#Stukkendeharte Hoofstuk 25 - Rooi Mier
Elton staan vasgenael op een plek.
"Droom ek? Dit moet wees of het ek toegegee aan daai begeerte om weg te kom van al die pyn al is dit net vir 'n uur? Ek onthou ek het verby my ex-verskaffer gery toe die dwelms letterlik my naam roep. Het ek gestop en nou kan ek nie die fantasië van die werklikheid onderskei nie."
Hy maak sy oë toe vir 'n paar sekondes. Sy brein probeer seker maar die pyn verlig. Hy maak sy oë oop. Sy lê nog steeds daar.
Hy begin ander dinge waar te neem. Die tafel is gedek. Die huis lyk ordelik. Hy ruik lugverfrisser. Hy stap nader aan die rusbank. Dit ruik na Jolene. Daardie onmiskenbare geur van die parfuum wat sy dra as sy hom spesiaal wil laat voel.
Hy raak liggies aan haar hare.
"My Jolene is hier. Sy is tuis."
Elton sak op sy knieë en al gebed wat uitkom is baie dankie Here herhaaldelik.
Hy staan op en gaan sit op die bank oorkant haar. Sy trane begin vloei; nie hartseer trane nie, trane gebore uit 'n hart wat uit sy bors wil spring van blydskap.
Elton hou nie boek van tyd nie. Hy sit daar en kyk, te bang sy kan wegraak as hy roer.
Hy is onbewus daarvan dat hy aan die slaap geraak het. Hy maak sy oë oop. Daar is 'n kombers oor hom. Jolene sit regop oorkant hom en glimlag.
"Ek het gedink jy raak nooit wakker nie."
Sy het intussen haar slaapklere aangetrek. Haar hand is uitgestrek na hom toe.
"Kom ons gaan slaap my man."
Die volgende oggend raak hy wakker en hy kyk in haar donker oë wat liefderik na hom staar.
"Jy moet opstaan dit is kerk."
"Nee, ek gaan nie vandag nie."
"Elton my man, jy het nog nooit voorheen 'n diens gemis nie. Ek het gister gesien jy het voorberei om te preek. Pastoor gaan op jou staatmaak."
"Jy weet ook net hoe om my knoppies te druk. Kom ons maak klaar."
Terwyl hulle oppad na die diens is onhou hy dat hy nog nie sy skoonma gebel het met die goeie nuus nie. Dan onthou hy dat sy ook deesdae by hulle dienste bywoon. Miskien moet hy haar verras.
Hulle is effens laat. Die eerste lied word gesing. Dit is 'Turn your eyes upon Jesus'. Dit klink of sommige mense 'n paar woorde vergeet toe hulle instap. Hierdie paartjie is geliefd in die kerk. Almal was verstom toe sy skielik weg was.
Jolene sien haar ma, los sy arm en beduie hy moet aanstap. Sy gaan by haar ma sit. Dié sing gewoonlik toe oë en merk nie dat Jolene langs haar inskuif nie.
Sy maak eers haar oë aan die einde van die lied oop.
"Jolene my kind!" Sy het vergeet sy in die diens. Jolene glimlag, wys met haar vinger op haar lippe en omhels haar ma.
Dit verhoed egter nie 'n "Dankie Vader, U het my gebed verhoor nie."
Die gemeente sing 'Môre sal die son weer skyn'.
Toe dit Elton se beurt is om die preekstoel bestyg sê hy met 'n groot glimlag, "My son skyn alreeds".
Ons woord is vanoggend opgeteken in Psalm 123. Ek lees die eerste twee verse,
"Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon.
Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres — so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is."
Na die diens draai almal rondom hulle en wil groet.
"Oudie, dit was sommer nou woord daai. U mag maar preek." Die ouer broer druk Elton op die skouer as teken van goedkeuring.
Elton het geleer om nooit eer toe te eien nie. " Gee God al die eer."
Jolene lyk bleek en moeg. Elton merk dit op en vra bekommerd, "Is jy okay my vrou?"
"Ek is bietjie moeg."
"Verskoon my mense, ons moet gaan. Ons praat weer Dinsdagaand by die biduur."
Hy sien nie John en Martin wag vir hul beurt om te groet nie.
"Kan ons hulle môre besoek", vra John. Martin knik instemmend.
Tuis sê Jolene, "Ons moet praat my man maar ek is nou te moeg. Kan ek eers gaan rus?"
"Natuurlik Jolene."
Elton is bekommerd. Iets is fout. Sy vrou het gewoonlik dae se energie.
Lawrence se oë is elke paar minute op die horlosie. Hoekom kan die tyd nie so vinnig loop soos wanneer jy 'n sperdatum het om 'n taak in te handig nie? Die paar uur voel soos weke.
Hy het al na Eersterivier Sentrum toe gestap. Hy het al na die stasie toe gestap om na aan Anton te voel. Nog voel die tyd verskriklik stadig, as tyd 'n dier was is dit vanoggend beslis 'n sloth. Elke beweging is in stadige aksie.
Nog so 15 minute dan gaan hy bel. Op die kop 14:00 bel hy.
Sahara het sit en wag vir die oproep.
"Kan my hart nie na my brein luister nie? Dit is jou broer Sahara. Hoekom klop jou hart so wild? Hoe gaan ek 'n gesig tot gesig gesprek hanteer?"
Sy antwoord nog voordat die eerste lui klaar is. Sy probeer so kalm moontlik klink.
"Sahara"
Lawrence sukkel net so om sy opgewondenheid weg te steek.
"Goeie middag. Het jy 'n goeie vlug gehad?"
Hy weet dan nou nie wat om te sê. Sy voorbereiding was verniet.
"Ja, is maar 'n kort vlug."
"Kan ons ontmoet? Ek wil jou graag sien. Daar is iets wat ek van my hart af moet kry."
"Ek sukkel nog om dit te aanvaar Lawrence maar ons moet seker iewers begin."
Waarvan praat sy? Dit klink of sy van iets weet waarvan hy nie weet nie.
"So kan ek jou iewers ontmoet en wanneer?" Lawrence klink hoopvol.
"Ja. Ek woon in Seepunt. Kan jy my môre ontmoet waar julle die anderdag julle voertuig parkeer het toe julle hier op die strand was?"
"Wie?" Lawrence is verward.
"Jy en jou ouers was mos hier op die strand laasweek. Hier is 'n bankie. Ek sal hier wag. Gee my tyd asseblief."
Hoe weet sy? Sy moes hulle gesien het. Hoekom het sy nie kom groet nie? Hoekom het sy my oproepe geïgnoreer na die tyd? Nou is hy nog meer verward.
Hy sê egter net, "Ek is in Eersterivier. Hopelik kan ek 'uber'. Is dié tyd reg of kan ons dit 13:00 maak. Dit is Sondag so ek moet nog weer huiswaarts. Publieke vervoer is sleg op 'n Sondag."
"Reg so Lawrence, dan sien ek jou môre."
Elton gaan loer elke keer of Jolene nog slaap. Laat die middag kom sy dit sitkamer ingestap.
"Elton, ons moet praat."
"Is jy okay liefde? Koffie of sap?"
"Kom sit Elton. Ons kan later koffie drink. Moet my asseblief nie in die rede val nie. Jy wonder seker hoekom ek verdwyn het."
Elton sit doodstil langs haar en luister. Hy hou haar hand vas terwyl hy luister.
Hy druk skielik haar hand hard. Jolene besef dit is onbewustelik.
"Jy maak my hand seer Elton."
"Jammer my vrou."
Hy staan op en loop op en af.
"Kanker sê jy. Ons moet onmiddelik gaan vir 'n tweede opinie. Ek is seker dit is 'n fout."
"Kom sit my man. Gee my kans om klaar te praat."
Elton bly stil maar hy hou aan op en af loop. Eers toe sy verskoning vra omdat sy weggegaan het kom sit hy langs haar. Hy druk haar styf vas.
"Daar is niks om voor vergifnis te vra nie liefde. Ek sou dalk dieselfde gedoen het. Wanneer gaan ons weer die dokter sien?"
"Ons?"
"Ja ons. Dink jy ek gaan nie my vrou ondersteun nie?"
Jolene glimlag. "Dinsdag." Dit is net haar man dié. Hoe kon sy nie sy waarde waardeur jare terug al nie?
"My liefde, ek wil jou ma, Oom John en Oom Martin oornooi vir 'n braai môre, maar net as jy belowe jy gaan absoluut niks doen nie. Hulle was almal so bekommerd oor jou. Belowe? Ek weet jy wil hulle graag sien. So in plaas van oral ry, laat hulle hierheen kom."
"Ek moet seker maar belowe, mits jy nie vir pastoor vergeet nie."
"Ek bel hulle sommer nou. Dit gee Oom John kans om vir Mammie van naderby te bekyk. Het jy gesien hoe loer hulle mekaar?"
"Jy praat van my ma né."
Sy glimlag en gee hom 'n speelse houtjie op sy boud toe hy wegloop om sy sel te gaan haal.
Sy ken haar man. Hy is besig om sy emosies te onderdruk.
"Hoekom Here? Ek het my vrou so baie nodig. Is dit sonde as ek vra dat ek liewer gaan?"
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking