#Stukkendeharte Hoofstuk 21 - Rooi Mier
"Iris, dink jy dit is dieselfde Sahara Muller?"
"Ek weet nie my man. Sahara is nie 'n naam wat jy agter elke bos uitskop nie. Diè Sahara waarna ons soek was op agtien al op universiteit en het 'n graad in onderwys behaal my man. Sy was tops in Wiskunde."
"Presies my vrou. Lawrence se Sahara was sy Wiskunde onderwyseres. Dit kan nie alles toeval wees nie. Paul sal nou vinnig na ons toe moet terugkom. Hy het nog laas gesê hy het inligting oor waar sy haar bevind."
"Sou jy hom nie vandag ontmoet het nie?"
"Ja maar terwyl ons op die Strand was het hy laat weet hy het nog laaste bewyse nodig. Op die foto wat ek hom gegee het was sy nog 'n kind. Hy moet net eers bevestig dat dit dieselfde persoon is."
"Kom ons gaan slaap my man. Môre is nog 'n dag."
Lawrence raak wakker met 'n glimlag. Van vandag af sal hy geen steen onaangeroer laat voordat hy sy hart aan Sahara blootgelê het nie. Hoe langer hy haar nie gesien het nie hoe intenser het sy gevoelens geword.
"As my ouers nie hier was nie het ek beslis nie vandag klasse bygewoon nie. Dit gaan 'n laaaaang dag wees."
Hy is nou spyt dat hulle in die Kaap is en dat hy ingestem het om by hulle te woon vir die week.
Sahara skrik letterlik wakker. Haar alarm irriteer haar vanoggend.
"Hoekom voel ek so moeg?"
Sy sit stadig regop. Skielik kom alles terug wat die vorige dag gebeur het.
"Nee, gister was seker net 'n nagmerrie. Ek het Lawrence gesien. Hy lewe. Hoe het ek nie gesukkel om die pyn van sy dood te verwerk nie. Nou sien ek hom op die strand.
Op die strand met Bennie van Wyk. Is hy my .. Nee, sy kan dit nie verwoord nie. As sy dit doen gaan dit haar liefde vir hom verkeerd maak."
Sy kruip terug in die bed. Sy hoef nie werk toe te gaan nie. Mnr Adriaanse het haar verbied om die week te werk. Sy voel moeg want sy het halfnag wakker geword op die rusbank en sommer met klere in die bed gaan klim.
Sy besluit om op te staan en te stort. Miskien sal sy beter voel. Sy probeer om haar kop te kry om skoon te wees.
Nadat sy klaar gestort het besef sy dit is nie moontlik nie. Sy gaan liewer werk toe. Daar is 'n paar kontrakte waarmee sy vertroud moet raak. Met Mnr Adriaanse weg is dit 'n goeie geleentheid.
"Môre Juffrou Muller. Hoe gaan dit vandag?"
Dit is Elton Daries.
"Goeie môre Meneer Daries. Dit gaan goed. Met u?"
Sy probeer glimlag.
"Ek het fakture gebring van gister se aankope. Gaan jy saam na die brug toe?"
"Nee, nie vandag nie Meneer."
"Reg so."
Elton kan sien alles is nie pluis nie maar dit is nie sy plek nie.
"Sy het 'n baie lieflike persoonlikheid; mens kan nie anders as om van haar te hou nie. Ek wonder waar kom die pyn in haar oë vandaan. Selfs wanneer sy glimlag bly die pyn," dink hy.
In haar kantoor, wat aangrensend aan Martin s'n is, lê 'n foto van Lawrence op haar lessenaar. Sy kyk daarna en druk dit teen haar hart.
Daar is 'n klop aan die deur. Sy sit die foto in 'n laai en sê, "Kom binne Oom John."
Die deur gaan oop. "En hoe weet jy dit is ek?"
Sy probeer glimlag maar skielik loop die trane.
"Ag nee my meisiekind. Wat gaan aan?"
"Wat dit ook al is die Here kan dit regmaak."
Oom John sal vir enigiets bid. Hy glo onwrikbaar. Nadat hy die deur toegemaak het bid hy sonder om verder uit te vra.
"Ek gaan vir jou 'n koppie koffie kry. Lekker sterk."
Bennie laai vir Lawrence by die kampus af. Hy bel onmiddelik vir Paul toe Lawrence wegloop.
"Paul Slingers goeie môre."
"Goeie môre Paul. Bennie hier. Hoe gaan dit?"
"Oraait meneer en u?"
"Ek ook. Hoever het jy toe met jou opdrag gekom?"
"Meneer, ek is nou seker dat dit Sahara Muller is. Ek het gister haar sak in die hande gekry. Haar identiteitsdokument was daarin en ek het haar werksadres, waar sy woon asook haar werkstelefoonnommer en haar selnommer in die hande gekry.
Ek stuur alles per whatsapp."
"Dankie man, jy het puik werk gedoen. Ons gesels weer oor die rekening."
Bennie lui af.
Sahara se kantootelefoon lui. Dit is Meneer Adriaanse maar sy antwoord nog steeds met haar volle naam.
"Sahara Muller goeie middag."
"Goeie middag Sahara. Wat soek jy op kantoor ? Jy luister ook nooit."
Sahara antwoord nie daarop nie.
"Wat gaan aan my kind? Ek is baie bekommerd oor jou."
"Niks nie Meneer."
"Niks nie se voet. Jy kan maar vir my vertrou my kind. Sodra ek terug is gaan ons praat."
"Hoe was Meneer se vergadering vanoggend?"
"Suksesvol my kind. Soveel so dat ek my familie Khomasdal kan gaan opsoek."
"Khomasdal is mos daar in Windhoek? Meneer moet dit geniet."
"Ek maak so my kind."
Paul kan nie die pragtige meisie uit sy gedagtes kry nie. Sahara Muller het kom huis opsit in sy kop.
Hy is nie iemand wat betrokke raak by sy kliënte of die onderwerp nie. As privaatspeurder doen hy wat hy moet en beweeg aan. Hy wonder hoekom Bennie van Wyk in elk geval vir Sahara gesoek het.
"Ek sal maar van Sahara Muller moet vergeet. Net nog 'n werk."
Lawrence kan nie wag om klaar te maak met klas nie. Die dag trek aspris lank. Hy wil haar nie tussen klasse bel nie. Hy weet nie hoe die gesprek gaan verloop nie. Dalk wil sy niks met hom te doen hê nie dan is die gesprek kort. As dit goed afloop dan is dit dalk lank. Natuurlik is hy nie van plan om net tou op te gooi as dinge nie volgens plan verloop nie. Hy gaan veg vir wat syne is.
Hoe mis hy nou nie vir Anton nie. Daai was nou 'n vriend duisend. Hy sal hom nou aangespoor het. Dit is nie maklik om net aan te gaan nie maar hy moet.
Hy hoor glad Anton se stem, " L, is jy 'n man of 'n muis. Jou broek bewe mos nie so maklik nie."
Hy wil net gaan sit onder een van die baie bome op die kampus toe sy sel lui.
"Lawrence, ek is hier."
"Ek kom pa. Gee net 'n paar minute."
Die ou man het gesê hy gaan laat wees. Wat nou. Hy staan traag op en stap na die hek toe. Nou moet hy maar later bel.
Net voor 16:00 bel Martin weer vir Sahara.
"Aangesien jy nie wil praat oor jou probleme wil ek jou stuur na ons Durban of Gqeberha (Afrikaans mense sê glo gee-bier-ha) tak toe. Albei takke het daar kontrakte wat deurgewerk moet word wat die bedrae en getalle betref. Jy is mos goed daarmee."
"Meneer, kan iemand anders nie gaan nie? Ek is nog net vier maande hier. Daphné is mos meer ervare."
"Ons moet in albei stede uitkom Juffrou Muller. Wat jy ook al kies vertrek jy môreoggend. Daphné gaan na die een wat jy nie kies nie."
Hy klink streng en professioneel. Sahara weet dit is net om vir haar duidelik te laat verstaan hy gaan nie 'n nee vat vir 'n antwoord nie.
"Kom kies asseblief nou my kind," sy stem heelwat sagter en vriendeliker. Jy vlug nie van jou probleme nie my kind. Die afstand gaan net meer perspektief gee."
"Oor 'n week of twee is jy weer terug. Beskou dit as 'n klein werksvakansie. Watter een van die twee?"
"Gqeberha Meneer."
"Goeie keuse my kind. Durban is te warm en bedompig.
Admin gaan nog nou vir jou bespreek op die eerste vlug. Die maatskappy het 'n vakansiehuis daar. Iemand sal jou soggens optel vir werk en weer aflaai saans. Gaan huistoe en pak genoeg vir 'n week of twee. Kry perspektief my kind en kom verfris terug."
Sally is besig om op te pak by die werk. Die skoolhoof het 'n dringende verslag wat hy afgehandel wou hê vir môre.
Sy klim op 'n stoel om 'n lêer weer op die boonste rak te plaas.
"Pragtige rokkie, pragtige bene. Kom ek help jou van die stoel af."
"Nee, dit is ok meneer." Sy klim vinnig af. Dit maak haar vreeslik ongemaklik om net in sy teenwoordigheid te wees. As sy sy kantoor kan vermy dan doen sy dit. Sy probeer om so vinnig in en uit te wees as moontlik.
Hoekom vrees sy sy teenwoordigheid as hulle alleen is?
Lawrence kom tuis en skakel onmiddelik Sahara se nommer. Sy loer net vinnig. Dit is 'n vreemde nommer. Haar klere lê op die bed en sy moet nog kies wat om saam te neem.
Miskien is Meneer Adriaanse reg. Sy moet wegkom.
Lawrence word weereens teleurgestel. Wat nog? Hy bel nog twee keer. Mismoedig gooi hy sy sel op die bed.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking