#Stukkendeharte Hoofstuk 52 - Rooi Mier
Almal is vroeg op in die Adriaanse woning. John is op sy knieë voor sy bed. Hy vra dat God met hulle gaan wees en gee dat hulle wyse besluite sal neem.
Hy vra dat reg en geregtigheid sal geskied maar ook dat Max God sal vind. Vir hom is die belangrikste dat mense vrede in God vind.
Martin bid ook. Sy gebed gaan meer daaroor dat God Rachel sal veilig hou deur hierdie hele proses. Dat wat ook al gebeur sy berusting dal vind.
Rachel sit op haar bed. Sy het verskeie kere deur die nag wakker geword en gedink en gedink en gedink; sy sit en dink nou weer, daar is geen duidelikheid. Sy kan maar net hoop sy sal eendag 'n antwoord kry.
John is oppad om sy "familie", soos hy hulle noem, dit is nou die haweloses onder die brug, se kospakkies gereed te gaan kry. Hy gaan vanoggend vir Elton help.
Martin en Rachel is oppad na hul naaste polisiestasie. Hulle vra dat die persoon wat die ondersoek lei oor die saak teen Meneer M, hulle moet kontak. Martin maak dit duidelik dat hy met niemand anders sal praat nie.
Die konstabel wil dat Martin die inligting vir hom moet gee sodat hy dit kan deurgee. Hy het natuurlik sy eie agenda; hy kan dan maak asof hyself hierdie persone opgespoor het en sodoende 'n bietjie eer verwerf.
Martin wil egter niks hoor nie. Hy sê net dit is te sensitief.
Na verskeie oproepe beland hy by die hoofkantoor. Die persoon wat met hom praat verseker hom dat hy sal sorg dat die regte persoon Martin kontak.
Natuurlik het niemand uit die gewone geledere geweet wie dié ondersoek lei nie.
Martin besluit dat hy maar deur die Minister se kantoor moet werk. Hy neem Rachel saam na sy kantoor.
Daar skakel hy die woordvoerder van die minister. Dit het oortuiging gekos om die woordvoerder so ver te kry om 'n belofte te maak dat hulle na hom sal terugkom.
Willem het sy besluit gemaak. Daar is net een manier waarop Steven uitbetaling gaan kry. Hy moet vandag voorlopig in die hof verskyn waar hy moet pleit en borgaansoek.
Hulle gaan hom nou enige tyd kom haal en na die hof toe ry. Dit sal in sy tuisdorp, Carnavon wees. Hulle sal hom in elk geval oorplaas na die selle daar.
Vandag is die dag. Hy gaan vandag opmaak vir al die seer wat hy veroorsaak het. Sy rykdom het aan hom armoede besorg. Net vanoggend het hy in die Bybel gelees, "wat baat dit jy win die hele wêreld maar jou siel ly skade."
Willem het sy siel verloor. Hy was 'n groot verloorder.
By die hof aangekom, word hy en twee ander wat uit die selle in Vanwyksvlei kom begelei deur vier gewapende wagte. Hulle drie is saamgeketting maar het tog genoegsame beweegruimte.
Willem struikel skielik. Een van die wagte probeer verhoed dat hy val. Hy gryp na die wag se wapen. Met sy hande op die wag se wapen pluk 'n ander wag sy wapen uit en skiet hom in die bors.
Willem voel die slag en sterf amper oombliklik. Dit lyk amper of daar 'n glimlag op sy gesig is. Hy het nie homself doodgemaak nie; hy is doodgeskiet.
Steven ontvang 'n oproep terwyl hy by die oop graf van sy dogter staan. Sy broer het probeer ontsnap en is doodgeskiet.
Hy weet nie hoe hy daaroor moet voel nie. Dit is deels as gevolg van Willem dat hy en Sarie nou hier staan. Hulle staan aan teenoorgestelde kante van 'n graf en rou.
In die kerk het die pastoor gepreek oor vergifnis. Hy het genoem hoeveel keer God ons vergewe. Hy het vertel dat Hy Sy Seun geoffer het om vir ons te sterwe. Steven is egter nog nie oortuig nie. Hy voel hy het Willem nog nie genoeg gehaat nie.
Nou het die einste Willem hom ontneem van die kans om te haat. Hoe haat jy iemand wat nie lewe nie? Moet hy nou vir Sarie haat?
Hy kan nie want hy is lief vir haar, tog is hy nog nie gereed om haar te vergewe nie.
Waar Meneer M in Johannesburg sit in 'n nie so gegoede gedeelte van die buurt, Reigerpark wonder hy hoe hulle gehoor het Meneer M sit agter die mensehandel. Daar is iemand binne die organisasie wat uitgepraat het. Niemand weet nou wel wie Meneer M is nie maar hy moet nou vure doodslaan.
Hy bedoel regtig doodslaan. Daar is drie of vier mense wat hy verdink, Twee van hulle was wagte op die plaas buite George. Dan is daar G. Hy het nie juis veel ooghare vir G nie net omdat hy ook net 'n voorletter gebruik. Weet G regtig genoeg?
Dan is daar sy eie dogter, Candice. Hy glo nie sy sou enigiets aan die polisie gesê het nie maar soos die Engelsman sê, " Better safe than sorry."
Hy moet onmiddelik opdragte gee dat hulle gevind en stil gemaak word.
Hy verlang skielik na Rachel. Hy het haar jare laas gesien maar hy kon nie aan haar raak nie. Hy was mos veronderstel om dood te wees. Hy kon haar net op 'n afstand dophou waar sy 'n naweek in 'n luukse hotel 'gewen' het. Natuurlik was hy agter dit. Sy was nog die enigste vrou vir wie hy werklik lief was.
Hy gebruik 'n goedkoop selfoon wat hy net een keer gaan gebruik. Hy gee opdrag dat die vier, Candice, G en die twee wagte afgemaai moet word.
G word uit die hospitaal ontslaan. Hy word egter onmiddelik in 'n voertuig gelaai waar hy na 'n geheime bestemming weggevat word. Hy is onder polisiebeskerming.
Shane het hom reeds ingelig dat sy ma en Yvonne ook op 'n veilige plek is.
Shane ontvang 'n boodskap dat 'n sekere Martin Adriaanse hom dringend wou spreek. Hy het glo meer inligting oor Meneer M. Hy het so pas in Kaapstad aangekom. Hy skakel Martin en reël om hom onmiddelik te gaan sien in sy kantoor.
Hy verkies om alleen te gaan al is daar die moontlikheid dat dit 'n lokval kan wees. Hy vra sy sekretaresse om vinnig meer inligting oor Adriaanse te bekom. Suksesvolle sakeman, in sy kringe word hy as eerbaar beskryf. Hy het sy familie in 'n ongeluk verloor, geheueverlies gehad en vir 'n lang tyd as hawelose onder die halwe brug gewoon. Hy klink skoon maar mens weet nooit.
Shane kom betyds vir sy afspraak. Hy het net Martin verwag omdat dit so sensitief is maar daar is nog 'n dame by. Martin stel haar as Rachel Adriaanse voor.
"U besef die is 'n sensitiewe ondersoek?", sê, vra hy Martin.
"Ja natuurlik, hoe noem ek u?"
"Sommer net Shane asseblief."
"Nou Shane, ons het inligting wat ons dink belangrik is oor die ondersoek. Weet jy al wie Meneer M is?"
Shane is bietjie uit die veld geslaan. Natuurlik kon hulle nog niks regtig vind oor Meneer M nie maar is dit nie dalk 'n manier waarop Martin wil uitvind hoeveel hulle wel weet nie?
"As jy meer inligting het gee dit dan vir my asseblief."
"Sy regte naam is Max Adriaanse. Hy is my broer. Rachel is sy vrou."
Shane sit doodstil. Max Adriaanse? Dit klink bekend.
"Hoe weet ek julle vertel die waarheid?"
"Luister net eers Shane. Hy is volgens Binnelandse Sake dood verklaar 'n paar jaar terug. Hy en sy vrou het in Keetmanshoop gewoon.
Sy kon nie verstaan hoekom hulle daar moes gaan woon nie. Hy het wel een dag oopgemaak teenoor haar en haar vertel van sy ondergrondse bedrywighede. Dit het op sy 'sterfbed' gebeur.
Daar het sy hom begrawe maar die begrafnisondernemer het gesê dat sy kis nie oopgemaak moes word nie weens gesondheidsredes.
Gisteraand het die foto wat u het van hom ons laat besef dat hy lewe. Dit is hoekom ons hier is vandag."
"Sjoe! Dit was nou behulpsaam. Het u enige foto's van hom saamgebring?"
Rachel oorhandig foto's en sy doodsertifikaat. Gelukkig het sy altyd 'n afskrif in haar handsak gedra. Sy weet nou nog nie hoekom nie.
Shane ontvang 'n oproep. Dit moet belangrik wees want dit is sy werksnommer wat ook nie almal ken nie.
Hy vra of hy 'n plek met privaatheid kon kry want die oproep is belangrik. Martin en Rachel los hom alleen. Hulle gaan kry water en besluit op 'n Coke vir Shane uit die kombuis.
Shane sit daar toe hulle inkom.
"Die meisie wat ons gevange geneem het in Beaufort Wes, Candice Williams, is vermoor in haar sel.
Daar was ook 'n ongeluk waar 'n man dood is. Hy word verbind met 'n plaas buite George waar Meneer M, of liewer Max Adriaanse geskuil het.
Ja wat. Jou lewe is nikswerd as jy betrokke raak met dié tipe sindikate."
***
Spreuke 4:14 *Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.
15 Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;
16 *want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie.
17 Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking