vinnig in.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking